Die laaste strale van die son wat sak oor Prisengracht, Amsterdam, tuimel by die groot woonstelvenster in en omhels Donnalee Roberts en Ivan Botha in ’n goue gloed. Juis die oomblik wat hy op sy knie sak en haar vra of hy asseblief haar hart die res van sy lewe kan oppas.

Jy kan byna glo dit was perfek gechoreografeer. Basson in Pad na jou hart wat Amory vra om te trou, of Hugo in Vir Altyd wat Nina innig vertel hy het haar lief . . . Die romantiese flieks wat Donnalee en Ivan geskryf en vervaardig het, en waarin hulle die hoofrolle vertolk het. Dié keer is daar geen kameras om die emosioneel belaaide oomblik vas te vang nie. Ivan bewe soos ’n riet, Donnalee huil oorstelp. Op die agtergrond sing die groep Train “Marry Me”: “Forever can never be long enough for me . . .” Als deur Ivan beplan, want Donnalee wis vooraf van niks.

Haar oë skiet vol trane wanneer sy dit onthou. Dis twee weke voor hul troudag in ’n knus koffiekroeg in Nuweland, Kaapstad. Ivan gaan haal toiletpapier vir haar nat oë. Sy praat met groot handgebare, hy sit rustig en hou haar dop, vat dan alles wat sy sê met ’n sin of twee vas. Of verlig ’n intense relaas met ’n grappie. Soms moedig hy haar aan: Vertel jy, jy vertel dit mooier as ek . . .

“Hy het ’n manier om na my te kyk, asof ek die enigste vrou in die wêreld is, geliefd, en hy hou altyd my hand vas en verstaan ek is ’n hopelose romantikus, hy waardeer dit, sien dit, doen moeite,” vertel sy met blink oë.

Ds. Jana van den Munckhof van die Paarl, Donnalee se beste vriendin, het die trouformulier gelees. Dit was in die vorm van ’n gedig, met dinge eie aan Donnalee en Ivan daarin verweef.

En Ivan: “Haar uitkyk op die lewe is so romanties, dit herinner my elke dag om deur haar oë na die wêreld te kyk, die mooi, positiewe raak te sien. Baie mense wat haar ontmoet, wonder dalk hoe volhoubaar is haar positiwiteit. Ons is tien jaar lank vriende en dit het nie verander nie, eerder toegeneem . . .”

Ons het vooraf besluit ons moet mekaar in elke oomblik van die dag vind, die reuke, hoe die kos proe, ons vir mekaar kyk . . .
Donnalee

Saam in Londen vir ’n rolprentteksskryfseminaar, besef Donnalee dis Mei. Die tulpe blom in Keukenhof, een van die wêreld se grootste blomtuine en boaan haar emmerskoplys. Dus móét hulle ’n draai in Nederland maak, haar geliefde ouma Lenie se geboorteland. Daardie eerste dag in Keukenhof sien sy Ivan karwei sy rugsak oral saam, met ’n slotjie wat dit sluit, nogal. Van die verloofring onder in die sak wis sy niks. Hy en Marion Rehwinkel, ’n juwelier en vriendin van Donnalee, het stilletjie skoppe bymekaargesit oor hoe die ontwerp moet lyk.

So byna was Ivan se geheim uit toe hulle in Londen deur doeane gaan. In die einste rugsak was ook ’n sneeubal vir sy dogtertjie, Amélie (9), se versameling. Die water daarin aktiveer toe die sekuriteitsalarm en hy moet alles in die sak uitpak, met Donnalee wat ywerig probeer handbysit. Die sekuriteitsbeampte het gelukkig verstaan wat Ivan dringend vir hom fluister. “Daar’s ’n verloofring onder. Los dit asseblief!”

Die regte oomblik om die groot vraagte vra, sou egter nie by Keukenhof opduik nie. Saam met hulle was die “helfte van China” en Ivan was nie van plan om dié intieme oomblik met die res van die wêreld te deel nie. Dit moes wag vir later, in hul woonstel by ’n tafeltjie gelaai met “sulke wiele” kaas en koekies (hul gunstelingkos) en wyn. Voor die groot venster wat op die grag uitkyk. Met die son wat sak. Perfek!

Almal het geweet hulle is gemaak vir mekaar, net hulle klaarblyklik nie. Beste vriende, later sakevennote. Shreken Donkey, Lone Ranger en Tonto, Thelma en Louise. Maar ’n romantiese paartjie? Nee, was hul besliste antwoord altyd. “Die mense naaste aan ons, ons pêlle, familie, het altyd gesê ‘julle sal ’n wonderlike couple wees’. ‘Wanneer nooi jy weer bietjie vir Ivan?’ sou my ma vra. Maar ’n verhouding was nie toe ons fokus nie. Ons het 17 Films, ons produksiemaatskappy, begin, groot drome gehad vir die tipe projekte wat ons wou aanpak. Dis maklik om te verstaan waarom mense gedink het ons is ’n romantiese paartjie. As jy van buite kyk, sien ons is saam by gesellighede, toer en bemark ons flieks saam, het dit gelyk asof ons saam móés wees.”

