Hy speel die rol van Jakobus van Aswegen, ’n Boere-kommandant wat besluit om eerder terug te gaan na sy plaas en te keer dat sy gesin in ’n konsentrasiekamp beland as om aan te hou veg teen die Engelse. “Ek verstaan die tweestryd in die karakter, want ek sou ook huis toe gegaan het as ek hy was,” sê Gys.
Maar Jacobus se vrou, Gerda (Rika Sennett) stem nie saam met sy keuse nie. Sy voel verneder deur haar man se besluit om die wapens neer te lê het en dit sorg vir baie konflik. Dis die eerste keer dat Gys en Rika teenoor mekaar speel. “Die tyd is reg,” sê hy.
Op die stel, ’n oop veld op ’n plaas naby Bronkhorstspruit buite Pretoria, loop Gys gemaklik rond met sy geweer en outydse klere (“dis warm, maar dis lekker”) en lyk na ’n behendige ruiter op sy wit perd. “Ek het voor die tyd vir twee halfuur lange perdry-lesse gegaan en ek en Babaloo (die perd) het so drie ure gaan ry voor ons begin verfilm het.”
Vir navorsing het hy na baie foto’s van mense gekyk wat destyds in die oorlog geveg het. “Ek wou sien wat lê in hul oë, hoe hulle na die wêreld gekyk het.”
Dis vir Gys “wonderlik” om weer saam met Paul Eilers, regisseur, te werk. Paul het Gys destyds, in 1983 sy eerste TV-hoofrol in ’n program genaamd James gegee, vertel hy.  
Van die ander akteurs in Verraaiers sluit onder andere in Andrew Thompson, Deon Lotz, Beaté Olwagen en Albert Maritz. Dit sal na verwagting volgende jaar Februarie <2013> in teaters begin draai.