Vóór Caster Semenya was sy seker die Suid-Afrikaanse vroue-atleet wat die meeste in die wêreld-kollig was.

Sy het mense aangegryp, in so 'n mate dat plaaslike minibus-taxi's na haar genoem is! Maar nes met Caster is daar ook baie hartseer en tragedie in Zola (Budd) Pieterse se verhaal. Die sukses en oorwinnings, maar ook die eensaamheid . . .

Zola woon deesdae in Amerika, waar sy 'n visum het om vir twee jaar aan wedlope deel te neem.

Amerika, vertel sy, het haar en haar man, Mike Pieterse, onder meer die kans gegee om oor te begin in hul huwelik, sonder mense se geskinder. Die lewe het haar deur die jare geleer om meer selfgeldend te wees. "Jy móét, anders gaan jy onder," sê sy.

As kaalvoet-meisie van Bloemfontein het Zola op 14 haar ouer suster, Jenny, aan kanker verloor. Atletiek het haar gehelp om van die seer te vergeet, maar toe hardloop sy só vinnig dat sy die wêreld laat regop sit en die een rekord ná die ander breek.

In 1984 het sy te midde van groot omstredenheid hier én oorsee onder aanvoering van haar pa en die Daily Mail-koerant in rekordtyd Britse burgerskap gekry (haar oupa was 'n Brit) om aan die Olimpiese Spele in Los Angeles te kon deelneem. Suid-Afrika was toe nog onder sanksies weens apartheid.

In die 3 000 m-wedloop sou dit 'n titaniese stryd tussen Zola en Mary Decker van Amerika wees. Wie sal ooit daardie oomblik vergeet? Die TV-beelde wat oor en oor gewys word van die twee atlete wat teen mekaar bots en hoe Mary val. Die skare wat die jong, Vrystaatse meisie uitjou en hoe sy stadiger hardloop en eindelik sewende eindig . . .

In haar persoonlike lewe was daar ook hartseer. Sy en haar pa, Frank, was weens jare lange botsings só vervreem dat hy nie op haar troue met die sakeman Mike Pieterse was nie. Toe haar pa in 1989 wreed op sy kleinhoewe buite Bloemfontein vermoor is, moes Zola boonop ontdek hy het haar in sy testament verbied om na sy begrafnis te gaan.

Zola se drie kinders is 'n groot vreugde in haar lewe. Maar die hartseer het haar bly agtervolg toe Mike in 2006 in die nuus was oor 'n verhouding met 'n Bloemfonteinse vrou, Pinkie Pelser.

Tog, nes sy nog altyd gedoen het, het Zola ook dié keer met stille vasberadenheid opgestaan en weer haar pad gevind . . .

Waar in Amerika woon julle en hoekom het julle gekies om juis daar te gaan bly?
Myrtle Beach in Suid-Carolina. Dis aan die ooskus van Amerika, ver genoeg van die sneeu, en daar's baie gholfbane.

Hoe pas jou kinders, Lisa (13) en die tweeling, Michael en Azelle (11), aan?
Dit gaan goed met hulle. Hulle is lief vir draf, maar is nog nie atlete nie. Hulle stel belang in musiek en kuns. Michael hou ook van gholf.

Wat doen jou man daar oorkant?
Mike is nog in Suid-Afrika besig en kom kuier net hier.

Jul huwelik is al deur diep waters. Wat het julle laat besluit om weer te probeer?
Amerika het ons die kans gegee om oor te begin sonder mense se geskinder en elkeen se opinie oor wat en hoekom dinge gebeur. Dis veral erg as die grootste skinderstories van jou vriendinne af kom. 'n Huwelik begin met twee mense, maar met kinders is die som van die dele soveel groter as die geheel. Kinders het 'n pa en 'n ma nodig. Dis hoekom ek weer probeer.

Werk jul huwelik nou?
Dit sal net werk, en dit werk ook net, omdat Mike so hard daaraan werk om 'n sukses daarvan te maak. Die feit dat hy soveel insit, maak dit vir my die moeite werd om weer te probeer.

