Charlene Engels, perfeksionis, georganiseerd, het haar troue met krieketlegende Jacques Kallis tot in die fynste besonderhede beplan. Toe gaan al die reëlings in vlamme op. En dié vrou, fyn soos ’n porseleinpop, wys haar staal.

Die verwoestende brand wat vroeg in die nuwe jaar groot dele van die Overberg in puin gelaat het, het ook deur hul trouvenue, Bona Dea, geswiep. Vrydag, die dag voor die troue, moes die landgoed inderhaas ontruim word. Alles rondom die onthaalplek het deurgeloop, maar die gebou self was “deur die genade” ongeskonde, volgens haar.

“Ons het besluit om alles te embrace. Dis ’n storie wat ons eendag vir ons kinders kan vertel.” En wat ’n storie! Uiteindelik sou Charlene ook self die troukar bestuur.

Die villa waar hulle sou bly, het ook gebrand. Johann en Gaynor Rupert, wat ook onder die 160 gaste was, het goedgunstiglik aangebied dat die paartjie, hul gevolg en haar familie by hulle op Onrus oorbly. Maar dit was nie al troudrama nie, vertel Charlene ’n paar dae later in ’n e-pos aan SARIE:

Een deel van my skoonsuster, Janine, se rok het voor die tyd losgetrek. Gelukkig het Anel [Botha, die trourokontwerper] naald en gare saamgebring. En so wag ons dat dit vasgewerk word. Intussen ry almal na die venue en vergeet van my! Toe besluit ek, te duiwel daarmee . . . Ek en Jacques trou vandag, ons ry met sy kar.

Maar Janine sukkel om die Mercedes te bestuur en ek sê vir haar om anderkant in te klim, ek bestuur myself troue toe! Dit was eintlik baie snaaks. ’n Paar gaste het verbygery en seker gewonder wat nou aan die gang is, want hier ry die bruid self troue toe. Ons het daai liedjie van The Dixie Cups, ‘Chapel of Love’, gespeel en ek, Janine, haar dogtertjie, Rebecca, en een van my strooimeisies het kliphard saamgesing.

Charlene agter die stuur
Charlene agter die stuur

Daar aangekom, het ons by die verbrande villa foto’s geneem. Maar toe, vyf minute voor die troue begin, besef ons my sluier is nog by die villa! Dit moes inderhaas gehaal word.

Die span by Bona Dea, Nick Nicolaou, die troubeplanner, en Miguel Pereira, wat die dekor en blomme gedoen het, het deurnag gewerk om die venue reg te kry. Want ook die dekor het verbrand, die glase, tafelgerei, byna alles ... Nick moes Saterdag nog dekor uit Kaapstad laat kom.

Kerse is inderhaas by Mr Price op Hermanus aangeskaf om die rookreuk te verbloem. Daar was nie krag of water nie en hy moes reël vir waterpompe en ’n kragopwekker. O, en moenie eens praat van die paadjie wat dertig minute voor die gaste sou begin opdaag, weggewaai het nie. Die bloeisels in glaspotte langs die paadjie af en die massiewe boog van bloeisels is deur ’n fratswind omgewaai en alles was verrinneweer en stukkend. Toe Nick my vertel, het ek maar net begin lag.

“My arme handruiker was ook bietjie hartseer van al die rook en roet, maar ek het nie omgegee nie. Dis tog materiële goed en al wat saak gemaak het, is dat ek met my beste maat trou, en nou Mev. Kallis is.

Ook Jacques het laat weet: “Ek het die oggend van ons troue vir Charlene ’n briefie gegee. Ek het gesê as sy senuweeagtig raak, moet sy vir my kyk en glimlag. Terwyl sy in die paadjie afgestap het, het sy heeltyd geglimlag en ek het geweet sy is gelukkig en dis ons oomblik. Niks anders het meer saakgemaak nie.”

t
’n Trourok vol drama, die agtergrond ook. Charlene se wit rok staan uit teen die strak, swartgebrande veld. Jacques, in ’n donker snyerspak, lyk sy onverstoorbare self. FOTO Hanri Human

“En wie anders kan sê hul troufoto’s is op ’n verkoolde stuk swart aarde geneem?” sê die twee.

Toe SARIE hulle ’n maand voor die troue by The Vineyardhotel in Kaapstad ontmoet het, gaan draai die gesprek juis by hoe netjies en georganiseerd Charlene is. Sý beplan dinge maande vooruit. Hý sê maklik dis nog te lank voor die tyd, kom ons dink later daaroor. (Hy is ook die minder netjiese een.“I’m a boy,”sê hy lakoniek.) Des te meer bewonderenswaardig dat sy dit met soveel grasie kon hanteer toe dinge warm begin raak.

