Sy is kinderlik opgewonde, een van die dae trou sy met haar beminde. Die aktrise Cintaine Schutte, SARIE se November-voorbladster, kan nie wag om ’n ewigheid saam met haar verloofde, akteur Carel Nel, deur te bring nie.
“Hy’t so onverwags in my lewe ingeval. Hy sê mense dink dikwels met die eerste ontmoeting hy is kwaai, nors, want hy’t ’n ernstige gesig. Hy’s ’n stil man, privaat. Dis altyd lekker om mense dop te hou as hulle hom ontmoet. Ek dink dan: ‘Wag net tot jy hom leer ken. Hy gaan so diep in jou hart kruip ...’ Hy’s die lojaalste vriend wat jy kan kry. Hy maak my rustig en bring my terug aarde toe,” vertel Fynskrif se Katrien in haar onderhoud met SARIE.
Die afgelope naweek het Cintaine se ma, suster en strooimeisies haar nuwe lewensavontuur gevier. Cintaine wou nie ’n tradisionele kombuistee hê nie, daarom het ma Hesté vir haar en sus Mirishin met ’n spabehandeling bederf by die Camps Bay Retreat-boetiekhotel.
“Dis een van my gunstelingplekke,” vertel sy.
Maar toe sy uit die spa-tent kom, staan haar strooimeisies daar met sjampanje, ballonne en piekniekmandjies. “Ek was glad nie bewus van die piekniek wat my ma ook gereël het nie, so ek was so emosioneel en gelukkig toe ek hulle sien.”
In die strooimandjies was koue vleise, vars brode, slaaie, vrugte en malvapoeding. Hulle het ook mojito-skemerkelkies geniet.
Die dag was vol hoogtepunte.
“Al ons vroue wat in ’n kring sit en gesels oor die lewe, raad en bystand gee oor die liefde ...”
En ewe spesiaal was dat haar vriendinne, wat sy as haar “tribe” beskryf, haar geliefde ma kon ontmoet het. “En natuurlik Roeline [Daneel] se dogter, Alexa, wat die dag saam met ons spandeer het.”
Die bietjie tyd wat sy vir haarself gehad het, was ook nie te versmaai nie, veral ná ’n jaar vol opwindende projekte. “Dit was ’n prentjiemooi dag.”
Lees Cintaine se onderhoud in die November-uitgawe (nou te koop!).
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET