Die rol van Lien word vertolk deur Carmen Pretorius, wat onlangs te sien was as Cinderella in Janice Honeyman se gelyknamige pantomime. Ander bekende akteurs in die prent is Franci Swanepoel en Hykie Berg. André Odendaal is die regisseur.

Die boek waarop die film gebaseer word, is geskryf deur Derick van der Walt. Dit was sy debuut as skrywer en hy het in 2008 die Goue Sanlam-prys vir jeuglektuur en in 2009 die M.E.R.-prys vir jeugboeke daarmee gewen.

Dis die aangrypende verhaal van ‘n tienermeisie wie se gesin uitmekaargeskeur word deur ‘n egskeiding. Lien Jooste moet aanpas in ‘n nuwe skool, met ‘n ma wat ‘n hengse drankprobleem ontwikkel het en ‘n jonger broer wat versorg moet word. Sy het nie eintlik ‘n ondersteuningsnetwerk van vriende en familie nie, maar stadigaan raak ander mense betrokke by haar dilemma.

Sy self maak ongewone planne om geld te verdien. Dit lei tot vreemde vriendskappe wat haar help om haar trauma te verwerk. Een van dié vriendskappe is met Roos, wat op ‘n straathoek staan en bedel wanneer Lien ook gaan bedel om haar gesin geldelik te help versorg.

Cawood sê hierdie rol is vir haar verfrissend, veral ná die uitputtende rol wat sy in Katinka Heyns se film oor die lewe van Eugène Marais gespeel het. Dié prent word ook later vanjaar vrygestel.

“Roos het ‘n baie goeie hart en hoewel sy Lien eers verwilder van haar staanplek af, ontferm sy haar tog oor Lien en bou ‘n verhouding met haar op. Ek sal sien hoe ek die rol van Roos gaan interpreteer. Ek skep op die oomblik maar my eie idee van haar uit die draaiboek uit. Ek sien uit daarna om weer saam met André Odendaal te werk. Hy is ‘n droom-regisseur. Hy kyk baie goed na ons akteurs.”

Verfilming behoort teen einde Maart klaar te wees en die rolprent word in Junie uitgereik.

Kyk dié onderhoud met skrywer Derick van der Walt: