Omtower jou vel, wenkbroue en tande met dié skoonheidsbehandelings perfek vir ’n bruid. 

Uit die jongste SARIE Bruid, nou te koop, deel SARIE se skoonheidsredakteur, Monica Pienaar, die perfekte behandeling vir elke bruid.

Daaglikse velsorgroetine en gereelde gesigbehandelings is die boustene vir ’n gesonde, stralende vel op jou troudag. Maar soms is ekstra hulp nodig om moeiliker kwessies soos pigmentasie, ’n vaal gelaat, gebarste aartjies onder die veloppervlak of selfs yl wenkbroue te behandel. Gelukkig is daar ’n rits skoonheidsbehandelings wat jy kan probeer vir vinnige, doeltreffende resultate.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Vir jou vel:

Chemiese afskilferingsbehandeling (peel)

HOE WERK DIT?

Tydens ’n chemiese afskilferingsbehandeling word ’n produk met ’n hoë konsentrasie sure gebruik om ’n aantal lae van jou vel te verwyder. Hoe hoër

die suurkonsentrasie van die produk, hoe dieper werk dit.

BESTE VIR:

Die verbetering van knoppies en aknee, fyn lyntjies en plooie en om pigmentasievlekke weg te skaaf sodat dit ligter lyk.

OM TE WEET:

Meer as een behandeling is gewoonlik nodig vir die beste resultate, veral as jy pigmentasie het. Probeer om so drie maande of meer voor jou troudag te begin. Jy kan tot twee weke voor jou troue nog vir ’n chemiese afskilferingsbehandeling gaan.

PRYSE VANAF: R350

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Vir jou wenkbroue:

Microblading

HOE WERK DIT?

Microblading is ’n tegniek wat tatoeëerkuns inspan om jou wenkbroue voller te laat lyk. ’n Opgeleide terapeut gebruik ’n spesiale pen met fyn naaldjies

om mikro-snytjies in die epidermis (die boonste deel) van jou vel te maak, waarna pigment in die vel geplaas word. Die fyn lyntjies lyk net soos haartjies en die eindresultaat is semi-permanent en lyk natuurlik en subtiel.

OM TE WEET:

’n Verdowingsroom word eers aangewend sodat die behandeling nie te pynlik is nie. Die meeste mense moet ook vir twee afsprake gaan. Laat doen dit so drie maande voor jou troue sodat dit mooi kan gesond word.

PRYSE VANAF: R1 650

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Vir jou tande:

Tandbleiking

HOE WERK DIT?

Almal wil met pragtige wit tande op hul troudag spog. Gelukkig is dit deesdae makliker as ooit om jou tande sommer self tuis te bleik. Die One Smile-tandbleikstel kom met drie buisies bleikjel en ’n spesiale tandskerm met ’n blou LED-lig vooraan. Jy spuit die bleikjel in die skerm, skakel die lig aan en plaas die skerm bo-oor jou tande vir 10 minute. Die bleikmiddel word dan met die koue, blou lig geaktiveer.

OM TE WEET:

Tandbleiking is onvoorspelbaar, want elke mens se emaljestruktuur verskil. Begin sowat drie maande voor die troue ingeval jou tande sensitief word of moeiliker bleik.

PRYS: R890.

Beskikbaar by www.onesmile.co.za of by uitsoektandartse en -estetiese klinieke.

Vir nog behandelings en ander slim wenke koop die SARIE Bruid.

Nou te koop!