Op die webwerf Humans of New York deel ’n taxi-bestuurder, slegs bekend as Meneer Ferrari, die storie van sy ontmoeting met die akteur Tom Hanks ... en nou hou ons sommer nóg meer van Tom.

Sy skof was amper verby en hy was op pad huis toe. Dié New Yorkse taxi-bestuurder was nie lus om nog iemand op te tel nie. Maar hy het toe besluit om een laaste persoon vir die dag op te laai - ’n onbekende man met ’n pet laag oor sy oë getrek.

Maar toe hy eers sy passasier se stem hoor, het hy geweet - dít kan niemand anders wees as die Oscar-bekroonde akteur Tom Hanks nie.

"Toe ons by die eerste verkeerslig stilhou, het ek omgedraai, direk vir hom gekyk en geskree: 'WIIIIIIILLLSSSSSOOOOOOON!!!' [met verwysing na die film Cast Away]. Hy het kliphard begin lag," vertel die taxi-bestuurder aan E! Online.

Tom het opgemerk dat die bestuurder ’n hemp én pet met die Ferrarri-embleem aan het, en het hom Meneer Ferrarri begin noem.

FOTO: Instagram @humansofny FOTO: Instagram @humansofny

Ná die eerste ontmoeting het Meneer Ferrari vir verskeie bekendes gesê dat as hulle vir Tom Hanks sien, moet hulle sê dat Meneer Ferrarri groete stuur.

Uit die bloute het hy ’n SMS van Tom ontvang wat hom na sy Broadway-opvoering, Lucky Guy, nooi. Die taxi-bestuurder en sy vrou het dié vertoning bygewoon en vir Tom agter die verhoog gaan ontmoet.

Wel gedaan, Tom!

Plat voet, ontmoet Oprah

Volgens die skinderwebwerf TMZ het een van Oprah Winfrey se bewondenaars haar "per ongeluk" ontmoet. Tydens ’n aandjie uit het Lori Geller Bender, wat op pad was na die Prime 112 restaurant in New York, gesien hoe Oprah die gebou verlaat en in haar kar klim.

Die oomblik sou van korte duur gewees het as Oprah se bestuurder nie oor Lori se voet gery het nie. Vinnig het die bestuurder gestop, en Oprah het uitgespring om te kyk of die vrou seergekry het.

Volgens Lori wou sy nog altyd vir Oprah ontmoet het, maar nie gedink dat dit op hierdie manier sou gebeur nie.

Bron: E! Online, TMZ, Humans of New York