So is die Hollywood-aktrise en Britse prins toe getroud - en wat 'n sprokiestroue was dit nie! Saterdag het Meghan Markle die paadjie van die St. George-kapel afgestap, 'n visioen in haar wit Givenchy-rok. Voor die altaar het haar geliefde, prins Harry, op haar gewag met sy strooijonker, prins William, aan sy sy.

Dit was die troue van die jaar ... een waaroor nog lank gepraat gaan word! 

FOTO Instagram / @kensingtonroyal

Oor die wêreld heen het miljoene mense gereed gesit om die hertog en hertogin van Sussex se groot dag mee te maak. En Meghan se rok het vir ’n historiese mode-oomblik gesorg - nes dié van die hertogin van Cambridge, haar skoonsus Kate Middleton, en prinses Diana, die vrou wat haar skoonma sou wees.

Volgens Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur, was die rok 'n treffer. "Sy het soos ons voorspel het 'n rok van satyn gedra, treffend in sy eenvoud. Modern en klassiek!"

En Monica Pienaar, SARIE se skoonheidskrywer, sê: "Meghan het beeldskoon gelyk. Ons was mal oor haar hare in die klassieke, lae opstyl. Dis elegant en formeel en het gepas by die tiara. Sy het nie ver afgewyk van haar gewone grimeervoorkoms nie. Haar rokerige oë en sagpienk lippe en stralende vel pas haar perfek. En natuurlik wys haar sproete ook!"

Onthou jy ...

19 Mei 2018

'n Lieflike sonskyndag begroet die meer as 1,9 miljard mense wêreldwyd wat agter hul TV regskuif om bruilof te hou. Die SARIE-span was self voor hul kassie (met koek en tee natuurlik!).

FOTO Instagram / Kensington Royal

Die kerk

Die pragtige paartjie is in die St. George-kapel, deel van die koninklike Windsor-kasteel, getroud. Die kapel was met bosse wit blomme versier en in die volgepakte kerk het 'n simfonieorkes sagte musiek gespeel.

FOTO Instagram / Kensington Royal

Die rok

Meghan het ongelooflik gelyk met haar Givenchy-rok van koninklike satyn. Sy het nes wyle prinses Diana 'n dramatiese sleep van byna agt meter lank gehad. Die hele prentjie was asemrowend!

FOTO Instagram / Givenchy

Die tiara

Wat 'n ongelooflike diamantkroon! Meghan het besluit op die Filigree-tiara, wat aan koningin Mary (koningin Elizabeth II se ouma) behoort het.

FOTO Instagram / Kensington Royal

Die koets

Die paartjie het besluit om in die 1883-Ascot-Landauer te ry, dieselfde koets waarin prins Harry gery het toe ouboet prins William getroud is.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die soen

Die paartjie het op die trappe van die St. George-kapel gesoen. Hulle het ook weer in die koets gesoen.

FOTO Instagram / Kensington Royal

Die troukoek

In plaas van die tradisionele vrugtekoek het die paartjie besluit op 'n koek van suurlemoen en vlierblom (elderflower). Dit is met botterroomversiersel en vars blomme versier. Dit was 'n treffer!

FOTO Instagram / Kensington Royal

29 April 2011

William en Kate se troue. Meer as twee miljard mense wêreldwyd het hul groot dag op TV gadegeslaan. 

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die kerk

Soos die twee prinse se ouma en oupa, koningin Elizabeth II en prins Philip, het die paartjie besluit om in die Westminster-abdy te trou. Die prag-gebou, wat duisend jaar oud is, bring ook hartseer herinneringe, want dit is waar prinses Diana se gedenkdiens gehou is. 

FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoekom dié kerk? Weens die 2011-resessie wou die paartjie nie so ’n groot troue hê nie en het hulle besluit op die Westminster-abdy, wat net sowat 2 200 mense kan hou. Charles en Diana is in die veel groter St. Paul-katedraal (3 500 mense) getroud.

