'n Dag voor hul troue het ’n stormwind op die Griekse eiland Santorini getier. Niemand het gedink dit sal bedaar nie, en selfs die troubeplanners het hulle op teleurstelling voorberei. Die onvoorsiene gure weer kon egter nie die opwinding in Blitsbok Werner Kok se hart smoor nie.

“My grootste droom het waar geword, ek kon met Zanyika trou. Net ons, geen familie of vriende nie. Ek en sy en die eiland.” ’n Eiland en ’n weglooptroue waaroor albei so lank gedroom het. “Ons wou op mekaar fokus, weg van al die afleiding wat met ’n groot troue gepaardgaan.”

My hart het al vantevore vinnig geklop . . . tydens ’n wedstryd, ’n sege. Maar toe ek Zanyika in haar rok sien, het dit elke oomblik oortref
Werner

En soos die nuwe dag oor die geboue met die kenmerkende blou koepeldakke gebreek het, het die wind ook gaan lê. Die see was spieëlglad en die son het geskyn – ’n sege vir die Blitsbok en sy skoolliefde. “Alles was perfek! Daardie gevoel toe ek Zanyika sien aankom, het elke wedstryd, elke drie oortref.” Die kersie op die troukoek? ’n Volmaan wat die hele eiland verlig het.

Ek het gedroom saam met die man van my drome. Elke oomblik was perfek
Zanyika
Die bruidsruiker: romanties met die pienk Santoriniroos.
Die troukoek: vanielje met ’n Oreokoekievulsel, Zanyika se gunstelingkoekie.
Werner en Zanyika het op die eiland hul eie huweliksbeloftes geskryf. ’n Emosionele oomblik vir die Blitsbok. “Ek kon die trane nie keer nie. Op daardie oomblik het alles net sin gemaak,” onthou hy.
En só raak hulle mnr. en mev. Kok in die teenwoordigheid van “priester” Michael.
’n Kat wat room gekry het – Werner met sy Santorini-koekie. Dit was sy eerste keuse vir ’n troukoek en mev. Kok se kompromis.
Die rok: ’n sagte sampioenbruin Kobus Dippenaar-skepping met lae tulle, blinkers en blommotiewe wat met die hand vasgewerk is. Vir die foto-oomblik moes Zanyika haar vrees vir hoogtes ’n wyle opsy skuif.
Minimale dekor, soos die bruidspaar dit verkies. En die spyskaart? ’n Driegangmaal wat deur die sjef by die suites waar hulle oorgebly het, berei is. Sampioenrisotto en varklies vir Zanyika, terwyl Werner aan tuna en ribsteak gesmul het. Vir poeding is die troukoek voorgesit.
Al dansend in 32 grade Celsius.
Weg is die rugbytrui en tokse. Werner getooi in ’n pak wat hom soos ’n handskoen pas. “Hy het vir meer fittings gegaan as ek,” skerts Zanyika.
’n Tafel vir twee, soos die son sak. Werner en Zanyika het die aand met ’n teleskoop sterre gekyk. ’n Aand tevore het die bruidspaar se ouers ’n Griekse fees in Nelspruit gehou. “Hulle wou ’n glasie klink op ons geluk. En ja, die borde is gebreek,” verklap Werner.

FOTOGRAAF Anna Roussos Photography www.annaroussos.com

VIDEOGRAAF Iraklis Rigas van Velvet Rose Creative Studio velvetrosestudio.com

TROUBEPLANNERS Julia and Evita www.juliaandevita.com

VENUE & VERBLYF Cocoon Suites cocoonsuites.com

TROUROK Kobus Dippenaar vir Anna Georgina annageorgina.co.za

TROUPAK Frank Bespoke frankbespoke.co.za

WERNER SE SKOENE Kingsley Heath kingsleyheath.co.za

GRIMERING Renia Bledaki www.beauty-santorini.com

HARE Rena Skourti hairstylistsantorini.com

VERSORGING VAN BRUIDSPAAR SE HARE Gary Rom Willowbridge www.garyrom.co.za

ZANYIKA SE RING Daneel Diamond Manufacturers www.daneeldiamonds.co.za

WERNER SE RING Blink theblinkshop.co.za

SKRYFBEHOEFTES Susan Brand Design susanbrand.co.za