Húlle is gekies as SARIE se Bruidspaar 2008. Sjiek, stylvol en stralend: die troudag was 6 Desember. En wárm! Die kraaie het gegaap op Riebeek-Wes toe Salome in haar krale-trourok - met die sluier vergete oor haar skouers, pleks van oor haar gesig - saam met haar pa die paadjie kansel toe gestap het. Dit was 'n doen-dit-self-troue. Van die roosservette, wat Jaco se ma help maak het, tot die satyn-eetgoedsakkies wat Salome (sy's onderwyseres) en haar pa vir haar gr. 3-klas gepak het (ja, ook húlle was by die bruilof!) - alles van die mooiste.

Salome en Jaco le Roux
Salome le Roux Salome en Jaco le Roux
Salome en Jaco le Roux Salome se ruiker
Salome en Jaco le Roux Salome le Roux
Salome en Jaco le Roux Salome en Jaco le Roux

Inskrywings vir 2009

Die inskrywings vir 2009 se wedstryd sal in die volgende uitgawe van SARIE BRUID gepubliseer word. Die beoogde op-straat datum is rondom die begin van September 2009, maar finale datums sal so gou moontlik bevestig word.

Nelleke en Michael Elston

In 2004 het ek en my broer, Alex, besluit om die Transkei-kus te verken. By ons kampplek het ek en Michael mekaar so onderlangs dopgehou – hy het my egter duidelik vermy.Vir sy vriend (later strooijonker) het hy vertel dat ek sy droommeisie is – natuurliefhebber, lang blonde hare, kan kook, kan perdry... en tone so lank soos syne!Die voorlaaste aand vind hulle uit dat hulle heeltyd onder die verkeerde indruk was dat Alex my kêrel is. Michael het nie op hom laat wag nie en ons het heelnag deur gesels onder die sterre – ons het altwee met verwondering gevoel dat ’n spokie aan die ontvou was.

Die eerste keer dat Michael by ons aan huis gekom het, moes hy die storie hoor dat my pa al van my geboorte af kla oor die “skurk” wat sy dogter eendag van hom gaan probeer wegrokkel! Toe my ma besef die “skurk” is waarskynlik Michael, dat hy ses jaar ouer en boonop ’n Engelsman is, het sy by Alex versekering gesoek dat hy tog asseblief net plat op die aarde is. My broer se antwoord: “Mamma, as hy meer plat op die aarde was, was hy ’n aartappel!”

Ons sewe sakke sout was afstand. Michael het sy studies by die Universiteit van Kaapstad voortgesit terwyl ek Knysna toe getrek het. In 2006 het ek as patisserie-sjef in Dublin werk gekry terwyl Michael vir 6 maande Amerika toe is. Dit was vir ons verhouding ’n uitdagende maar opwindende tyd ... ons het baie briewe geskryf. Michael is ’n kunstige romantikus – die koeverte waarin sy briewe gekom het, was kunswerke uit eie reg en dan praat ons eerder nie oor die inhoud nie! Terug in Suid-Afrika het ons altwee besef dat ons vir altyd bymekaar wou wees.

Die 19de Januarie 2008, ons troudag, was die spesiaalste dag van ons lewens. Ons het ’n droomtroue met 120 spesiale mense in ons lewe gedeel – ’n onvergeetlike, onbeskryflike mooi dag as stempel op ons liefde. Ons wittebrood het ons in Knysna deurgebring – in ’n klein huisie in ’n woud, geen elektrisiteit, net gas en kerse. ’n Jaar later vertel ons van ’n idilliese eerste jaar as pasgetroudes, ons steeds groeiende liefde en groot opwinding oor toekomsplanne. Getrou aan ons avontuurlustige harte sluit dit ’n 4 maande lange toer deur Indië, Nepal en die Indonesiese eilande in!

Francois & Cornel Burger


Wie sou kon dink dat ’n ontmoeting op 25 Oktober 2004 op ’n troue sou uitloop, presies 4 jaar later, op 25 Oktober 2008? Die twee gesinne het mekaar vir jare geken, nog voordat Francois en Cornel gebore is, maar hulle twee het mekaar eers later raakgeloop... met ’n bietjie hulp van die familie ...

Cornel se ma en tannie (Marsan & Paula) was sowat 45 jaar gelede in Francois se ma (Mathilda) se eerste Sub A-klassie op Hopetown. Daar was altyd kontak tussen die twee families en toe Paula vir Mathilda vier jaar gelede op Bredasdorp raakloop, is daar weer gesels oor die ou tye en ook die kinders. So kom hulle toe agter dat Cornel en Francois altwee alleenlopers is, en die “grootmense” het gedink dit sal ’n goeie plan wees as die twee mekaar ontmoet.

