'n Verloofring met drie diamante pryk aan Meghan Markle se vinger. Die Amerikaanse aktrise en haar Britse prins het uiteindelik besluit dis tyd om hul geluk met die wêreld te deel. Sy het sowat 'n maand gelede ja gesê toe prins Harry haar in sy huisie agter die Kensington-paleis gevra het om te trou terwyl hulle besig was om aandete te maak. Die troudatum is in Mei.

Prins Harry het die ring self ontwerp en dis pragtig, nes dit 'n koninklike verloofring betaam. Oor die jare het ons al verskeie unieke ringe gesien, met party wat selfs fassinerende verhale agter dit het. 

Meghan Markle 

Ontwerp: Drie diamante geset in witgoud. Die hoofsteen kom van Botswana, waar die twee al romantiese vakansies gehou het en wat die prins sy tweede huis noem. Die twee stene weerskante het aan Harry se ontslape ma, prinses Diana, behoort. 

FOTO Instagram
FOTO Instagram

Kate Middleton, hertogin van Cambridge

Meer as twee miljard mense wêreldwyd het gekyk toe sy met prins William, prins Harry se ouer broer, getroud is.

Jaar van verlowing: 2010

Ontwerp: 'n Blou saffier omring deur 14 klein diamante, geset in witgoud.

Interessante feit: Dit was prinses Diana se verloofring.

FOTO Instagram
FOTO Instagram

Camilla Parker Bowles, hertogin van Cornwall

Sy en die twee prinse se pa, prins Charles, is al 12 jaar getroud.

Jaar van verlowing: 2005

Ontwerp: 'n Vierkantige diamant met twee reghoekige diamante weerskante. Die stene is in platinum geset. 

Interessante feit: Die ring het aan koningin Elizabeth II se ma, ook koningin Elizabeth, behoort.

FOTO Instagram

FOTO Instagram

Sophie Rhys-Jones, gravin van Wessex

Sy is in 1999 met koningin Elizabeth se jongste, prins Edward, getroud.

Jaar van verlowing: 1999

Ontwerp: 'n Ovaalvormige diamant met twee hartvormige diamante weerskante. Die stene is in witgoud geset. 

Interessante feit: Die paartjie is in die St. George-kapel getroud, 'n kleiner kerk in die Windsor-kasteel waar Meghan en prins Harry ook gaan trou.

FOTO Instagram

FOTO Instagram

Sarah Ferguson, hertogin van York

Sy was vir 10 jaar met koningin Elizabeth se derde kind, prins Andrew, getroud. Die paartjie is ongelukkig in 1996 geskei.

Jaar van verlowing: 1986

Ontwerp: 'n Ovaalvormige robyn omring deur klein diamante in die vorm van traandruppels. Dis in goud geset.

Interessante feit: Prins Andrew het die robyn gekies om by Sarah se vlamrooi hare te pas. Robyne was nog vir lank daarna 'n gewilde keuse vir verloofringe.

FOTO Instagram
FOTO Instagram

Diana Spencer

Haar en prins Charles se huwelik is ongelukkig in 1996 beëindig. Hulle was vir 15 jaar getroud.

Jaar van verlowing: 1981

Ontwerp: 'n Blou saffier omring deur 14 klein diamante. Dis in witgoud geset.

Interessante feit: Ná haar dood kon haar twee seuns van haar juwele kies om te hou. Prins Harry het haar verloofring gekies, maar later met prins William geruil. Dis die ring wat Kate nou dra.

FOTO Instagram
FOTO Instagram

Prinses Anne, dogter van koningin Elizabeth

Sy is in 1973 met haar eerste man, kaptein Mark Phillips, getroud. Die paartjie se paadjies het ná 19 jaar geskei. 

Jaar van verlowing: 1973

Ontwerp: 'n Klassieke saffier knus tussen twee diamante. 

Interessante feit: Die paartjie is op prins Charles se 25ste verjaardag getroud.

FOTO Instagram
FOTO Pinterest

Prinses Margaret, ontslape suster van koningin Elizabeth

Sy is in 1960 met 'n fotograaf, Anthony Armstrong-Jones (lord Snowdon), getroud. Dit was die eerste koninklike troue ooit wat regstreeks uitgesaai is. Die huwelik het 18 jaar gehou.

Jaar van verlowing: 1960

Ontwerp: 'n Robyn omring deur diamante.

Interessante feit: Anthony het die ring ontwerp om soos 'n roosknoppie te lyk omdat die prinses se tweede naam Rose is.

FOTO Instagram
FOTO Instagram

Koningin Elizabeth

Sy is vanjaar al 70 jaar getroud met prins Philip. Hulle is op 20 November 1947 in die Westminster-abdy in Londen getroud.

Jaar van verlowing: 1947

Ontwerp: 'n Groot diamant met kleiner stene weerskante. Die stene is in platinum geset.

Interessante feit: Die stene kom uit die kroon van prins Philip se ma, prinses Alice. Hy het die ring self ontwerp.

FOTO Instagram
FOTO Instagram