Hollywood het ’n nuwe paartjie – aktrise Sofia Vergara en die True Blood-akteur Joe Manganiello is nou saam, berig Hello!.

Dié twee het in Mei vanjaar mekaar by ’n funksie by die Withuis ontmoet. Sofia was toe nog verloof aan die besigheidsman Nick Loeb. Hul verlowing is intussen verbreek.

’n Paar maande later lyk dit of die liefde blom tussen die Modern Family-aktrise en die fiksheidsentoesias Joe.

“Die verhouding is baie, baie jonk”, het ’n bron aan Us Weekly bevestig. “Hulle geniet mekaar se geselskap en leer mekaar nou ken.”

 joemanganiello FOTO: Instagram joemanganiello

Nog voordat hulle op ’n afspraak gegaan het, het die 37-jarige Joe aan die media erken dat Sofia (41) sy droomvrou is. Ons wonder of dít haar oortuig het om Joe ’n kans te gee.

Hy het tydens ’n onderhoud met People gesê toe hy gevra is wie sy "crush" is: “Jy gaan my in die  moeilikheid laat beland. Ek wil nie ’n huis opbreek nie. Die persoon is verloof ... Sy het mooi kurwes, sy het ’n mooi gesig, mooi hare, net pragtig. ’n Natuurlike skoonheid. Sy is vurig." Hy het van Sofia gepraat.

Sofia en Nick het van 2010 tot 2014 ’n aan-en-af-verhouding gehad. Nadat hulle in Mei vanjaar uitgemaak het, het sy op haar Who Say-profiel aan haar aanhangers verduidelik waarom sy die verhouding beëindig het: “Ons het te veel probleme … dit het al hoe erger geraak.”

Joe het in Januarie met die model Bridget Peters uitgemaak.

En as ons na Joe se Instagram-profiel kyk, verstaan ons waarom hy Sofia se knieë lam maak.

Bronne: Hello! , Us Weekly, en People