Francois het toe vir Cornel op ’n blind date uitgevra, na ’n goeie vriend se verjaarsdagpartytjie in Kaapstad, min wetende dat hulle presies 4 jaar daarna, op dieselfde datum, voor die kansel sou staan om ewig trou aan mekaar te sweer.

25 Oktober 2008 was ook nie beplan as die troudatum nie. Dit was toevallig al datum waarop die fotograaf en die onthaalplek beskikbaar was. Ná die deposito’s betaal is, het die paartjie eers besef hoe spesiaal dit werklik is! 25 Oktober het aangebreek. Dit was die wonderlikste dag ooit vir die twee. Hul gebede is verhoor en hulle is geseën met perfekte weer vir die dag. Fabienne Zadel het gesorg dat die bruid op haar mooiste lyk. Die seremonie asook die onthaal was by Backsberg Estate. Eersgenoemde was onder die akkerbome in die “Akkerlaning”.Wit Wimbledon-stoele met ’n wit tapyt het die bruid en haar gaste ingewag. Die onthaal was net langsaan op die “Manor House” se grasperk. Groot wit sambrele met ronde wit tafels en hooibale het ’n unieke, stylvolle maar tog informele piekniek-atmosfeer geskep.

Kelners het Franse sjampagne bedien terwyl die familiefoto’s geneem is. Daarna is die toesprake vinnig afgehandel en ’n verruklike 3-gangmaaltyd in Canapé-styl en heerlike Backsberg-wyne en ander drankies is bedien. Die kos was uitstekend. ’n 5-ster-spyskaart, met ’n kombinasie van Mediterreense en Suid-Afrikaanse disse, is in prentjie-mooi vingeretes aan die gaste voorgesit.

Guy Feldman het vermaak met sy unieke kitaar- en sangtalent in enige genre waaraan jy kan dink. Vir die gaste wat ’n bietjie meer aktief wou wees, was daar ’n karaoki-stel waarmee hulle hulself kon vermaak.

Ons dag is vasgevang in onvergeetlike herinneringe deur Agapé Fotografie en Guava Productions vir die beste DVD ooit!

Die dag is afgerond met ’n ongelooflike troukoek deur Arina Huysamer, briljante beplanning en koördinering deur Lee-Anne en pragtige wit orgideë wat die atmosfeer van die oomblik onvergeetlik-romanties gemaak het. Om nie eers te praat van Loeloe (Cornel se worshond), wat die belangrike taak verrig het om die Bruid se kousband te dra en by almal te bedel vir ’n stukkie oorskietkos nie!

25 Oktober 2008 was onvergeetlik en ek is opreg dankbaar vir al die seëninge, liefde en ondersteuning van my familie & vriende, sê Cornel. Baie dankie aan almal wat die dag help moontlik maak het!

Mikailé en Joe Bester

Joe het in my lewe gekom op ’n tyd dat ek eintlik niks met ’n man te doen wou gehad het nie. My hart was onlangs gebreek deur my hoërskoolliefde en ek was vasbeslote om nie gou weer my hart vir enigiemand te gee nie. Ek het geweet wie Joe is aangesien ons al vantevore aan mekaar voorgestel is, en het hom aantreklik gevind en geweet hy is ’n baie oulike ou, maar het nogtans gedink my gaan hard moet probeer vir my vriendskap en kan maar vergeet van ’n verhouding. Ons het saam in die JS Gericke-biblioteek van die Universiteit Stellenbosch gesit en swot vir ons Junie-eksamens en voor ek my kom kry, het hy in ’n bank gesit en swot net so ’n stoel weg van my af– elke dag het ons so woordloos (amper) langs mekaar gesit en swot tot die aantrekkingskrag net te veel was en ons begin gesels het. Toe ons eers begin gesels, was daar nie keer nie en ons het meer gesels as geswot. Die vriendskap het vinnig vlam gevat, maar ek was steeds vasberade om nie my hart betrokke te hê nie. Ten spyte van my vasberadenheid het ek myself al hoe meer in hierdie uiters romantiese en super-pretman se geselsskap bevind en al het ons streng gespoke net as vriende saam uitgehang, het ek geweet my hart is bietjie vir bietjie besig om sag te raak.