Maar, sê Donnalee, dis nie vir hulle om met iemand anders se hart te speel net omdat jy momenteel alleen voel en ’n bietjie aandag wil hê nie. “Ons was albei op dates met ander mense, hoeveel keer het ons nie agterna stories met mekaar daaroor gedeel nie?” Hulle het nooit enige leemte gevoel nie, want hulle was mekaar se beste vriende, voeg Ivan by. Dis eintlik maar net die romantiese element wat later sou bykom.

November 2016, ’n oomblik van asemskep ná ’n harde jaar waarin hulle Vir Altyd voltooi, uitgereik en bemark en ook in hul toneelstuk, Beurtkrag, gespeel het. Dit was terwyl hulle aan hul internasionaal bekroonde rolprent Stroomop gewerk het dat hulle besef het hulle is op ’n anderster manier van mekaar bewus. Beste vriende vir solank, was hulle nou so effens skamerig vir mekaar. Donnalee glimlag: “Al die jare wat ons by mekaar gekuier het, het ek ’n bank en hy een gehad. Nou was dit: ‘Lê ons op jou bank of myne?’ Almal wil die detail weet: ‘Was daar ’n spesifieke oomblik wat julle net gewéét het?’ En ek sê, dis die regte lewe dié, nie ’n movie nie.”

Ivan en Ame´lie dans op maat van “Somewhere Over the Rainbow”, ’n gunsteling van Ivan. Sy pak is van The Tux Tailor in samewerking met Lena Lisa. Op sy lapel is vuurbosbessies en slangbos.

Hulle waak sku oor hul private lewe en almal het so half verwag hulle gaan wegloop om te trou. Ivan: “Ons is avonturiers in ons harte en kon sommer impulsief besluit het: Kom ons gaan Vegas toe, dat Elvis ons trou.” Donnalee lag uit haar maag. “Lekker ruk-en-rol. Of iewers op ’n berg of strand . . . Dis egter belangrik dat Amélie deel voel van ons liefde en die herinneringe wat ons maak. As ons sou elope, sou sy moes saam gaan. Ons sou nêrens, nooit sonder haar kon trou nie.”

Daar is hul ouers, met wie hulle ’n hegte verhouding het. En hul hartsvriende . . . so het die lysie gegroei, tot tussen 80 en 90 gaste. Hier waar hulle sit, is hulle nog onseker presies hoeveel gaste daar gaan wees, soos oor baie van die reëlings. Want hulle het presies ’n maand gelede op die troudatum besluit. Donnalee: “Ons het een Sondagoggend wakker geword, vir mekaar gekyk en gesê: Kom ons trou.” Ivan: “Ons het altyd gesê as ons die dag trou, wil ons dit nie inpas as net nog ’n event, première nie. Ons lewens bestaan uit die reël van films, events en premières. Ons het vanjaar Kaap toe getrek en sou nou besig gewees het met ’n film wat aangeskuif het. En toe besluit ons een Sondag . . . ”Donnalee: “Letterlik ’n maand gelede . . .” Ivan: “Die eerste sewentiende wat kom, trou ons . . .” Donnalee: “Dis ons gelukkige nommer . . .” Ivan: “En dis toe Vrydag, 17 Mei . . .”

Dit was ’n dag vol seën, een waarvan drome gemaak is, die lekkerste in my lewe
Ivan

Nietemin is hulle “die rustigste bruid en bruidegom ooit”, sê Donnalee. Ivan: “Ons vriende en familie is meergespanne, want hulle moes op kort kennisgewing verblyf soek. ‘Nee . . .ek moet dieet om in my rok te pas.’” Donnalee: “En ons sê trek aan waarin jygemaklik voel en kom wees jouself, dis hoe ons wil hê die dag moet wees.”

Die bruidspaar het “’n liefdesbrief met ons troubeloftes” geskryf. Albei was tydens die seremonie by tye in trane en “toe ons daarna omdraai, sien ons ’n see van rooi oe¨. Die gaste het saam met ons gevoel!”