Die rok

In haar Alexander McQueen-rok het Kate dadelik ’n mode-ikoon geword. Duisende bruide wou daarna in ’n satynrok met kantmoue trou. Die rok het 58 knopies gehad en die sleep was 2,7 meter lank.

FOTO Getty Images

Die tiara

Koningin Elizabeth het vir Kate een van haar tiaras geleen. Dit was ’n geskenk van haar pa, koning George, op haar 18de verjaardag. 

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die koets

Die pasgetroude paartjie het in die Staatslandauer, die pragtige koets uit 1902, gery. Charles en Diana het in dieselfde koets gery.

FOTO Getty Images

Die soen

Nes sy pa het William sy nuwe bruid op die balkon van die Buckingham-paleis gesoen onder groot gejuig van die skare.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die troukoek

Dit was ’n tradisionele vrugtekoek wat uit agt lae bestaan het. 

FOTO Getty Images / Gallo Images

29 Julie 1981

Op dié dag het ’n miljard mense vasgenael voor hul TV-skerms gesit om te kyk hoe prins Charles en lady Diana trou.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die kerk

Die groot seremonie in die St. Paul-katedraal is deur 3 500 mense bygewoon. Die tradisionele trouplek vir koninklikes, die Westminster-abdy, was te klein en dis waarom dit verskuif is. 

FOTO Getty Images

Die rok

In spanning het ons gewag om ons geliefde lady Di se trourok te sien. Dit was ’n ikoniese oomblik toe sy uit die koets klim. Talle ontwerpers het daarna die tafsy-skepping deur David en Elizabeth Emanuel as inspirasie gebruik. Dit het ’n sleep van byna agt meter gehad!

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die tiara

Diana het ’n familie-tiara, die Spencer-tiara, gedra. 

FOTO Instagram

Die koets

Die pasgetroudes het in die oop Staatslandauer gery.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die soen

Toe die pasgetroudes op die balkon verskyn, het prins Charles protokol verbreek en sy bruid gesoen. Die gejuig was oorverdowend.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die troukoek

Dit het bestaan uit twee tradisionele versierde vrugtekoeke (elk vyf vlakke hoog!) met die Windsor-wapen in marsipein. Dis deur die Royal Navy Cookery School gebak danksy Charles se verbintenis met die vloot.

FOTO Getty Images / Gallo Images

20 November 1947

Elizabeth, oudste dogter van koning George en die koninginmoeder Elizabeth en destyds nog prinses, is 70 jaar gelede met Philip, hertog van Edinburgh, getroud. Meer as 200 miljoen mense wêreldwyd het ingeskakel om na die BBC-uitsending te luister.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die kerk

Die seremonie het in die Westminster-abdy plaasgevind. Elizabeth het agt strooimeisies (onder wie haar suster, prinses Margaret) gehad. Daar was 2 000 gaste by die onthaal. Die paartjie het 2 500 trougeskenke en 10 000 telegramme met gelukwense ontvang.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die rok

Elizabeth se rok, ’n skepping deur die Britse ontwerper sir Norman Hartnell, was van ivoorkleur satyn. Dis met 10 000 wit pêrels en fyn silwer borduurwerk versier. Die troue was skaars twee jaar ná die oorlog en die jong prinses moes haar rantsoenkoepons spaar om die materiaal te kon bekostig.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die tiara

Dis die George III-tiara, ook bekend as die "Russian Fringe".

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die koets

Die paartjie het in ’n toe glaskoets gery. 

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die oomblik op die balkon

Dit was teen protokol om mekaar in die openbaar te soen. Die pasgetroudes het egter op die balkon verskyn en vir die skare gewaai.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die troukoek

Dit het byna 230 kg geweeg en uit vier vlakke bestaan. Die bestanddele is deur die Australiese Girl Guides geskenk.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Koninklike troues bly net sprokiesagtig!