Op versoek van 'n vriend het sy Dino Giovannoni ná 'n biopsie by die hospitaal gaan haal - en toe Mari-Lize Viljoen hom sien, was sy onmiddellik verlief. 'n Jaar later was dié paartjie van Pretoria verloof en kon hulle uitsien na hul droomdag op 24 Oktober 2009.

Maar toe word Dino met beenkanker gediagnoseer en die drome oor hul groot dag het skielik minder rooskleurig gelyk. Saam het hulle egter besluit dít gaan nie hul liefde en 'n lewe saam keer nie.

Hul troudag was 'n intieme see-troue by Moyo Ushaka Pier in Durban saam met 35 spesiale vriende en familie. Met skemerkelkies, sandale, 'n riksja-troukar en reggae-musiek het hulle die aand saam gevier.

"Elke dag is 'n uitdaging, maar daar is niemand wat so kan veg, positief bly en steeds sy lewenspassie vir sport uitleef soos my man nie! Hy is daagliks 'n inspirasie vir my en ek weet net soos hy hierdie siekte beveg, sal hy vir my veg," sê Mari-Lize.

Hulle wen . . . 'n Luukse wegbreek ter waarde van R31 000, sowel as huisware, parfuum, juweliersware, horlosies en vliegtuigkaartjies.

Foto's geneem deur CUSTO PHOTO