En ja, dit gaan beslis nie net nog ’n geselligheid wees wat hulle reël nie. Hoeveel keer moes hulle nie al voor ’n okkasie die rooi tapyt help uitrol nie. Dan aantrek om daarop te pronk, net om dit agterna weer op te rol. Maar by die troubeplanner, Hannes Maritz en sy span van Kraak, kry hulle die belofte: “Ons wil hê julle moet gaste op jul troue wees.” Dit beteken, grap Ivan, hy kan dié keer self sy spring roll eet. “Want reël jý die okkasie, gee jy jou spring roll vir iemand anders.”

Donnalee: “Slippery Spoon maak die kos en hul kos is kuns, ’n koservaring, want ons is lief vir lekker eet. Van ons beste herinneringe is om kos en ons wil hê die gaste moet smul.”

Die makietie op die wynlandgoed Blaauwklippen naby Stellenbosch strek oor twee dae. Vrydagaand die troue en onthaal. En Saterdagaand ’n langtafelete vir intieme vriende en familie. “Ons eerste familie-ete as getroudes,” sê sy. Sy het twee rokke, onderskeidelik ontwerp deur Vesselina Pentcheva en Lena Lisa, wat twee fasette van haar persoonlikheid weerspieël, klassiek-romanties, en boheems en ruk-en-rol. Ja, Ivan weet min of meer hoe dit lyk.

Amélie, Ivan se dogter, was Donnalee se “amptelike bruidsmeisie”. Voor die tyd het hulle saam na trourokprentjies gekyk en materiale bevoel. Amélie was ook saam wanneer Donnalee haar rokke gaan pas het.

“Hy is my beste pêl, die een na wie toe ek gaan oor alle hartsgoed. Hy en my ma was die eerste mense vir wie ek vertel het: Dís vir my mooi, dís wat ek gaan dra.” En dan vir Ivan: “Hoekom sit jy so ver?” Hy: “Moet ek nader skuif?” Hulle glimlag in mekaar se oë.

“Hy is so kalm,” vertel sy. “Ek ervaar die lewe intens, maar as hy sê iets is oukei, weet ek dit gaan wees. Dit voel asof ek enigiets, die onstuimigste water kan aanpak as dit saam met hom is. En hy weet boonop presies hoe ek van my koffie hou!”

Die pad na haar hart is ’n koppie koffie soggens in die bed. “Sy hou daarvan flou, baie flou. Dit gaan méér oor die romantiese idee van saam koffie drink, die koffiereuk, samesyn . . .” terg hy. Hulle sien uit na nog films en projekte saam. Maar veral na reënerige Sondae, net hul gesinnetjie saam. Want kinders, ja, asseblief, dosyne! Hulle sal egter ook doodgelukkig met twee wees. Toe hulle Sondag ná die die troue by die huis kom, sak die eerste winterreën oor die Kaap uit.

Lig en lewe. Herfsblare, honderde liggies en kerse, en macrame´ gevul met vuurbosbessies en tulpe nog met die bol aan, versier die onthaalplek by die Blaauwklippen-wynlandgoed naby Kaapstad. Die blare kom van die boom waaronder die paartjie getroud is en is weke lank bymekaargemaak.
Outydse kant, ’n gunsteling-geur en fyn borduurwerk vir romantiese Donnalee. Ivan het die blikkie met die borduurwerk by ’n antiekwinkel gekoop.
Al drie ewe mooi. Amélie en Donnalee se eenderse rokke vir die Saterdagaand deur Lena Lisa is ’n bietjie boheems en ruk-en-rol. Die growwe, outydse kant en klokmoue herinner aan die modes uit die 1970’s – ’n era waaroor Donnalee mal is. Die dowwe, goue kantblare is met die hand aangewerk en pas by die herfstema. Dié tweede feesviering die Saterdag word volledig in SARIE BRUID gewys wat vanaf 5 Augustus op die rak is.
Van links agter is Ivan se suster en swaer Antoinette en Pieter Grobler, sy skoonsuster en broer Sonja en Corrie, sy pa en ma, Corrie en Ellaine, Ivan en Donnalee, haar ma en pa, Wilma en Llewellyn, tannie Magda Zitske en Gerald Wright, haar ma se vriend. Voor is Ame´lie en die neefs en niggies.
Donnalee se rok van growwe kant met handgeborduurde detail en fyn kralewerk is deur Vesselina Pentcheva ontwerp. "Ek wou hê dit moet tydloos wees maar ook 'n statement maak." Haar hare is vir die seremonie in 'n romantiese, sagte styl vasgemaak. Vir die onthaal het sy bloot die knippies uitgehaal en dit natuurlik oor haar skouers laat tuimel.
Seën met vrolike papierlint wat herinner aan outydse nostalgie waaroor Ivan en Donnalee mal is.
Die bruidsruiker van eksotiese tulpe, Cymbidium-orgideë en wit pinksterrose gemeng met vuurbosbessies en gedroogde teksture uit die omgewing.
Die onthaalarea van glas.
Ivan het as deel van sy troubelofte ’n gedig vir Donnalee geskryf. Danie du Toit van Spoegwolf het dit as geskenk getoonset en sing dit terwyl die bruidspaar toekyk.
Donnalee en Ivan het self die bedankings gedoen. Hier deel sy met Amélie haar hartsbegeerte dat ook sy eendag met haar beste maat sal trou.
Aktrise Amalia Uys en manlief Shaun Golding (links) en die akteurspaar Christi en Nico Panagio.
Ivan was ook seremoniemeester.
Die spyskaart saam met 'n handgemaakte bagasie-etiket van leer wat gaste as geskenk gekry het. Die bruidspaar wou só hul liefde vir reis deel.
Slangbos, gedroogde bloekom, wit en marsala anthuriums, wit Dendrobium-orgideë, Cymbidium-orgideë, gedroogde palmtakke en pampasgras: teksture uit die omgewing met warm winterkleure is deurgaans gebruik.
Donnalee op die dansbaan met vriendinne Suna Robberts (links) en regs (v.l.n.r.) Suzaan Steyn, Beninca Steyn, Zana Taljaard en Amorie Taljaard.
Aktrise Simoné Nortmann en haar man, Andries Pretorius
Die troukoek was wortelkoek “met regte roomkaas”. Daar was ook ’n sjokolade-, toffiefudge-, gemmer-en-papawer- en ’n lemoenkoek.
Sanger Heinz Winckler en sy vrou, Aletté.

