Sy gaan 10 hubare boere help om liefde te soek. Maar te midde van kupido speel, gaan die pragtige Marciel haar eie troue reël. Haar kêrel van vyf jaar, Handré Lourens, het vroeër vandeesmaand die ja-woord gevra.

En volgende Dinsdag, 25 Augustus, kuier sy op SARIE se virtuele rusbank vir die jongste aflewering van Dinsdagdromer. Sy en die aktrise Donnalee Roberts gesels oor teleurstellings. Koop kaartjies hier.

Sy gesels met SARIE oor haar nuwe titel as verloofde, koninklike troues en trourokke.

SARIE BRUID: Wie het jy eerste gebel nadat Handré die “Groot Vraag” gevra het?

Ek het heel eerste my ouers laat weet. My broer het my toe sommer dadelik daarna gebel. 

SARIE BRUID: Dis nou al 'n paar weke, is jy al gewoond aan die verloofring en om verloof te wees?

Ja! Ek is mal daaroor om my verloofring te dra en om na Handré as my verloofde te verwys. Dit was iets om aan gewoond te raak, maar ons geniet die opwinding wat gepaard gaan met hierdie spesiale tyd.

SARIE BRUID: Kies jou gunsteling koninklike troue: Kate, Meghan, of Beatrice?

Beslis Meghan! Ek is 'n groot aanhanger van Meghan Markle. En dan is ek ook mal oor die feit dat sy en prins Harry hul troue op hul unieke manier gedoen het. Sy is 'n trendsetter en ek haal my hoed af vir haar wat besluit het om uit Brittanje te trek, om sodoende al die nare boelies te vermy. Geen mens verdien om so te lewe nie.

SARIE BRUID: Kom ons gesels rokke: Kant of chiffon?

Chiffon, dis meer elegant en mens kan 'n tydlose voorkoms daarmee skep. 

SARIE BRUID: Wat is jou gunsteling-trourok-tendens?

Ek hou van die eenvoud van trourokke tydens die lockdown. 'n Bruid kies nie noodwendig rokke wat die skare gaan bekoor nie, maar eerder iets waarin sý gemaklik en mooi voel. Ek verkies trourokke sonder al die detail en drama. Less is more

SARIE BRUID: Wat is vir jou die belangrikste op 'n troue?

Om teenwoordig te kan wees in elke oomblik. Om dit te kan maak oor jou en jou lewensmaat en nié die gaste, troukoek of tafelversierings nie. Ek dink mense kan soms meegevoer raak met dinge wat net 'n bysaak by 'n troue moet wees. Die gaan oor die belofte van 'n leeftyd en dít moet die ware fokus wees. 

SARIE BRUID: Verkies jy 'n kombuistee, henneparty, of albei?

O nee! Ek hou nie van 'n gekoek, kloek en tee nie. Ons moet net sjampanje drink en sushi eet by 'n fabulous venue, terwyl die son sak. Ek hou daarvan om dinge bietjie anders te doen. Tradisies kan soms vervelig en eentonig wees. 

SARIE BRUID: Hoe beïnvloed Covid-19 jul trouplanne?

Ons het nog altyd gesê ons wil eers bietjie later trou na die verlowing, so vir nou beïnvloed dit nog geen trouplanne nie. Ons hoop om teen middel volgende jaar ons planne vas te maak. Daar is geen haas vir die troue nie, maar hopelik laat Covid-19 dan al meer vryheid toe. 

SARIE BRUID: Wat gaan jou eerste stap wees om jul troue te beplan?

Om te besluit waar ons wil trou, want dan moet 'n datum vasgemaak word en mense moet vroegtydig in kennis gestel word.

Marciel hou van eenvoudige trourokke sonder te veel drama, en verkies chiffon bo kant - dié rokke in die troukas van  SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste sal haar perfek pas!

Enzoani Pro Marle Bac / Fro Web

Elegante, tydlose rok

Romanties en stylvol

Droomrok vir jou droomdag

Vind jóú droomrok vandag nog op SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste.