As jy 'n gas by 'n troue is, weet jy daar is sekere uitrustings wat net nie geskik is nie. Vergeet van daai wit rok, kortbroek of plakkies, al is hulle hoe blink. Maar het jy al ooit gewonder wat die protokol is vir aantrek na 'n koninklike troue? 

Dís wat gaste mag dra/nie mag dra nie

Vroue

Vroue moet 'n rok met 'n hoed geskik vir die dag dra. Of 'n romp en netjiese baadjie. Vir die seremonie in die kerk mag die skouers nie oop wees nie, die lengte moet 'n klein bietjie bo óf onder die knie wees. Skoene moet toe wees. Die kleur kan helder wees en selfs 'n blommotief hê, maar swart en wit is uit.

En daai hoed? Gaste word aangemoedig om een te dra, veral tydens die seremonie. Maar kies natuurlik 'n hoed wat nie iemand se sig sal belemmer nie. 

Vir die onthaal die aand word van vroulike gaste verwag om 'n langer, deftiger rok te dra. Die hoed word gegroet en kan met 'n tiara vervang word.

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

Mans

Die gaste kan óf hul uniform óf 'n oggendpak óf 'n besigheidspak dra. Wat is 'n oggendpak? Dit is 'n redelik deftige pak met 'n swaelstertbaadjie, onderbaadjie en das. Die kleure wissel van swart tot duifgrys en grys. Dieselfde geld die besigheidspak. Die skoene moet swart wees.

Vir die onthaal sal slegs 'n netjiese aandpak deug.

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

Wat is die protokol vir Meghan en Harry?

Meghan

Meghan se naels sal elegant gemanikuur wees, maar helderkleurige naellak word nie toegelaat nie. Daar word vermoed Meghan gaan dieselfde tiara as wyle prinses Diana, wat haar skoonma sou wees, dra. Die Spencer-tiara is ook ná haar troue gereeld deur die prinses gedra.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Harry

Die kans is goed dat die prins 'n uniform sal dra nes sy ouboet, prins William. Indien nie, sal hy 'n oggendpak dra. 

Bronne: Observer, Marie Claire