Die woord “wittebrood” is genoeg om idilliese beelde van wit strande, turkoois water, eksotiese boslandskappe, dromerige sonsondergange, en ultra-luukse akkommodasie in jou geestesoog op te roep. Maar in 2020 is die wêreld en die troubedryf tot stilstand gedwing. Daar is ook nog geen sekerheid wanneer Suid-Afrikaners weer na die buiteland kan reis nie. Juis, daaroor is dit dalk tyd om ’n kopskuif oor wittebrood-bestemmings te maak. Plaaslik, trots Suid-Afrikaans is jou antwoord.

SARIE het by LekkeSlaap gaan ingeloer om ’n lys van Suid-Afrika se gunsteling-wittebroodbestemmings saam te stel. 

7 plekke om as pasgetroudes te besoek

1. Waterberg

Hierdie besonderse area in Limpopo, wat die skrywer en digter Eugène Marais inspireer het, is ’n perfekte wittebrood-bestemming. Die berglandskap en ryk bosveldse plantegroei is genoeg om jou van die wêreld daarbuite te laat vergeet. Spandeer jou dae in die veld – van roetes teen bergpieke uit, tot die kans om in natuurlike watergate te swem, wildritte tot ’n glasie Amarula in ’n oneindigheid swembad met ’n asemrowende uitsig.

Wat beveel LekkeSlaap aan? Letlapa Pula Game Farm Stone House

View this post on Instagram

#autumnsunset #letlapapula #letlapagamereserve #limpopo

A post shared by Letlapa Pula (@letlapapula) on

2. Tuinroete

Die tuinroete, aan die suidkus van Suid-Afrika, strek vir 300 km – die perfekte paartjie wat ’n roadtrip wil behartig. Tsitsikamma, Plettenbergbaai, Knysna, Nature’s Valley, en Mosselbaai is net van die mooie bestemmings wat romantiese opsies bied vir beide bosliefhebbers én paartjies wat begeer om dag en nag op die strand te wees.

Wat beveel LekkeSlaap aan? Forest Valley Cottages  

3. Kaapse Berge

Die Kaap bied veel meer as wynlandgoedere en see - areas soos die Langeberge se landskap van berge en fynbos is perfek vir paartjies wat vir ’n paar dae van die wêreld wil ontsnap.

Wat beveel LekkeSlaap aan? Wolwehoek Private Reserve

4. Magoebaskloof

Tussen Tzaneen en Polokwane lê nog een van Limpopo se versteekte paradyse: Magoebaskloof. Dié subtropiese lushof is perfek vir paartjies wat aktief is, met stap- en fietsryroetes deur natuurlike woude en langs bergstrome en riviere. Besoek ’n bierbrouery of ’n plaaslike kaasfabriek, ry vir die dag na Tzaneen om te sien hoe rooibos verbou word, of besoek die toeriste-dorpie Haenertsburg, waar die begraafplaas ’n ongelooflike uitsig bied.

Wat beveel LekkeSlaap aan? The Stable and Loft @ Glenogle Farm

5. Kaapstad

Die toweragtige miswolke oor Tafelberg, romantiese sonsondergange in Kampsbaai, helderkleurige strande rondom Muizenberg en luukse restaurante in die Waterfront lok toeriste van regoor die wêreld. En vir ons Suid-Afrikaners bly Kaapstad ons Moederstad, ’n bestemming wat nooit teleurstel nie! Hier kan jy die meeste van jou wittebrood maak met besoeke aan die nabygeleë wynlande, dae op die strand, staproetes om Tafelberg en oggendkoffie by van ons land se top koffie-brouers.

Wat beveel LekkeSlaap aan? Tintswalo at Boulders

6. Karoo

Lae koppies, hoë berge, en plat vlaktes word bedek deur bossieagtige plante om een van ons land se geliefdste streke te vorm: Die Karoo. Boonop is die Karoo ook ver van die stad se gejaag.

Wat beveel LekkeSlaap aan? Tierkloof Mountain Cottages 

7. Bosveld

Gaan slaap met die geroep van die reuse ooruil in jou ore, geniet ’n glas wyn soos die olifante in die watergat baljaar en gaan op ’n wildsrit om die Groot Vyf van nader te aanskou. Boonop is die bosveld se weer reg deur die jaar matig – ideaal vir ’n wittebrood in die somer óf in die winter!

LekkeSlaap beveel aan: Ngama Tented Safari Lodge 

Moenie vergeet van die Wildekus (Oos-Kaap), Drakensberge (Kwa-Zulu Natal en Vrystaat) of selfs die Weskus (Wes-Kaap) nie – almal plekke wat jou sal help om vir ’n paar dae te ontsnap.

As jy steeds nie seker is waarheen jy vir jou romantiese wegbreek moet gaan nie, vra jouself die volgende vrae: 

  • Wat is julle idee van romanties?
  • Van watter aktiwiteite hou jy en jou verloofde?
  • Wanneer wil julle weggaan?
  • Hoe lyk jul begroting?

Vir meer trou-inspirasie, gaan na SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste.