Julle het ’n jaar terug op ’n troudatum besluit. Die venue is bespreek, die rok is reg, die pak pas eksieperfeksie, die gaste het bevestig, die fotograaf is gereed en die tyd het uiteindelik aangebreek ... toe gebeur Covid-19.

Skielik het jou droomtroue in ’n aaklige subplot van ’n fliek verander. Lande reg oor die wêreld is in ’n staat van inperking, Suid-Afrika ingesluit. Vanaf Donderdag om middernag tot middernag op 16 April gaan die meeste mense nie hul huis of woonstel mag verlaat nie, tensy hulle supermark of apteek toe wil gaan. Om jou troue uit te stel is nou ’n realiteit en waarskynlik ook jou plig, selfs al val dit buite hierdie 21 dae.

Hoe gemaak? In romkoms word troues afgestel, nie uitgestel nie. Julle wil beslis nog trou. 

Schané Venter, SARIE se Voorbladgesigwenner van 2019, het verlede week ook haar en haar verloofde, Marion Fouché, se troue uitgestel. Dit sou op 2 Mei plaasgevind het.

“Ons het nie met die idee geworstel nie,” sê Schané. “Ons het laas week gesit en gesels, realisties al die voor- en nadele gelys. Hoewel dit steeds ons grootste hartsbegeerte is om te trou, was dit net nie regverdig teenoor ons en ons gaste nie.”

Schané, wat al so lank droom om met Marion trou, wou nie ’n donker wolk oor hul dag laat hang nie. “Ons wil nie ’n troue hê waar niemand van ons gaste liefdevol kan wees en mekaar eens kan druk nie. Ons wil nie ’n troue hê waar niemand gaan dans nie, want almal is te bang om aan mekaar te vat nie. Ons was ook nie bereid om ons vriende wat swanger is en ook al die ouer gaste in onnodige gevaar te stel nie. Ons hou net vir onsself aan sê dat ons happily ever after is delayed, not denied.”

Waar begin mens as jy besluit het om uit te stel? Volgens Schané het hulle heel eerste die venue geraadpleeg. “Dis so ’n moeilike situasie vir almal, niemand doen dit oor hulle wil nie, dis nou ’n vereiste en ’n realiteit.” 

Schané en Marion het onmiddellik datums aangevra vir opsies aan die einde van die jaar - al is hulle onseker of alles teen daai tyd weer normaal gaan wees. 

“Eers daarna het ons die gaste laat weet. En toe het ons elkeen van ons verskaffers ingelig en die situasie verduidelik.”

Hulle het ook vrede gemaak met die finansiële implikasies van die uitstel. “Die hele Suid-Afrika is nou onder geweldige druk. Arme Marion is ook steeds besig om ons wittebrood uit te sorteer.”

Schané se wenke:

- Skakel jou emosies af, dink logies en prakties hieroor.

- Indien jy ’n troubeplanner het, bespreek eers alles met hom.

- Besef dinge gaan nie binne ’n maand of twee opgelos kan word nie. Speel veilig en kies ’n datum later in die jaar of selfs vroeg volgende jaar.

- Bespreek die situasie eers met jou venue en dan jou gaste en verskaffers. 

- Onthou: Jou sprokiesdag gaan steeds ALLES wees wat jy wil hê, net ’n klein bietjie later. Dit gee jou eintlik tyd om 100% seker te maak alles is presies soos jy dit graag wil hê.

Wat moet jy nog doen?

- Bespreek so gou as moontlik ’n nuwe datum met jou venue, jou fotograaf en die persoon wat julle in die huwelik gaan bevestig. Talle paartjies sit in dieselfde bootjie en dit kan ’n erge bottelnek veroorsaak.

- Indien jou fotograaf nie beskikbaar is, vra hom of hy iemand kan aanbeveel wat dieselfde soort gevoel kan vasvang as wat julle bespreek het. 

- Gaan jou kontrakte met jou verskaffers na, en vind uit wat hul beleid ten opsigte van kansellasies en deposito’s is. Probeer om ’n oop gesprek met hulle te hê en ’n praktiese middeweg te vind.

- Weet dat jy dalk geld gaan verloor. Almal gaan ’n onseker tyd binne.

- Stuur nuwe RSVP-kaartjies aan jou gaste.