Die troufotograaf is een van die belangrikste mense op jou troudag - jy wil immers jou foto's vir ewig kan koester ...

Skillie en Tehillah van Kikitography is van die gewildste troufotograwe in die land. Dié twee, wat ’n getroude paartjie is, het selfs Melinda Bam en Adriaan Bergh se verlowingsfoto's geneem. Hulle deel hul top-10 wenke vir die perfekte troufoto's met ons.

Alle foto's is geneem deur Kikitography

  • Wenk 1: Kies ’n fotograaf by wie se werk en persoonlikheid jy aanklank vind. Dis baie belangrik om goed oor die weg te kom met jou fotograaf, want die persoon bestee ’n groot gedeelte van jou (baie belangrike) dag saam met jou.

    FOTO: Kikitography FOTO: Kikitography

  • Wenk 2: As dit jou smaak of styl is, kyk gerus na ’n blommekrans of ander interessante bykomstighede vir jou hare. Dit lyk altyd baie mooi op troufoto's en gee jou fotograaf nóg opsies. Blommekranse is op die oomblik baie in die mode, veral dié met regte blomme!

  • Wenk 3: Tydlose foto's is belangrik - jy wil nie oor ’n paar jaar terugkyk en dink "Wat het ek gedink?" nie.  Bly weg van vreemde bykomstighede en maak seker jou fotograaf vind ’n balans tussen kreatiewe en tydlose foto's.

  • Wenk 4: As jou fotograaf ’n assistent (second shooter) het, vra hom of haar om foto's van die gaste te neem terwyl jy en die bruidegom weg is by die amptelike fotosessie. Dít is ’n tyd wat gaste geniet, speletjies speel en lekker eet. Jy mis dié tye gewoonlik op jou foto's. Dis lekker om terug te kyk na wat jou gaste aangevang het terwyl jy en jou bruidegom weg was.

    FOTO: Kikitography FOTO: Kikitography

  • Wenk 5: Vra vir jou bruidsmeisies om ’n lys van die spesifieke familiefoto's wat jy wil hê byderhand te hou. Gee dié lys sommer vir jou fotograaf ook. Dit spaar tyd om almal bymekaar te kry en verseker dat almal wat jy graag op die foto's wou hê, afgeneem is. Praat al vóór die troue hieroor met jou fotograaf.

  • Wenk 6: Reël ook dat jou bruidsmeisies ’n grimeersakkie byderhand hou om jou grimering ná die seremonie op te knap - net vir ingeval. Lipstiffie en onderlaag is ’n moet vir dié sakkie.

    FOTO: Kikitography FOTO: Kikitography

  • Wenk 7:  Maak seker jy gaan vir ’n proeflopie van jou grimering en neem ’n foto daarvan. Kyk later weer daarna en maak seker jy is gemaklik met hoe jy lyk.

  • Wenk 8: Beplan genoeg tyd op die dag vir jou hare en grimering. Wees omtrent ’n uur voordat jou fotograaf opdaag gereed. Dan steel dit nie die tyd wat vir portretfoto's beplan is nie.

  • Wenk 9: Maak seker alles sit gemaklik wanneer jy jou rok vir die laaste keer pas. As jou rok ’n hoepel het, kyk dat jy dit nie vastrap nie en dat jy vrylik kan beweeg en sit. Dieselfde geld jou trouskoene - loop hulle in as dit nodig is!

    FOTO: Kikitography FOTO: Kikitography

  • Wenk 10: Bespreek ’n vooraf-fotosessie by jou fotograaf en kyk hoe hy of sy werk! Dit maak jou sommer baie meer gemaklik vóór die groot dag.

    FOTO: Kikitography FOTO: Kikitography

Besoek Kikitography se webblad om nóg van hul foto's te sien

Nóg in SARIE.com se Bruid-afdeling