Die beeldskone Demi-Leigh Nel-Peters het gister verloof geraak aan die Amerikaanse sportster Tim Tebow.

"Dankie dat jy ja gesê het en dat jy my die gelukkigste man in die wêreld gemaak het. Jy is die liefde van my lewe en ek kan nie wag om die res van my lewe saam met jou te spandeer nie," het Tim op Instagram geskryf. 

FOTO Instagram/ Tim Tebow

Hy het die groot vraag op sy ouers se plaas buite Jacksonville, Florida, gevra. Vriende en familie van Demi-Leigh was by om die spesiale geleentheid te vier, met die Suid-Afrikaanse sanger Matthew Mole wat sy "The Wedding Song" vir hulle gesing het.

Demi-Leigh se ring het ’n solitêrdiamant van 7,25 karaat, maar meer het hulle nie verklap nie.

Ons dink terug aan ander bekendes en hul verloofringe:

Rolene Strauss

Die beeldskone voormalige Mej. Wêreld het in 2015 verloof geraak aan haar liefde van baie jare, D’Niel Strauss. Aan haar vinger het ’n pragtige ring met ’n ovaalvormige diamant van 1,25 karaat gepronk. Die paartjie is in 2016 getroud.

FOTO’S Daniel Saaiman (Rolene Strauss) en Instagram

Meghan Markle

In 2017 het die Amerikaanse aktrise verloof geraak aan haar rooikopprins, Harry. Haar verloofring bestaan uit drie diamante, waarvan die grootste 5 karaat is.

FOTO’S Getty Images/ Gallo Images

Grace Kelly

Die Oscar-wenner het in 1956 haar verlowing aan prins Rainier III van Monaco aangekondig. Haar tydlose ring het uit ’n enkele diamant van 10,7 karaat bestaan.

FOTO’S Getty Images/ Gallo Images

Kate Middleton

In 2010 het die Engelse roos verloof geraak aan prins William. Aan haar vinger was die ring van wyle prinses Diana, William se ma. Die ring het ’n blou saffier van 12 karaat wat met 14 klein diamante omring is. 

FOTO’S Getty Images/ Gallo Images

Kim Kardashian

In 2013 het die realiteitster verloof geraak aan die kletsrymer Kanye West. Haar ring bevat ’n yslike diamant van 15 karaat.

FOTO’S Getty Images/ Gallo Images

Melania Trump

Die Amerikaanse presidentsvrou het in 2004 aan Donald Trump verloof geraak. Aan haar vinger was ’n knoets van 15 karaat. 

FOTO’S Getty Images/ Gallo Images

Beyoncé Knowles

Die Grammy-wenner het in 2008 aan die kletsrymer Jay-Z verloof geraak. En die ring? Die diamant is nie minder nie as 18 karaat!

FOTO’S Instagram (Beyoncé) en Getty Images (ring)