Aynslee en PF Minnaar was op die punt om ’n weglooptroue te reël, toe hulle die goeie nuus hoor: Hulle het ’n troue ter waarde van R100 000 by die Bellevue-wynplaas buite Stellenbosch gewen. 

Sy onthou die dag nog so goed. “Ek was in Denemarke vir die Wêreld-Landloopkampioenskap toe ek die e-pos van SARIE ontvang.”

Aynslee het toevallig net toe met PF oor die foon gesels. “Ons was eintlik besig om ’n elopement te beplan ... ek het dadelik begin skree en moes myself kalmeer sodat ek vir arme PF kon verduidelik wat aangaan.”

Die paartjie kon toe, soos wat hulle nog altyd gedroom het, ’n bruilof saam met hul vriende en familie hou.

FOTO Tam’s Photography

Soos met enige romantiese komedie het Aynslee en PF ’n oulike meet cute. Sy was in graad 11 en hy ’n eerstejaar by Tukkies. Hulle was by ’n gemeenskaplike vriendin se partytjie toe hulle mekaar die eerste keer sien. “Dit was regtig love at first sight. Ons het die hele aand gesels en ’n week later was ons eerste afspraak.”

Gou het PF vir Aynslee gevra om sy nooi te wees. “Ons het vir twee jaar uitgegaan toe ek ’n atletiekbeurs ontvang om aan die Coastal Carolina-universiteit in Suid-Carolina, VSA, te studeer.”

Dit was ’n ongelooflike geleentheid, vertel Aynslee. Die atletieklegende Zola Budd-Pieterse het haar persoonlik afgerig. “PF het my nog altyd ondersteun en wou hê dat ek my drome navolg.”

Tog was dit ook ’n uitdaging. “Die eerste twee jaar was die moeilikste, dalk oor ons nog so jonk was. ’n Langafstandverhouding verg baie werk en moeite. Maar ons is dankbaar, want dit het ons sterker gemaak.”

FOTO Tam’s Photography
FOTO Tam’s Photography
FOTO Tam’s Photography

Sy het in 2018 teruggekeer na Suid-Afrika toe.

“Op my verjaardag in die Harold Porter Botaniese Tuin het PF my toe gevra om te trou.”

Hulle is op 14 Desember 2019 op die pragtige Bellevue-landgoed buite Stellenbosch getroud. Dit was ’n intieme troue en die tema vetplante. “Die kleurskema het dit ook weerspieël. Ek en PF is mal oor die natuur.”

Die seremonie het onder die bome plaasgevind. Aynslee het op die ikoniese Elvis Presley-liedjie “Can’t Help Falling In Love” ingestap. “Die dag was perfek. Reën is voorspel, maar dit het toe nie tydens ons seremonie gereën nie. Net op ’n spesiale oomblik, tydens die diens, het ’n paar druppels geval. Dit het gevoel of die Here ons seën.”

Toe hulle begin foto’s neem, het die hemele oopgebreek. “Maar ons het baie gelag en eintlik die fotosessie nog meer geniet. Ons was in die wingerd toe dit uitgesak het en moes tot by die onthaalsaal hardloop. Ons was sopnat toe ons daar aankom.”

FOTO Tam’s Photography
FOTO Tam’s Photography

Bellevue het die ekstra myl geloop, sê Aynslee. “Niks was te veel moeite nie en die venue is beeldskoon. Al ons gaste het gesê dat dit by verre die lekkerste kos was wat hulle al by ’n troue geëet het.”

En wat was op die spyskaart?

“Ons gaste het ’n keuse gehad. Vir voorgereg: Salmterrien of sondroogtamatie-quiche. Vir hoofgereg: Hoender of biefstuk met groente. Vir nagereg: Sjokolade-mousse.”

FOTO Tam’s Photography
FOTO Tam’s Photography
FOTO Tam’s Photography
FOTO Tam’s Photography
FOTO Tam’s Photography
FOTO Tam’s Photography

Verskaffers: 

VENUE Bellevue-wynlandgoed, Stellenbosch

FOTOGRAAF Tams Photography

VIDEOGRAAF Andre de Bruyn

TROUROK Smoorverlief Bridal

GRIMERING Flawless Finish

HARE Hair by Anandi

BLOMME Knot2Much

DEKOR Functions and Events

BUITESPELETJIES Lawn Games

GRAFIESE ONTWERPER Annamart van Graan van Dednam Creative

KOSPAKKIES VIR KINDERS Bites in a Box