“Hulle het nie eers drama op skool gedoen nie,” sê Rika laggend, “en nou is Hannah besig met haar meestersgraad in drama!”
Hannah speel Rika se dogter in die fliek Verraaiers, wat afspeel in 1901 in die tyd van die Anglo-Boereoorlog. Dis die eerste keer dat ma en dogter saam toneelspeel. “Dit was vir my so ’n verrassing toe ek hoor hulle het haar gekies vir die rol. Nou ervaar ek haar as ’n kollega en volwassene. Dis ’n totale lekkerte,” sê Rika.
Sy geniet ook haar rol as Boervrou Gerda van Aswegen, vir wie dit baie erg en vernederend is wanneer  haar man, Jacobus (Gys de Villiers), besluit om terug te keer na hul plaas om hul gesin te beskerm pleks van om aan te hou veg teen die Engelse. “Tot dusver was dit regtig wonderlik om in die fliek te speel,” vertel Rika op die stel in ’n veld op ’n plaas naby Bronkhorstspruit, buite Pretoria. “Stories wat spruit uit ware gebeure, raak altyd my hart. Ek kan my net indink wat hierdie mense moes deurmaak.”
Die feit dat sy ter wille van die fliek baie tyd in die son en in die veld moet deurbring, is nie vir haar ’n opoffering nie. “Dis so lekker om in ’n ander wêreld in te stap. Ek is mal oor al die plaasgeluide.”
Verraaiers is geïnspireer deur die boek Boereverraaiers deur Albert Blake. Dit sal na verwagting in Februarie volgende jaar <2013> in fliekteaters begin draai.