In SARIE se Julie 2019-uitgawe verskyn die goue rolprentpaartjie se spesiale troue. ’n Bruilof wat oor twee dae plaasgevind het, die seremonie en onthaal Vrydag en ’n intieme langtafel Saterdagaand. Hul eie “Vir Altyd” op die wynlandgoed Blaauwklippen.

Die gewilde fotograaf Jenni Elizabeth was die Vrydag by met haar kamera. Haar hoogtepunt? Toe Donnalee in die paadjie afgestap gekom het en Ivan se oë vol trane geskiet het, verklap sy. “Dit was asof tyd stilgestaan het.”

FOTO Jenni Elizabeth

Hul huweliksbeloftes aan mekaar was ook besonders, sê sy. “Jy kon hul liefde vir mekaar in daardie beloftes hoor, dit was ’n intieme oomblik.”

Donnalee in haar Vesselina Pentcheva-skepping. FOTO Jenni Elizabeth

Boonop het Ivan vir Danie du Toit, liedjieskrywer en lid van Spoegwolf, gevra om sy huweliksbeloftes te toonset. Danie het dit by die seremonie vir Donnalee gesing. “Die oomblik was hoendervel!”

Die troue self was ’n “visuele fees”, volgens Jenni. 


Trou-etiket en raad vir bruidspare

Haar raad aan bruidspare? “Jy kan niks op jou groot dag verander nie, so haal diep asem en ontspan.” Sy meen paartjies moet fokus op mekaar, op die oomblik. “Maak tyd vir julself, neem als in. Eet jou gunsteling-eetding en dans op daai liedjie. Die dag kan gou verbygaan. Julle moet ook die dag geniet, nie net jul gaste nie.” 

Die fotograaf Jenni Elizabeth FOTO Fiona Clair Photography

As troufotograaf het sy geen beswaar oor gaste wat spesiale oomblikke met hul selfone wil vasvang nie. “Maar bêre jou foon as die bruid in die paadjie afstap. Neem eerder die oomblik in, want daai selfone wat in die paadjie uitsteek lyk nie mooi op ’n foto nie.”

Trou-trends

Daar is talle tendense wat Jenni by SA troues oplet. “Daar is ’n meer ontspanne gevoel.”

Aansit-etes word verruil vir kos-stasies, help-jouself-bier en draairoomys. Agtergrondmusiek word met ’n lewendige band vervang. “Daar is vir seker ’n meer feestelike gevoel. Paartjies doen al hoe meer hul eie ding.”

Een van die grootste tendense is die boheemse invloed. “Vloeiende rokke met groot moue, hare met krulle en blomme, ’n mengelmoes-ruiker.”

’n Boheemse gevoel het die ruimte gevul. FOTO Jenni Elizabeth

- Donnalee en Ivan se Vrydag-bruilof word in SARIE se Julie 2019-uitgawe gewys (nou te koop). Hul Saterdag-troue, wat deur Aglow Photography vasgevang is, gaan in die nuwe SARIE Bruid verskyn.