Gisteraand was die bekendstelling van die nuwe Afrikaanse musiekprent As jy sing. Dié glansryke aand kon maar netsowel in Hollywood gewees het, met sterre wat in hul prag-uitrustings en breë glimlagte op die rooi tapyt gepronk het...

Fanie Cronjé, styl- en sosiale redakteur van SARIE, en die voormalige Mej. SA Melinda Bam het die bekendes verwelkom. Skerms is by die Ster-Kinekor-teater in Brooklyn Mall in Pretoria, waar dié geleentheid gehou is, opgerig sodat almal die rooi tapyt kon sien.

Vervaardiger Johan Vorster, regisseur André Odendaal, Bobby van Jaarsveld en sy vrou Annatjie, Karlien saam met manlief Derick Hougaard, Corine du Toit, Bok van Blerk en Hanna Grobler was net ’n paar van die bekendes wat oor die rooi tapyt geloop het.

Groot première vir nuwe Afrikaanse prent ‘As Jy Sing’ – boek jou kaartjie nou!

Ons eie Giuliana Rancic en Ryan Seacrest, Melinda Bam en Fanie Cronjé, het onderhoude met al die bekendes op die rooi tapyt gevoer. Ook met die jong sterre van die fliek, wat gaan oor ’n groep skoolkinders wat aan ’n sangkompetisie deelneem.

Franja du Plessis, Chanell van den Bergh en San-Marie Nel het die aand dieselfde glans en elegansie as Hollywood se jong sterre Demi Lovato, Taylor Swift en Selena Gomez uitgestraal. Georic Lomas, wie se karakter verlief is op die karakter van Franja, het self aantreklik gelyk. Om nie te vergeet van rugbylegende Naas Botha nie! Hy het ’n klein rol in die fliek waar hy homself speel. Ander bekendes wat hul verskyning in die fliek maak, is Juanita du Plessis en Dewald Wasserfall. Robbie Wessels speel ook in die fliek. Dis egter nie net die fliek se sterre wat gisteraand se spesiale geleentheid bygewoon het nie. Angelique Gerber, Riana Nel, Steve Hofmeyr en SARIE se voorbladgesig Marike Nel was ook daar.

Ná die rooitapyt-geleentheid het al die gaste die fliek, met ’n heerlike klankbaan en ons gunsteling-sterre se beste toneelspel in die verskillende rolprentteaters gaan kyk. Dis ’n regte goed-voel-fliek in die styl van die Amerikaanse Camp Rock en die televisiereeks Glee. Die jong sterre se talentvolle spel en sang het bewys dat daar nog ’n blink toekoms vir die Afrikaanse rolprentbedryf is!

SPESIALE VOORSKOU: Wat dra die sterre vanaand by die ‘As jy sing’-premiére + hulle Hollywood-eweknieë!

Fanie Cronjé, SARIE se styl -en sosiale redakteur, het die volgende oor 'n paar van die uitrustings gesê:

Leah:

"Leah het pragtig gelyk. Sy het die perfekte kleur vir haar gelaat en blonde hare gedra - haar oë het só mooi gelyk!"

Melinda Bam:

"Melinda het perfek gelyk. Die rok was beslis van baie goeie gehalte en het perfek by haar én die geleentheid gepas. Daar is eintlik nie veel om hoor haar te sê nie, die foto's van haar sê alles."

Corlea Botha:

"Sy het vir my regtig baie mooi gelyk. Die rok het beslis haar figuur gevlei."

Annatjie van Jaarsveld:

"Annatjie het ook vir my uitgestaan. Alles het net so mooi bymekaar gelyk, die rok met daardie spesifieke oorbelle en haarstyl. Ek was mal oor die hele look."

Karlien van Jaarsveld:

"Karlien se uitrusting was opwindend en kreatief en glad nie soos haar vorige Anel Botha-uitrustings nie. Dit lyk asof Karlien al hoe meer volgens haar eie idees en smaak begin aantrek."

Wees op die uitkyk vir As jy sing wat op 15 November landswyd begin draai en maak seker jy mis nie die nuwe ster, Leah, in hierdie rolprent nie.