Erena en Marnus Kruger het self hul seremonie in die 119 jaar oue NG kerk op Rawsonville en hul onthaal op die pragtige Dwarsberg Trout Hideaway-vrugteplaas buite Rawsonville beplan, maar familie en vriende het ingespring vir ’n onvergeetlike spanpoging.

’n Reuse-markiestent is knus aan die voet van die Dwarsberg opgeslaan vir die om en by 250 bruilofsgaste. Deursigtige tentflappe het ’n ongerepte uitsig oor die berge en peerboorde verseker. In die tent het lang, witgedekte tafels met olyftakke en kerse gereed gestaan vir ’n romantiese feesmaal. Elke gas is met ’n persoonlike handgeskrewe briefie agterop hul naamkaartjie verwelkom.

Erena se klassieke twee-in-een-rok van geskulpte koordkant en Italiaanse tulle is gemaak deur dieselfde familievriendin wat 27 jaar gelede haar ma, Karen, se trourok gemaak het. Met warm harte is daar in die koue winter feesgevier sodat musiek tot in die vroeë oggendure tussen die berge weerklink het. Nie eens die feit dat hul drielaag-troukoek omgeval het, kon die paartjie se vreugde blus nie!

* Hierdie troue het oorspronklik in SARIE Bruid 2018 verskyn.

troudag
Erena se bruidsruiker was ’n welige bos vars wit krisante, rose, Cymbidiumorgideë, ridderspoor en kolkol met groenigheid tussenin - perfek by die blommotief van haar rok se kantbostuk. FOTO He is Visual
trou
Marnus het deftig gelyk in ’n swart pak en wit hemp, afgerond met ’n dun das en loofryke knoopsgatruiker. FOTO He is Visual
trou
Die stralende bruidspaar FOTO He is Visual
troudag
Prentjiemooi: natuurlike, golwende hare en ’n rugkant wat jou na jou asem laat snak. FOTO He is Visual
troue
Erena kom by die kerk aan. By haar is haar pa, Pieter Stofberg. FOTO He is Visual
trou
Die 1983-Mercedes Benz wat aan Erena se oupa, wyle Kobus Stofberg, behoort het, is as troukar ingespan. FOTO He is Visual
trou
Die wasige tulle-romp is na die seremonie verwyder om ’n A-lyn romp van rekbare skuba-crêpe te onthul. FOTO He is Visual
trou
’n Gawe ruiltransaksie vir albei partye: Erena se nefie, Jacobus Stofberg, kry ’n sjokolade in ruil vir die ring. FOTO He is Visual
trou
’n Ligte oomblik voor die kansel. FOTO He is Visual
troue
Die ou brandskilderglasvensters van die kerk het bygedra tot die romanse van die troue. FOTO He is Visual
trou
Ná die seremonie is hulle onder ’n confetti-reën van gedroogde krismisroosblare toegejuig. FOTO He is Visual
trou
Twee families word een: die bruid en bruidegom poseer saam met hul families voor die kerk. FOTO He is Visual
trou
Erena en haar twee susters. Kari (links) en Niki (regs) se mostertgeel maksirokke is geïnspireer deur ’n uitrusting van aktrise Nicole Richie en gemaak deur familievriendin Mercia du Toit FOTO He is Visual
trou
Die stylvolle swart-en-wit verwelkomingsbordjie is deur Erena ontwerp FOTO He is Visual
trou
Wit tafellinne en blomme saam met groen loof het gesorg vir ’n vars gevoel, terwyl goue kandelare met swart kerse ’n tikkie drama verleen het. FOTO He is Visual
trou
Die paartjie se besluiteloosheid het tot hul redding gekom… Omdat hulle nie kon besluit op ’n geur vir die troukoek nie, het hulle drie koeke laat maak. Die hoofkoek – ’n drielaag-wortelkoek met vars blomme – het kort voor die onthaal omgeval! Dié rooifluweelkoek, versier met witsjokolade en wit tulpe, het sodoende die ereplek ingeneem. Dit is, saam met die derde koek (sjokolade), as nagereg voorgesit. FOTO He is Visual


VERSKAFFERS

Venue Dwarsberg Trout Hideaway, 023 349 1919 – www.trouthaven.co.za; info@trouthaven.co.za

Fotograaf Jacques Albertyn van He is Visual, 076 416 6439 – www.heisvisual.com; jacques@heisvisual.com

Videograaf Ebert Steyn, 082 450 1799 – www.ebertsteyn.co.za; ebert@ebertsteyn.co.za

Grimering en hare (bruid) Alicia Buckle, 083 993 9050 – www.aliciabuckle.co.za; info@aliciabuckle.co.za

Grimering en hare (gevolg) Evelyn Francis, 079 877 7926 – www.evelynfrancis.co.za; info@evelynfrancis.co.za

Trourok en strooimeisierokke Mercia du Toit, 073 229 9837

Spyseniering Sandra Kenny, 082 807 9897

Markiestent Best Events & Hiring, 082 331 4135 – www.besteventhire.co.za; admin@besteventhire.co.za

Musiek DJ Pepe, 079 766 2427 – www.djpepesa.com