Terwyl die land homself te midde van ’n grendelstaat bevind het, het Denielle Nel op Facebook gelees van SARIE se nuwe hulpbron vir bruide: 'SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste'. Uit pure nuuskierigheid het sy gaan kyk na al die rokke wat in SARIE se virtuele troukas hang, maar nooit het sy gedink dat sy haar droomrok in daai einste kas sou ontdek nie. O, was sy verkeerd!

"Ek het elke dag op die webtuiste gaan loer om te kyk wat beskikbaar is. Daar was veral een spesifieke rok wat my aandag getrek het. Ek het gereeld gaan loer of die rok nog beskikbaar is," vertel Denielle. Die toekomstige bruid gaan volgende April in Cradock, Oos-Kaap, met haar hoërskool-liefde, Eben Opperman, trou.

En vandag is sy die trotse (nuwe) eienaar van ontwerper Cindy Bam se Beautiful Blushing Bride-trourok.

"Ek kan myself nie in ’n ander rok sien nie. Elke keer wat ek hierdie trourok sien, besef ek dat ek beslis die regte keuse gemaak. Die rok is vleiend en so gemaklik dat ek beslis die hele aand sal kan geniet."

dienelle nel

Denielle is die eerste leser wat ’n trourok deur SARIE se nuwe webtuiste, 'SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste' gekoop het. Lise Coetsee was die eerste eienaar van dié vleiende rok met ligpienk en kantbesonderhede. Ná Denielle besef het sy wou dié rok koop, het sy per e-pos (deur die webtuiste) na Lise uitgereik. Later het die twee per WhatsApp gesels. Lise het al Denielle se vrae beantwoord en selfs ekstra foto's van die rok verskaf om seker te maak al Denielle se vra word beantwoord.

"Ek sou nooit kon dink dat ek iemand anders se rok sou koop nie! Mens hoor nooit van sulke geleenthede nie. Ek het oral gekyk na rokke, maar ek my hart verloor op dié spesifieke rok."

Vir nou stoor Denielle se skoonsuster die rok vir haar in Kaapstad totdat die verloofde paartjie in September 'n Kaapse draai kan maak om haar droomrok op te laai.

Kan Denielle se gelukskoot ook joune wees? Gaan soek op 'SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste' vir jóú droomrok.