’n Gemeenskaplike vriend het hulle aan mekaar voorgestel, sommerso in die bondel. So vertel hý. Sý kan dit glad nie onthou nie. Hoekom sou sy? Die naam Jacques Kallis het vir haar niks beteken nie. Krieket was ’n toe boek, die korporatiewe wêreld háár speelplek. Sy is ernstig oor haar loopbaan as plaaslike handelsmerkbestuurder van die prestigeryke Italiaanse Campari-groep. In celeb-sportmanne se “pronkerige leefstyl” had sy g’n erg nie.

Ses jaar later kontak hy haar op Facebook. Charlene: “Ek het my ma gebel, daar is ’n man, sy naam is Jacques,sy van begin met ’n K en hy is een of ander sportman.”Tóé hoor sy hy is ’n legende op die krieketveld, een van die beste nog in die sport. Sy sê ja vir ’n afspraak in September 2014 kort ná sy uittrede uit internasionale krieket. En albei word uitgeboul.

Aanvanklik was sy onkant gevang toe sy besef hoe bekend Jacques, tans afrigter van die Indiese Premierliga se Kolkata Knight Riders,steeds oorsee in die krieketwêreld is.“Plaaslik steur mense hulle nie eintlik meer aan hom nie.” (“Dis goed so,” prewel Jacques.) “Mense hier is dalk gewoond aan hom. Maar oorsee word hy oral herken. Australië, die Wes-Indiese Eilande, maar veral Indië. Jy verstaan nie, hy word daar aanbid. 

Dis nie die maklikste ding om saam met hom die strate in te vaar nie, want die mense oorrompel hom behoorlik. Hulle stamp my weg vir ’n selfie met hom.”

Vir haar was krieket eers ’n raaisel. Bouler, kolwer, wat is die verskil? En watse ding is ’n wicket? Sy het sommer van sticks – mos paaltjies in Afrikaans–gepraat. Met dié sport so ’n groot deel van haar geliefde se lewe, sou sy dit moes leer. Maar einste geliefde was beslis dat hý haar nie gaan leer nie. Jacques: “Ek praat nie krieket by die huis nie. Ek kyk nooit daarna op TV nie.” Die Bokke, ja. En gholf. Hy het sy mededingendheid na gholf verplaas en het ’n plus 1-voorgee. Deesdae kyk sý krieket op TV. Sy het maar só op die kykkassie en met die hulp van ander krieketwederhelftes geleer.

t
Die seremonie is verby en die pasgetroudes deel ’n intieme oomblik voor die partytjie begin. FOTO Hanri Human

Jacques is kalm, bedaard, ’n man van min woorde wat tydens sy krieketloopbaan nooit persoonlike onderhoude toegestaan het nie. Sy onverstoorbaarheid op die veld was alombekend. (Ook as ’n wegholbrand jou troue wil kelder!) Charlene, daarenteen, is flink met die mond.Wat sy dink en voel, borrel uit.“Hy sê hy’t my gekry sodat hy nie hoef te praat as ons gaan uiteet nie, ek voer ’n alleengesprek.” Hy: “Elke nou en dan knik ek net my kop. Hmmm ...Ja.” Sy: “Teenoorgesteldes trek mekaar aan.” Hy: “Dankie tog, anders het dit nooit gewerk nie.”

As hulle stry, neem dit haar ’n halfuur om by haar punt uit te kom. Hý sny ná twee minute uit, horende doof.Was mos ook so op die krieketveld. Die toeskouers kon maar beledigings gil . . .

Charlene is op Otjiwarongo in Namibië gebore en het grootgeword op Keimoes, in die sogenaamde groen Kalahari. Haar pa, Louis, is steeds ’n dokter op die dorp. Was sy ’n tipiese oudste kind? “Mmm ...” knik Jacques instemmend. Hoekom? “Moeder hen.”Weer hy. Charlene: “Ek was altyd die een wat na almal kyk.”

Jacques is in Kaapstad gebore en getoë en bly inderdaad net ’n hanetree van die huis waarin hy grootgeword het. Nou sy suster, Janine, en haar gesin se woonplek. Pa Henry was Afrikaans, maar ma Mercia Engels en die kinders het Engels grootgeword. Jacques, met ’n sedige gesig: “My pa het altyd gesê ek moet met ’n vet Afrikaanse meisie trou. Ek het die Afrikaanse deel gekry, maar moet haar nou vet voer!” Dan ernstig: “Sy is baie huislik en ek ook geen partytjiedier nie.”