Joe was so geduldig en het nooit enige druk op my gesit of my in ’n hoek gedruk nie, hy was net my vriend, altyd gereed met iets opwindends om te doen of iewers lekker om heen te gaan, en toe ek my weer kom kry, was ek smoorverlief op hom. Ek het dit vir nog so ’n ruk lank onderdruk en ons het vir so ’n maand of twee daarna nog net as vriende saam gekuier, maar uiteindelik het ek ingegee en het ons paadjie saam begin. Dit het nie lank gevat om te besef hoe die man is saam met wie ek graag my lewe wou deel nie en toe ons verloof raak, was dit met ’n heel hart en ’n gemoed wat oorloop van vreugde en opgewondenheid. Ons het besluit om in die Oos-Kaap te trou naby my tuisdorp, Jeffreysbaai, en het uiteindelik besluit om Lake de la Vie, tussen Port Elizabeth en Jeffreysbaai, vas te maak vir ons groot dag. Ons het besluit om dinge eenvoudig te hou – ek’s nie een vir tierlantyntjies nie – alles was wit met skakerings van pienk rose en kristalle, met ’n fyn afwerkinkie hier en daar.Ek wou nie ’n koek hê nie, maar my ma het gesê elke troue moet ’n troukoek hê en so het ek ingegee en het ons twee Griekse sjokelade-mousse-koeke bestel en versier met vars rose.Die musiek, kos en onthaal was beplan en gereed, en ons dag was om die draai. Ons troudag was vir my ’n absolute droom, vandat ek my oë oopgemaak het daardie oggend was ek so opgewonde en kon ek nie wag vir 16:00 om nader te kom nie. My sussie en my twee beste vriendinne was my strooimeisies en ons het dit so geniet om saam reg te maak, op te maak en mooi te maak vir my groot dag, met my ma en peetma wat alles bymekaartrek en ons en my broers en pa wat ook gekom en gegaan het sodat hulle niks mis nie. Dit was ongelooflik warm teen die tyd dat ons op Lake de la Vie toegesak het en teen 37 grade C was ek seker my grimering gaan teen my gesig afloop nog voor ek die kansel haal. My en my strooimeisies se ruikers het ons in blompotte in die yskas gebêre sodat dit nie verlep voor die diens nie, en yswater is in liters aangedra en opgedrink.Wonderbaarlik het die weer presies ’n halfuur voor die diens gedraai en het ’n ligte windjie begin waai en ’n paar wolkies aangerol gekom sodat die uiteinde ’n perfekte balans was vir ons foto’s.

Die tyd het toe uiteindelik aangebreek en my pa het my vergesel na ’n pikswart Mercedes, wat my broers vroeër blink gepoets het. My oudste broer het ons afgery na die kerkie toe. Dit was vir my die grootste voorreg om die paadjie af te stap na die ongelooflike man wat voor die kansel vir my staan en wag het. Die diens was so spesiaal met ’n vriendin wat ’n liedjie geskryf en gesing het tydens die diens en almal in trane gehad het. Die onthaal was ’n fees. Met al ons gunsteling-mense in een vertrek, lekker kos en goeie wyn (aangery van die Kaap af), het die meeste mense gebly tot die laaste minuut. My sussie en my twee broers het ook ’n liedjie geskryf wat hulle daardie aand gesing het. Dit was so spesiaal!Een van die lekkerste lekkers van die dag was om te sien hoe baie ons vriende die aand geniet het en hoe al ons moeite hulle soveel plesier verskaf het. Ek en Joe self was van die laastes om die aand om middernag daar uit te stap – ons wou doodeenvoudig nie hê die dag moet eindig nie. Daar is absoluut niks wat ek sou verander aan ons troudag nie – dit was ’n onvergeetlike dag, een wat ek steeds onthou soos gister. En elke keer dat ek daaraan dink, bring dit ’n glimlag na my gesig.

