Toe die rolprentmakers Donnalee Roberts en Ivan Botha onlangs afgehaak het, het hulle oor twee dae op Blaauwklippen buite Stellenbosch ’n bruiloffees gehou. Die Vrydag was hul huweliksbevestiging en onthaal met bekendes soos Simoné Nortmann, Amalia Uys, Danie du Toit van Spoegwolf, Nico en Christi Panagio onder die gaste. Die Saterdag was daar ’n intieme langtafel vir hul naaste familie en vriende. Vir dié spesiale ete is die glaskatedraal op die landgoed met honderde liggies en kerse, tulpe, pinksterrose en bessies in herfskleure versier.

Natuurlik was alle oë op die bruid. Haar twee trourokke het Donnalee se styl volmaak vasgevang: romanties, klassiek, sjiek, boheems. En haar grimering en hare het elke voorkoms pragtig afgerond.

Donnalee se Vrydag-voorkoms:

Klassiek-romanties

Die rolprentmakers Ivan Botha en Donnalee Roberts het Vrydag mekaar voor die kansel ontmoet en ewige trou beloof. FOTO Jenni Elizabeth

Alicia Buckle het Donnalee se grimering en hare vir die Vrydag se feesvieringe gedoen.

“Dit was vir my die grootste voorreg. Ek is ’n groot aanhanger van Donnalee en Ivan,” sê Alicia.

So het Alicia te werk gegaan:

“Donnalee het vir my gesê waarvan sy hou en nie hou nie. Sy wou nie baie grimering dra nie, maar eerder ’n sagte, natuurlike voorkoms hê met kontoerlyntjies wat uitstaan. Ook haar hare moes haar persoonlikheid weerspieël.

“Die uitdaging was om dit eenvoudig te hou en sag te werk, maar steeds genoeg te doen om beautiful op die kamera te lyk.”

Donnalee se hare is met ’n krultang gekrul - “’n horisontale twist gee meer van ’n wave” - en toe in ’n los opstyl getooi om by haar rok met sy hoë halslyn te pas.

Wenke vir haar grimeervoorkoms:

Alicia het grimering met ’n roomtekstuur gebruik omdat dit die natuurlikste op die vel lyk en ’n glansende gelaat skep wat boonop mooi op foto’s vertoon. 

1. Berei jou vel voor met ’n vogmasker. Wend dan oog- en gesigroom aan, dan is ’n basislaag nie nodig nie.

2. Kies ’n sagte onderlaag wat natuurlik op jou vel (en op foto’s) sal laat lyk.

3. Wend so klein bietjie poeier op jou T-paneel aan.

4. Definieer jou oë in bruin skakerings, wat natuurliker lyk. 

5. Wend vloeibare verligter op die ooglid aan vir ekstra glans.

6. Plak individuele vals wimpers net aan die buitehoeke van jou oë om dit groter te laat vertoon.

7. Gebruik ’n natuurlike lipstiffie om jou lippe af te rond. “Ek het my gunsteling-lipkleur van Charlotte Tilbury, Pillow Talk, gebruik.” 

Nóg inspirasie:

FOTO Jenni Elizabeth
FOTO Jenni Elizabeth

Probeer dié produkte:

Dior Backstage Face & Body Foundation (R705)

Chanel Soleil Tan De Chanel (R760)

Stila Shimmer & Glow Liquid Eye Shadow (R370)

Charlotte Tilbury Matte Revolution in Pillow Talk (R578). Beskikbaar aanlyn by www.charlottetilbury.com

Donnalee se Saterdag-voorkoms:

Boheems

Vir dié meer informele feesviering het Donnalee haar hare los gedra met ’n treffende blommekroon. Amorie en Zana van Twin Lifestyle, wat Donnalee se hare die Saterdag gedoen het, noem die voorkoms boheems. “Dis ’n baie romantiese styl. Die kuns is om niks perfek te doen nie. Die krulle is sagte strandgolwe met ’n deurmekaar vlegsel.”

Donnalee se hare is eers uitgeblaas en toe met groot krullers ingedraai om los krulle te skep.