Dié eienskap, sê hy later, herinner hom aan sy ma, wat aan beroerte dood is toe hy agt en Janine vier was. So klein was hy, hy kan nie veel van haar onthou nie. Maar haar warmte en huislikheid onthou hy wel. Sy was má.

Sy pa sou nie weer trou nie, sy kinders het sy lewe geword. Hy en Jacques was baie na aan mekaar en Henry het kleintyd rugby, tennis en krieket met hom gespeel. Miskien die rede vir sy seun se veelsydigheid op die krieketveld. Hoewel Henry dalk heimlik gehoop het hy trek eendag die Springboktrui aan, het hy hom nooit in ’n rigting gedwing nie. Jacques moes self besluit. In matriek het hy krieket gekies. Nie net omdat hy beter daarin was nie, maar ook omdat jy toe meer geld daarmee kon verdien.

f
FOTO Hanri Human

Aan krieket sou hy sy lewe wy. Toe sy pa in 2003 aan longkanker oorlede is, het dit egter dinge in perspektief geplaas; dat dit net ’n sport is. “Ons neem die lewe soms te ernstig op. Dinge gebeur nie altyd soos jy wil hê dit moet nie en dis nie die einde van die wêreld nie. Dis die einde as iemand doodgaan.”

Ja, die feit dat hy eers op 43 tot trou gekom het, is ’n opoffering wat hy vir sy loopbaan gemaak het.“Ander spelers trou en het kinders. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie, maar ek wil my kinders grootmaak soos ek grootgemaak is. As ek net halfpad so ’n goeie pa soos myne kan wees, is dit reg. En daar is geen manier hoe ek ’n goeie pa en man kan wees as ek so baie reis nie.”

Met ’n gesin wil hulle gou begin. Charlene: “Tweetjies, as ons geseën genoeg is. Ek dink nie ek sal meer kan hanteer nie.” Hy: “Jy is góéd met kinders.” Sy knik: “Ek is mal oor kinders. Jacques ook, hy is soos ’n baby whisperer. Gee hom ’n skreeuende baba en daai kind raak dadelik aan die slaap.”

Én hy is goed voor die kospotte, dalk beter as sy, voeg Charlene by. Darem nie, skud hy kop. Sy: “O, ja, hy maak ’n wonderlike salm. Nou die aand het hy kreef gemaak . . .”

Sy het vir hom ’n internetskakel gestuur om te bepaal wat sy liefdestaal is, hoe hy dus liefde wys en ontvang. Uiteindelik het sy dit maar vir hom uitgewerk.“Hy is nie juis ’n man vir woorde nie, maar hou van aanraking, om bietjie gekielie te word.” Sy vroetel in sy nek. Hy, onverstoord: “Watter man dan nie?”

Sy weer wil dit hóór. Soggens kry hy koffie in die bed en herinner sy hom: “Jy het nog niks gesê nie ...” En hy antwoord dan: “Het ek jou al vertel hoe lief ek vir jou is?”

Toe pastoor Robert Johnson op hul troudag sê hulle moet mekaar die regterhand gee, gryp ’n windjie haar lang sluier. Op en op . . . tot dit kompleet soos ’n paar ragfyn, wit vlerke lyk.