Marianne & Victor

 
Dit was einde 2005. Ek het so pas my studies klaargemaak en was met vakansie saam met vriende in Langebaan toe my niggie my bel en my vra of ek vir ’n maand ’n internskap in Johannesburg wil kom doen. Ek was baie opgewonde en moes ’n week later na Johanneburg vertrek. As ’n groot grap hou my vriende toe vir my ’n afskeidspartytjie omdat ek vir ’n maand “so ver” weggaan. Min wetend dat ek tog nie weer so gou sou terugkeer Kaap toe nie ...
Ek het opgewonde maar skrikkerig in Johannesburg aangekom, waar ek niemand en niks behalwe my niggie geken het nie. Met groot optimisme en ’n lus vir nuwe dinge en nuwe mense het ek besluit om hierdie maand met oorgawe aan te pak. My eerste week in Johannesburg stel my niggie my voor aan Victor, toevallig by die Cosmo Sexiest Men-partytjie. Hy was die aanbieder op die joernaalprogram JIP en het die program by die geleentheid opgeneem. Hy het my onmiddellik beïndruk met sy vriendelikheid en bedagsaamheid, en wanneer hy nie voor die kamera moes wees nie was hy by my om my geselskap te hou. Daar was dadelik ’n konneksie tussen ons en hy het seker gemaak hy weet waar hy my weer kon kontak. Ons het altwee daardie aand al geweet hierdie is nie die laaste aand van saamkuier nie.
Ná daardie aand het ons mekaar weer by ’n vriend se verjaardag gesien waar hy my toe vra of ek nie Valentynsdag saam met hom wil deurbring nie aangesien ons altwee hierdie dag alleen sou wees. Dit was ook die begin van ons verhouding.
Ongeveer ’n jaar en ’n half later het Victor my een Vrydag verras met ’n naweek weg na Pilanesberg. Ons altwee is mal oor die bos en hy het geweet dat dit die regte plek sou wees om die perfekte atmosfeer te skep...
Ná ’n lekker laatmiddag wildrit het ons by ’n kersligete aangesit. Victor het ’n spesiale hoekie net vir ons laat afsonder. Later, ná ’n paar glasies wyn, gaan hy toe op sy knieë en vang my totaal onkant met die groot vraag.

Ek was heeltemal oorweldig en kon nie wag om die nuus met almal te deel nie. Ons het op 25 Oktober 2008 in Stellenbosch, by Nooitgedacht, getrou. Dit was die mooiste en wonderlikste dag waarvoor ons ooit kon vra en absoluut fantasties om hierdie dag met vriende en familie te kon deel.

Charlé en Graeme Gobetz



Wanneer mense hoor ons studeer albei medies – Graeme het twee dae voor ons troue graad gevang – neem hulle dikwels aan dis waar ons mekaar ontmoet het. Maar ons storie begin eintlik toe ons albei in standerd vyf was: Graeme het toe na “my skool” – Laerskool Barberton – gekom en vir so ’n klein dorpie was nuwe intrekkers altyd groot nuus. Alhoewel ek nie in daardie stadium aan hom gedink het as my toekomstige man nie, het ek tog geweet hy was anders as die ander seuns. So ons ken mekaar al 13 jaar, waarvan ons minstens 8 jaar lank goeie vriende is. Die vriendskap het begin in graad 11 toe ons besef het ons het heelwat belangstellingsgemeen, waarvan die opvallendste een ons gemeenskaplike passie vir vliegtuie was. Ons eerste romantiese gedagtes het ook begin by die Nelspruit-lugskou van 2000, maar dit het nog ’n volle jaar gevat voor ons eerste soen!
Dit was ’n vurige romanse wat net vir ses maande lank onderbreek was terwyl ek gaan au pair het in Holland. Ten spyte daarvan dat Graeme in daardie tyd op Stellenbosch begin studeer het (en omring was deur pragtige, intelligente potensiaal!) het ons verhouding net weer aangegaan waar dit opgehou het toe ek aan die einde van daarde jaar teruggekom het.
Ek het toe in 2003 ook op Stellenbosch begin studeer. Ná nog vyf jaar van groot avonture, moeilike eksamens en ontelbare spesiale herinneringe het ons op 11 Desember 2008 op die pragtige Rickety Bridge-wynlandgoed in Franschoek ’n belofte aan mekaar gemaak: Om as lewensmaats gereeld saam te lag, altyd openlik te kommunikeer en dikwels te vergewe.