Foto Jenni Elizabeth

Wenke vir dié haarvoorkoms:

  • Jou hare moet silwerskoon wees.
  • Blaas jou hare met ’n groot, ronde borsel uit. Maak seker die haarwortels word gelig soos jy dit uitblaas.
  • Draai jou hare met groot krullers in en sproei met haarsproei vir volume.

Só dra jy ’n blommekroon:

“Blommekrone is die versinnebeelding van romanse,” sê Amorie en Zana. En dis perfek by die boheemse haarstyl. “Maar dit moet ’n aksent wees, nie die fokuspunt nie, en jy moet dit kan afhaal sonder om jou hare te bederf.”

  • Los of kant-style pas gewoonlik goed by ’n blommekroon.
  • Kies blomkleure wat by jou haarkleur pas. Byvoorbeeld, dieper rooi en wynrooi by bruin hare, helderpienk by blonde hare, en skakerings van wit by rooi.
  • Praat vooraf met jou bloemis oor watter blomme lank sonder water kan hou en in seisoen sal wees.
  • Maak seker die grootte van die kroon is in verhouding tot jou kopgrootte.

Wenke vir Donnalee se grimeervoorkoms:

Die Saterdag was Suna Robberts verantwoordelik vir Donnalee se grimering. Haar ooggrimering was natuurlik en sag, met die fokus op haar donker lippe.

“Donnalee is baie natuurlik, maar het ook so bietjie van ’n wilde, boheemse kant aan haar. Dit is hoekom ons op die treffende lipkleur besluit het. Vir haar oë het ons ’n sagte, rokerige voorkoms, met geen duidelike oogomlyner of donker skakerings in haar oogbanke nie, gekies. Ek het met natuurlike bruin kleure gespeel,” sê Suna.

So doen jy dit stap vir stap:

1. Wend onderlaag tot net onder jou oë aan. Suna hou daarvan om hierna die ooggrimering te doen en heel laaste die onderlaag by die oogarea in te skakeer. 

2. Kies drie verskillende skakerings van bruin: ’n ligte en donker skakering en een tussen dié twee. Skakeer die medium kleur oor die hele ooglid aan, van die buitehoek van die oog af en effens ingewerk. Wend die ligte kleur reg onder die wenkbroue aan en effens op die ooglid.  Gebruik die donker skakering teen die boonste wimpers en skakeer opwaarts in. Rond dié sagte voorkoms af deur die medium en donker kleur teen die onderste wimperlyn in te skakeer. Gebruik ’n sagte, dun oogomlyner vir groter trefkrag.

3. Skakeer nou die res van die onderlaag rondom die oogarea sagkens in. Suna het hierna ligte kontoerlyne getrek om Donnalee se gelaatstrekke te definieer.

4. Wend sagte blosser op die wangbene aan.

5. Omlyn die lippe met ’n donker wynrooi lipomlyner. Skakeer dit met ’n ligter wynrooi lipstiffie op die lippe in.

Oorweeg jy donker lippe vir jou troudag? Suna is gaande daaroor vir bruide. “Go for it! Dit gaan absoluut oor jou persoonlike styl. Sagter oë en ’n donker lip werk goed saam.”

WENK
"Maak seker dat jy die regte lipomlyner gebruik wat altyd effe donkerder as die lipstiffie is. Jy moet die lipomlyner mooi inskakeer met die lipstiffie," sê Suna.

Nóg inspirasie:

FOTO Jenni Elizabeth

FOTO Jenni Elizabeth

Probeer dié produkte:

Garnier Skin Naturals BB Cream (R129)

GOSH CCC Highlighter (R187)

M.A.C Lip Pencil in Burgundy (R230) 

GOSH Kiss Me Matt Lips in Scarlet Kiss (R159)

Die Vrydag-troue verskyn in SARIE se Julie 2019-uitgawe (nou te koop). 

Die Saterdag-vieringe gaan in die nuwe SARIE Bruid verskyn (te koop vanaf 5 Augustus).

LEES MEER

Dís die tendense by SA troues, verklap fotograaf

Ivan en Donnalee se troubeplanner se 4 top-wenke