Inspirasie is waarvoor SARIE staan en min dinge is so inspirerend soos ons land se boere en hul unieke stories.

Die mans en vroue wat na aan die grond leef en werk met elke seisoen se goedheid en guns. Wat kos op ons tafel sit en omgee, skep en weer probeer. Wat verlies ervaar en vreugde vier. En hoop, bly glo.

Dis hul verhale wat verlede jaar tot die projek Ons Boere, Ons Inspirasie gelei en die SARIE-span na die Noord- en Wes-Kaap geneem het.

Want ons het geweet elkeen het nóg ’n storie om te vertel – een geanker in vele drome, passies en belangstellings. Hulle is boere, ja, maar ook musikante, wêreldreisigers, kunstenaars, entrepreneurs en filantrope. Kleurryke 360-mense. Vanjaar is dié projek groter en reis ons verder.

Saam met kykNET, GWK, McDonald’s en John Deere besoek ons 13 plase vir 13 episodes van die splinternuwe kykNET-reeks Ons Boere, Ons Inspirasie.

Elke program sal die kollig laat val op ’n boer wat ’n storie het om te vertel en ’n eie stukkie inspirasie deel. Daardie inspirasie sal SARIE vasvang in ’n portret van wêreldgehalte wat net in die tydskrif verskyn en ooreenstem met die televisie-episode.

Eloise Pretorius, bekende radio-stem, sal vir die eerste keer as aanbieder voor die kameras verskyn saam met medeaanbieder Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur en ’n bekende op TV.

 Eloise Pretorius en Fanie Cronjé
Eloise Pretorius en Fanie Cronjé

Hou SARIE van November 2019 tot Januarie 2020 dop en leer ken ons boere en hul mooi wêreld!

Ons Boere, Ons Inspirasie is vanaf 3 Oktober Donderdagaande om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.