Elmari en Jaap Scholten

Ek was op soek na ’n nuwe woonstel in Kaapstad en ’n vriend het ’n ou huis voorgestel. Die oomblik toe ek dit sien, was die soektog verby: houtvloere, hoë plafon en ’n onbelemmerde uitsig oor die Atlantiese Oseaan... ’n Paar dae later het ek vinnig teruggegaan om my nuwe huismaat te ontmoet voordat ek sou intrek, maar in stede daarvan het ek die liefde van my lewe ontmoet. As huismaats het ek en Jaap spoedig ontdek dat ons saam in die kombuis of in die wynkelder planne beraam, aangesien beide van ons ’n passie vir goeie kos en voortreflike wyn koester. Ons het selfs gevind dat ons ’n sak Quality Street-lekkers presies in die helfte kan verdeel – hy verkies al die lekkers waarvan ek nie hou nie en andersom. As wynmaker en outeur, reis ek gereeld en het eendag tydens ’n wynaankoopreis ’n seldsame ontdekking gemaak: ’n ou bottel Tokaji-wyn van Hongarye, vergete in ’n pakstoor! Hierdie wyn het my eerste geskenk aan Jaap geword, saam met ’n boek oor Suid-Afrikaanse bergpasse, want reis is nog ’n voorliefde. Ek en Jaap deel ook ’n vurige belangstelling in besigheid en, met Jaap se ervaring as reeks-entrepreneur, was eie besighede ’n logiese gevolg: ’n uitgewermaatskappy en ’n garagiste-wynkelder in Stellenbosch, waar ons jaarliks 1 200 bottels vervaardig, alles met die hand. My eerste boek oor wyn het ’n blitsverkoper geword en Jaap het al die foto’s daarvoor geneem. Inaggenome dat ons altwee reeds in Wes-Europa gereis het, het Jaap voorgestel dat ons Hongarye besoek, ’n land bekend vir mineralebaddens, paprika en siergebak, asook vir sy unieke wyne. Op die vierde oggend het ’n spierwit sneeu-landskap ons begroet en, ná ’n daglange wyn-ekspedisie na verskeie Tokaji-wynprodusente, het ons die dorpie se restaurant opgesoek. Terwyl ons rustig oor die 12de eeuse dorpsplein gedrentel het, het Jaap op sy kniëe in die sneeu gaan staan en die groot vraag gevra! Ons liefde het die sirkel voltooi. Ons troue was ’n intieme geleentheid in die hartjie van Kaapstad. Ná vele “road trips” het ons ou Land Rover diens as trou-kar gedoen. My pa het ons getrou in ’n romantiese straatklip-binnehof en ’n inheemse Outeniqua-geelhoutboompie het elke gas aan tafel verwelkom – ’n lewende geskenk van liefde van die bruidspaar. Jaap en ek het ons wittebrood in Frankryk se kunsgallerye opgeskop, waarna ons die wyngebiede van Boergondië en Champagne besoek het om ons gunsteling-wyne te geniet.

Pieter en Michelle Aucamp

Ek het die eerste keer vir Michelle ontmoet in September 2004 en van die begin af was daar ’n buitengewone band tussen ons. Dit was egter ’n baie moeilike situasie, want sy het reeds reëlings getref om die einde van die jaar Australië toe te gaan. Ek wou graag hê dat sy moes bly, maar het haar eerder ondersteun omdat sy al ’n geruime tyd vroeër die besluit geneem het. Ons het al hoe meer kontak verloor tot op ’n dag dat sy my, ná amper twee jaar, laat weet het sy is in SA met vakansie. Sy was nog altyd die mooiste mens wat ek al gesien het en ek het dit weer besef toe ons mekaar op 22 Desember 2006 sien. Ons het by vriende gebraai en dit was asof ons mekaar eenhonderd persent verstaan en weet dat ons bymekaar wil wees. Die res van die vakansie was ons onafskeidbaar, sy is terug Australië toe en skaars drie weke later is ek Sydney toe, sonder werk... Dit was ongelooflik om die wêreld saam te ervaar en mekaar beter te leer ken, maar dit was ook ’n baie moeilike tyd omdat ek nie werk kon kry nie. Sy het in ons geglo en my altyd eenhonderd persent ondersteun. Ná omtrent 10 maande was ek desperaat en besluit om terug te kom SA toe vir ’n werksgeleentheid. Ons het gebel, ge-SMS, ge-Skype en ge-e-posl vir die volgende twee-en-’n-half maande en het weer eens ’n fantastiese tyd saam in SA gehad in Desember, maar sy het teruggegaan en twee-en-’n-half maande later het ek in Australië gaan kuier. Dié keer het ek ’n ring in my sak gehad en op een van ons gunsteling-plekke het ek haar gevra om vir altyd my vrou te wees. Michelle het vroeër uit haar werk bedank en het saam met my SA toe gekom, hierdie keer was s´y sonder werk... Ek het vir haar gesê dat dit altyd ’n droom was om op ons plaas in die Oos-Kaap te trou en sy het gelukkig ingestem. Ons het toe op 20 Desember ’n onvergeetlike bruilof-fees op ons plaas gehad, ’n wonderwerk in ons albei se oë omdat familie en vriende, en geloof, hoop en liefde, die dag vir ons moontlik gemaak het. Daar is baie dinge wat uitstaan in ons verhouding, maar een is vir seker die onselfsugtige opoffering wat ons moes maak om bymekaar te wees.