d
FOTO Hanri Human
r
FOTO Hanri Human
trou
Charlene en haar blommemeisie, die 4-jarige Rebecca, dogter van Jacques se suster. In haar hare is ’n sagte blomkransie van krytblom. FOTO Hanri Human
t
Dr. Robert Johnson, ’n vriend se pa, het die seremonie behartig FOTO Hanri Human
t
Wit bloeisels vir konfetti. FOTO Hanri Human
hanri
Die mooiste strooimeisies. Van links is Maritsa Smit, Julie Christie, Cara Scott (Charlene se suster) en Celeste Davidson. Voor staan blommemeisie Rebecca. Die nousluitende sjampanjekleur rokke het 'n effense sleep gehad. Hul ruikers was krismisrose uit Spanje.
t
Saam met Jacques en Charlene en die bruidsgevolg is Jacques se suster, Janine Scholtz (regs van hom). FOTO Hanri Human
d
Die bruidspaar en Charlene se ouers, dr. Louis en Heleen Engels (regs). Links voor staan haar suster, Cara, en haar man, Jason. Agter hulle staan haar broer, LG Engels, en sy verloofde, Anel Myburgh. Charlene hou haar suster se ruiker vas omdat haar eie een van orgideë “bitter hartseer gelyk het weens die rook en roet”. FOTO Hanri Human
t
Kunstenaar Monja Cloete het die seremonie as geskenk aan die bruidspaar geskilder. Dit was ’n verrassing van fotograaf Hanri Human. FOTO Hanri Human
t
Gaste is verwelkom met ’n verfrissende Aperol Spritz, ’n mengeldrankie met Italiaanse vonkelwyn. Die VW Kombi, ’n 1972-model, het as kroeg gedien. FOTO Hanri Human
d
Acoustic Element (Callen Petersen, op viool, en Jody Abel) het gaste vermaak terwyl die bruidspaar se foto’s geneem is. FOTO Hanri Human
t
Jacques en sy strooijonkers Mark Boucher (links), oud Protea-krieketspeler, en Grant Veenstra, bekende gholfafrigter. Die drie doen alles saam, speel gholf, gaan gereeld saam Bosveld toe en saam op vakansie. FOTO Hanri Human
t
Graeme Smith, voormalige Protea-kaptein, gesels met Venky Mysore, eienaar van die Kolkata Knight Riders. FOTO Hanri Human
t
FOTO Hanri Human
FOTO Hanri Human
FOTO Hanri Human
t
Asemrowend in wit en goud. Kristal op die glastafels het die warm gloed weerkaats van honderde vanieljekerse wat die rookreuk moes demp. Sowat 350 meter amberkleurige liggies is gebruik. Wit en byna-wit kersiebloeisels uit die Ooste, rose uit Kenia, krismisrose uit Spanje en orgideë uit die Verre Ooste het die onthaalplek in ’n sprokieswêreld omtower. FOTO Hanri Human
t
Die spog-troukoek met vyf lae: wortel-en-pekanneut, sjokoladeneut, suurlemoenvanielje, rooifluweel en vrugtekoek. Laasgenoemde was Jacques se enigste versoek vir die troue. Die koek is met vars blomme versier en ná die hoofmaal gesny as deel van die nagereg. FOTO Hanri Human
t
Onder die gaste was Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld en haar man, D’Niel. FOTO Hanri Human
r
Charlene se parmantige partytjierok met die geborduurde kralemotief is ook deur Anel Botha ontwerp. Die kraalfraiings is een vir een met die hand aangewerk. FOTO Hanri Human
t
Ontwerper Anel Botha en haar man, Graham Calver FOTO Hanri Human
t
Svenja Boesenberg en haar verloofde, Robert Johnson. FOTO Hanri Human
t
Abi en Chris Dales (links) en Kelly en Stuart Truter. FOTO Hanri Human
t
Venky saam met Gaynor en Johann Rupert. FOTO Hanri Human
t
Charlene se ma, Heleen, en tannie (pa se suster) Hannalie van Tonder (agter) FOTO Hanri Human
t
Janine, Jacques se suster, en haar man, Juan. FOTO Hanri Human
Omesh Authar en Katie James.
Omesh Authar en Katie James. FOTO Hanri Human
g
Nick Nicolaou (links), die troubeplanner, en Miguel Pereira, wat die dekor en blomme gedoen het. “As dit nie vir hulle was nie, het die dag nie gebeur nie.” Hulle het deurnag gewerk. FOTO Hanri Human

Bedankings

Trouplek: Bona Dea-landgoed, office@bonadea.co.za, www.bonadea.co.za

Troukoördineerder: Events By Nick, 084 887 7766, @events_bynick

Blomme en dekor: Funxion Fusion Events & Décor, 082 414 2419, @funxion_fusion

Koek en verpersoonlikte macarons: The Birdcage (Stellenbosch), 021 882 9790, www.birdcageteabar.com

Ringe: CH Diamonds, 082 552 0721, @carlohayes

Rokke (trourok, partytjierok en ma van bruid): Anel Botha Couture, anel@anelbotha.com, @anelbothac

Rokke (strooimeisies, blommemeisie en bruidegom se suster): LENA LISA, 072 501 7612, www.lenalisa.com

Bruidegom en strooijonkers se pakke: Fabiani, www.fabiani.co.za

Skoonheids- en kosmetiese behandelings: GenPrac, 082 095 5231, www.drjannel.com

Hare en grimering op troudag (bruid en gevolg): Lisa Brown International Academy, 079 597 9778, www.lisabrown.co.za

Hare (kleur en verlengings): Marios Company Hair Greenpoint, 021 801 0667, www.marioscompanyforhair.com

Kroegdienste (kroegstrukture en spesialiteitsmengeldrankies): Thirst Bar Services, www.thirst.co.za

Illustreerder by troue: Monja Cloete, monja@monjacloete.com, www.deerlystudio.co.za

Foto’s: Hanri Human Troues, hanrihumanweddings@gmail. com, @hanrihumanweddings

Videografie: Christoff Durr, Verve Films, info@vervefilms. co.za, www.vervefilms.co.za