Nicholaas & Chandré Lerm sê: "Ons troudag was werklik die beste dag van ons lewe. Dit is die onbeskryflikste gevoel van ’n geseënde dag – ’n ervaring van soveel liefde en omgee vir mekaar. Ons mooiste herinnering is die oomblik toe ek aan die sy van my pa in die paadjie afgestap gekom het en my man nie sy trane kon keer nie – oorstelp van vreugde en trots. Dit was liefde wat nie in woorde uitgedruk kan word nie en ons vir ewig sal bybly. Die pragtige onthaalsaal het groot glasskuifdeure gehad wat die laatmiddagson deur groen varings ingelaat het. Buite in die tuin het die agapante en gaura geroer in ’n ligte somerswind wat met dankbaarheid ontvang is op die mooie somersdag. Ons troudag was perfek, net soos ons daaroor gedroom het."

FOTO Moira West Photography

Wat sê die SARIE-span?

Michélle van Breda, SARIE-redakteur, sê: "Hierdie paartjie is vir my die toonbeeld van perfeksie! Haar trourok, sy troupak, haar verruklike blomme, sy lapelblom . . . alles werk net. Duidelik het hulle styl, en soos die jare aanstap, sal hulle weer en weer na die foto’s kan kyk en sê: Dit was ons perfekste en gelukkigste dag!"

Amaria Carstens, SARIE-moderedakteur: "Die delikate bodeel van Chandré se rok pas haar fyn bou perfek. Minimale bykomstighede het haar ongelooflike rok nog meer laat uitstaan."

Pieter Hugo, SARIE-projekbestuurder: "Chandré se rok en Nicholaas se troupak is in die kol met klassieke wit-en-swart, met skakerings van pienk en marsala daarby. Haar spleetromp beweeg pragtig en is gepas vir so ’n mooi jong bruid."

FOTO Moira West Photography

FOTO Moira West Photography

FOTO Moira West Photography

Onthaalplek: Belair, Paarl

Troudatum: 12 Desember 2016

Die paartjie: Chandré (Poulton), 25 van Mariental, Namibië, Arbeidsterapeut

Nicholaas, 31 van Jeffreysbaai, tans ’n skeepsdokter op die Majestic Princess

Sy pak: Fabiani

Haar rok: Didi Couture

Strooimeisies se rokke: Jacoba Clothing

Grimeerkunstenaar: Corlé Barnard