Watter tendense gaan in 2020 kop uitsteek?

Volgens die ontwerper Lena Lisa, wat een van Donnalee Roberts se trourokke gemaak het, gaan die fokus wees op eenvoudige detail met klassieke elemente. “Bruide gaan meer waag. Hulle gaan wegbeweeg van spierwit en meer met neutrale kleure speel.” 

FOTO’S Facebook en Aglow Photography

Lena Lisa reken ons gaan meer dramatiese of lang sluiers sien. “Rokke wat aangepas word van die seremonie tot die onthaal raak gewild.” 

Janita Toerien, wat die aktrise Cintaine Schutte se trourok geskep het, stem saam.

“Bruide begin gemak verkies en sal selfs hul balrok gedurende die onthaal vir ’n korter of meer noupassende romp verruil.” Sy reken moue gaan gróót wees. “Moue is terug. Ons is veral opgewonde oor ballonmoue.” 

FOTO’S Darren Bester (links) en Jenni Elizabeth

Die ontwerper Olga-Maré Möller, wat al rokke vir Rolene Strauss, Mej. Wêreld 2014, ontwerp het, reken geborduurde detail gaan ’n groot fokuspunt wees.

“Vir 2020 voorspel ek wasige trourokke met volume aan die onderkant of by die moue. Die waaghalsiger bruid se rok sal tekstuur hê in die vorm van delikate borduurwerk, kralewerk of sagte vere. Maar ons sal steeds eenvoudiger style ook sien, rokke met skoon lyne sonder fieterjasies.”

FOTO’S Pritti Migneon Marais en Instagram / Rolene Strauss

Suné Snyman, wat die aktrise Simoné Nortmann se trourok ontwerp het, is ewe opgewonde oor moue.

“Aksent-moue het reeds einde 2019 gewild begin raak en dit gaan vanjaar ’n groot tendens wees. Sluiers gaan meer detail hê, soos woorde of pêrels wat daarop geborduur word. Bruide gaan ook meer met kleur speel, soos grys, pienk en selfs swart!”

Sy reken die afskouerstyl gaan ook gewild wees. “En bruide gaan wegbeweeg van krone en kopstukke dra.”

FOTO’S WhatsApp en Shanay Greene Photography

Raad vir bruide

Janita meen alle bruide moet getrou wees aan hulself. “Dit is jóú troudag en jou rok moet ’n uiterlike weerspieëling wees van wie jy binne-in is.”

Olga-Maré raai bruide aan om verskillende style aan te pas. “Soms is die vooropgestelde idee van ’n rok wat vir jou mooi is, nie noodwendig die een wat die mooiste aan jou gaan lyk nie, so wees oop vir verandering. Maar geniet die proses en luister na jou hart, jy ken jouself.” 

Bruide kan gerus na plaaslike ontwerpers se rokke kyk, sê Lena Lisa. “Dit gee ’n goeie idee van materiaal wat beskikbaar is. En probeer ontwerpers vertrou, veral hul idees om jou eienskappe te beklemtoon, tydlose ontwerpe ontstaan so. Elke ontwerp is prosesgedrewe, laat jou ontwerper jou lei om jou uniekheid na vore te bring.”

Suné se raad aan bruide is om hul rok se kleur volgens hul velondertoon te kies. “Jou eerste idee is ook dikwels jou beste idee.”