Destyds, toe jy vir 'n paar jaar in Engeland gewoon het, was jy baie ongelukkig. Hoe verskil die Amerikaanse ervaring van daardie tyd?
Dis nou heeltemal anders, want daar's geen politieke druk nie en ek geniet dit baie meer. Amerika is so groot. Ek is net een van nog baie mense wat hol!

Hoe verskil vandag se Zola van tóé se Zola?
Ek het baie verander. Ek kan nou my middelvinger vir mense wys vir wie ek nie voorheen kon nie. Ek het geleer om meer selfgeldend te wees. Jy móét, want anders gaan jy onder. Ek's meer oop en verdraagsaam en sien minder van ander mense se slegte kant raak. Ek probeer mense in hul geheel raaksien.

Wat wil jy vir jou kinders leer?
Ek dink dat jy nooit moet vergeet waar jy vandaan kom nie. Jou wortels is die belangrikste. Dit hou jou vas wanneer al die ander goed om jou vergaan. Hou jou hande en voete in en op die grond.

Jy't in 'n onderhoud met die Vrystaatse radiostasie OFM genoem jou lewe was vroeër ongebalanseerd. Het jy nou meer balans gevind?
Ek sukkel daarmee. Sodra ek dink ek is oukei, val ek weer grond toe. Dis elke dag se storie. Jy kry balans nooit heeltemal reg nie. Jy weet ook of jou lewe in balans is deur hoe ander mense teenoor jou optree. As hulle van jou hou oor jou bankbalans of omdat jy goed hardloop,weet jy jou lewe is uit balans.

Uit daardie onderhoud blyk dit ook hardloop was nooit regtig jou groot passie nie. Dis iets wat bloot gebeur het?
Hardloop was vir my 'n toevlug. Ek het letterlik weggehardloop van die slegte goed in my lewe. Dit het gewerk, totdat ek te vinnig begin hol het!

Hoe vaar jy in die wedlope in Amerika?
Ek het al aan 'n paar plaaslikes deelgeneem en almal gewen. My beste prestasie was 'n vrouewedloop in Columbia in Suid-Carolina waar ek die 8 km-resies gewen het.

Hoe gereeld oefen jy?
Elke dag, tussen 45 minute en 'n uur, op my eie, gewoonlik in die woud naby ons huis.

Jy kyk glo nie regtig sport nie?
Ek haat dit om sport te kyk. Dis doodvervelig om te kyk hoe ander mense hardloop en spring en 'n bal skop. Dit maak van mense couch potatoes! Ek sal eerder CSI of Animal Planet kyk.

Wat geniet jy van jou lewe daar?
Ek hoef niks te sluit nie. Jy kan jou fietse buite op die sypaadjie vergeet of jou voordeur oop laat staan. Die polisie dwing nog respek af en mense gehoorsaam die wet. Amerika word dalk as "the land of the free" beskou, maar hierdie vryheid berus op verantwoordelikheid.

Elke mens moet verantwoordbaar vir sy optrede wees. Hier is so baie vryheid, juis omdat hier reëls en wette is wat streng afgedwing word. Sonder reëls is vryheid net 'n ander woord vir anargie.

Wat mis jy van SA?
Ek mis Afrika se son, die reuk van die veld en die grond ná 'n reënbui, die groot, oop lug, die ruimte en die baie sterre. Ek mis die mense en al hul manewales. Ek mis langlewe-vla, Creme Soda, Vicks-kougom en kaalvoet loop in die straat.

Jy's besig om jou meestersgraad in pastorale sielkunde te doen. Hoe gaan dit daarmee?
Ek's byna klaar. Ek sal graag 'n praktyk in SA wil oopmaak. Ek dink daaraan om ook my doktorsgraad te doen.

Jy't onlangs in die New York Times gesê jy was in Maart die eerste keer by jou pa se graf nadat hy jou verbied het om sy begrafnis by te woon. Het die skuif Amerika toe gehelp om met hom "vrede" te maak?
Ek en my pa het vrede gemaak vóór ons Amerika toe gekom het. Ek slaap nou beter.