Onthaal: Blaauwklippen, Stellenbosch. www.blaauwklippen.com

Verblyf: Blaauwklippen Manor House en Jonkershuis - @blaauwklippen ; www.blaauwklippen.com

Koördinasie en konsep: [kraak] - @kraak_eventwww.kraak.co.za

Fotograwe: Vrydag - Jenni Elizabeth, @jenni_elizabeth2 ; www.jennielizabeth.com & Saterdag - Aglow Photography, @aglowceleste ; aglowphotography.blogspot.com

Videograwe: Second Luke Films - @secondlukefilms ; vimeo.com/secondluke

Trourok: Vesselina Pentcheva - @vesselinapwww.vesselina.co.za

Saterdag Feesviering-rok & Amélie Strooimeisierokke: Lena Lisa - @lenalisa_designerwww.lenalisa.com

Ivan se troupakke (Vrydagaand en Saterdagaand): The Tux Tailor in samewerking met Lena Lisa - @thetuxtailorwww.thetuxtailor.com

Hare & Grimering: Alicia Buckle - @alicia.buckle ; aliciabuckle.co.za

Saterdag Feesviering Grimering: Suna Robberts - @suna1suna1 ; imagebysuna.co.za

Saterdag Feesviering Hare: Amorie & Zana Taljaard @twin_lifestyle ; 

Spyseniering: Slippery Spoon Kitchen - @slipperyspoonkitchen ; http://nothambutman.com/slippery-spoon-kitchen/

Blomme: Liezl Kotze Floral Art - @liezlkotzefloralart ; www.liezlkotzefloralart.co.za

Personeel: ASAP staffing & events - @asapstaffingcpt ; facebook.com/asapstaffingcpt/

Gin Bar: Clemengold Gin - @clemengold_ginwww.citrusgin.co.za

Troukoek: Pajamas & Jam - @pajamasandjameatrywww.pajamasandjam.com

Trougeskenke: Masch - @masch_x ; www.masch.co.za

Musiek: Apache from Official Chopshop - @officialchopshop ; www.officialchopshop.org/

Onthaal & Feesviering Meubels: Event Architect & In and Out events. @eventarchitectza & @inandoutevents ; www.eventarchitect.co.za/ & https://inandoutsa.co.za/

Peacock chairs: Muse Decor Hire - @musedecorhire ; www.musedecorhire.co.za/

Beligting en Strukture: In and Out Events - @inandoutevents ; https://inandoutsa.co.za/

Dansvloer se beligting: Unfazed Pro - @unfazedpro ; https://www.unfazed.co.za/

Spyskaarte en kaartjie papierwerk: Papier handmade - @papier.handmade , https://linktr.ee/papier.handmade

Tafels en stoele vir langtafelete by onthaal: Okasie Furniture - @okasie ; www.okasie.co.za

Matte: a|CREATE , Baie Goeters, In and Out Events - @acreate_za & @baie_goeters & @inandoutevents

Macrame: No Negative - @nonegativedecor ; hellopretty.co.za/no-negative

Instax Cameras and Film:  @instaxsawww.instaxsa.co.za

Uitnodiging en Illustrasie: @diekaalkonyn