CINNEDENE (CINDY PRINSLOO) EN RUALD STRYDOM

FOTO’S CELESTE CILLIERS PHOTOGRAPHY

Waar sal ’n mens ’n beter agtergrond kry vir ’n stadsprokie as die ikoniese Nelson Mandela-brug teen sonsondergang? Ruald is ’n gekwalifiseerde helikoptervlieënier en kon met die plaaslike metropolisie reël om die hele brug vir ’n uur te sluit. Dit het gesorg vir asemrowende foto-herinneringe teen die silhoeët van die goudstad.

Hul venue was die eens vervalle Turbine Hall in Newton, die kuns- en kultuurgebied van Johannesburg. The Forum Company het die gebou tien jaar gelede gerestoureer tot ’n unieke en gewilde venue – industrial chic op sy beste. Toe die klanke van die tradisionele troumars opklink, het Cinnedene uit ’n glashysbak van die boonste vloer af uitgestap vir die seremonie in die Boiler House Foyer met sy staalargitektuur. Haar liefde vir skoenlappers was die inspirasie vir hul confetti van handgemaakte papiervlinders.

Die paartjie het mekaar een Sondagaand in 2016 by die kerk ontmoet. Ruald is die direkteur van CEO Golf en Cinnedene is direkteur van haar eie skoonheidsmaatskappy. ’n Stadstroue was die voor die hand liggende keuse vir dié Pretoriase sakepaartjie.

bruid
Die trougeselskap op die ikoniese Nelson Mandelabrug. Van links is Marinette Strydom, Karen Prinsloo, Odette Prinsloo, Cinnedene en Ruald, Alwyn Strydom, Stefan Strydom en André Prinsloo.
bruid
Dié tiara van Swarovski-kristalle is die perfekte hooftooisel vir ’n monochroompalet met metaal- en glaselemente.
bruid
Hier kom die bruid! Die strooimeisies gaan vir oulaas die detail na op Cinnedene se klassieke satynbalrok. Die skouers en kapmoue is versier met kantappliekwerk en pêrels. Haar smal middel is beklemtoon deur ’n satynbelt versier met Swarovski-kristalle.
bruid
Die Turbine Hall se kelder met sy kolossale staalstrukture was die ideale plek vir ’n industriële onthaal. Wit Barbertonmadeliefies is silwer gespuit en saam met klimoptakke op twee lang gedekte tafels gerangskik. Die flikkerende lig van 150 tafelkerse is op spieëlblokke weerkaats vir ’n romantiese ligspel.
bruid
Die bruidspaar se witgoudringe is ontwerp deur Jenna Clifford. Cinnedene se ring het drie ronde diamante, waarvan die middelste een geset is in ’n aghoek omring deur kleiner diamante.
bruid
Die tafel in die kamer waar die bruid aangetrek het, is versier met balonne, soetgoed en foto’s uit die bruid se kinderdae.
bruid
Vir Ruald het tyd vir ’n oomblik stilgestaan toe hy “die mooiste vrou in haar wit prinsesrok sien”. Cinnedene se kleindogtertjiedroom van ’n swart-en-wit stadstroue is bewaarheid.
bruid
Cinnedene ken Turbine Hall se vroeë geskiedenis baie goed, danksy vertellings van haar ingenieurspa, wat tien maande voor hul troue oorlede is. Van buite lyk dit soos ’n gewone fabriek, maar binne is dit kunstig gerestoureer deur The Forum Company.
Celeste Cilliers Photography
FOTO Celeste Cilliers Photography
bruid
Die indrukwekkende vierlaag troukoek het geglinster soos die stad se liggies. Die sjokoladeversiering om die onderste laag herhinner aan ’n stadsilhoeët.
briuid
Cinnedene het ’n lang mantel van Italiaanse sy-tulle as alternatief vir ’n sluier gekies. Dit het dieselfde kant- en pêrelafwerking as haar rok gehad en is met drukknopies by die skouers geheg. Ruald het ’n wit vlerkpuntkraaghemp saam met sy driestukaandpak gedra, en ’n Rolex-horlosie as knoopsgatversiering.


Verskaffers

Venue: The Forum Company het op 31 Maart 2019 die huur van die Turbine Hall opgegee

Fotograaf: Celeste Cilliers Photography – 072 441 3071; www.celestecilliers.com

Videograaf: Stefan Kotzé van Salt ’n Pepper Photography – 073 300 6929; www.saltnpepperphotography.com

Trourok en strooimeisierokke: Ms Jackson’s – 081 413 1295

Bruidegom en strooijonkers se uitrustings: Eurosuit – 012 998 0252; www.eurosuit.co.za

Hare: Izelle Stander – 083 299 5982

Grimering: Cinnedene Make-up Artist and Aesthetics – 079 932 2902; www.cinnedene.co.za

Trouringe: Jenna Clifford – 011 523 660

Bruidegom se horlosie: Rolex (Mandela Square, Sandton)

Musiek: Cameron Bruce en Hannah Foster van BadWolf-orkes – 076 585 4368

Blomme: Juanita van Flower Dreams and Designs – 082 737 2632

SARIE bruid
Hierdie troue verskyn saam met 8 ander in die nuutste SARIE Bruid-uitgawe, landwyd op die winkelrakke