Hul troue teen sonsondergang op ’n wynlandgoed by Franschhoek was iets om te onthou. ’n Goue onder ’n blommehemel. Verweef deur die aand was fyn detail wat telkens iets van Demi-Leigh Nel-Peters en Timothy Tebow se liefdesverhaal vertel het.

Tim, Demi en hul families hou van tradisie. Sy het gekies om ’n sluier te dra omdat dit reinheid simboliseer, wat vir haar baie belangrik is. Haar pêrel-en-diamant- oorbelle is spesiaal vir haar deur Marion Rehwinkel ontwerp. FOTO Hanri Human

Demi-Leigh Nel-Peters, Mej. Heelal 2017, was in New York. Tim Tebow, Amerikaanse bofbalster en stigter van die Tim Tebow Foundation, drie uur se ry van daar in Binghamton, Upstate New York.

Dit sou ’n 10-minute-oproep wees om die logistiek van’n liefdadigheidsgeleentheid te bespreek. Toe word dit 2 uur, 24 minute en 6 sekondes.

“En toe vra Tim of hy my weer die volgende dag kan bel. Ons het net dadelik gekliek. Twee weke later, ná ons eerste afspraak, het ons gewéét. Tim se woorde was nog, ‘Ek dink ek het nou net my laaste eerste date gehad’,” vertel Demi.

Demi met haar bruidsruiker van wit pioenrose, haar gunstelingblom. Zavion het die blomme op ’n klein plasie in Frankryk opgespoor, aangesien dit hier buite seisoen is. FOTO Hanri Human

Ons gesels enkele dae voor hul troudag op die balkon van die Queen Victoria Hotel in die Waterfront. Demi lyk koel en ontspanne in ’n rooi somersrok, die hardste werk (“baie spreadsheets!”) nou agter haar: ’n jaar se beplanning waarin sy haar hart en siel gesit het vir ’n unieke troue, met baie persoonlike detail.

Selfs die liedjie van Matthew Mole waarop die pasgetroudes op dié aand (20 Januarie) die dansbaan geopen het, was verweef met oomblikke uit hul verhouding. Soos daardie eerste afspraak in April 2018 en hul eerste fliek, Braveheart – Tim se gunsteling, al het sy “die helfte van die tyd oë toegeknyp”.

Die plan was dat sy Tim met dié liedjie verras, “maar toe besef ek ek kan nie dat die arme man op ’n onbekende liedjie dans nadat ons só hard geoefen het nie”, skerts sy. Hulle het albei “linkervoete” en het ná sewe lesse by ’n vrou in Jacksonville, Florida, die foxtrot op hul manier baasgeraak.

FOTO Hanri Human

Die twee is dol op verrassings. Die onthaalplek, dieLa Paris-landgoed op Franschhoek, is tot op die laaste oomblik vir hul 260 gaste – van wie sowat die helfte familie en vriende van Amerika is – ’n geheim gehou. Almal is in bussies van die Waterfront na hul eindbestemming vervoer.

Daar gekom, was dit soos ’n feëverhaal wat voor jou oë ontvou, vertel Schané Venter, SARIE se Voorbladgesig-wenner 2019 en ’n goeie vriendin. “Alles was verruklik mooi. Die seremonie-area met houtbalke en spierwit stoele, en die onthaallokaal wat jou asem weggeslaan het: ’n groot glasstruktuur wat net vir die dag gebou is, met derduisende liggies, ’n geurige ‘blommehemel’, kristalkandelare, goud en wit detail ... Demi het soveel ingesit, sy’t elke liewe aspek, selfs die kleinste dingetjies, haarfyn beplan.”

Tim en sy ses strooijonkers: Van links voor is Joe Allen (swaer), Peter Tebow (broer) en Tim. Agter is Kevin Albers (vriend), Robby Tebow (broer), Brad Judah (vriend) en Bryan Craun (vriend). FOTO Hanri Human

Vir Demi kan dit nie anders nie: “Dis my grootste vrees dat ek eendag na iets moet terugkyk en sê: Ek wens ek het meer moeite gedoen, of ek wens ek het dit beter gedoen of meer daaroor gedink. Dit geld alles wat ek aanpak. Ek stres nie sommer as ek weet ek het my alles gegee nie.”

Tim het dieselfde ingesteldheid, indien nie nog meer as sy nie, sê sy.

Hulle het albei sterk waardes en is diep gelowig, twee dinge wat hulle na mekaar aangetrek het. En hulle deel ’n liefde vir mense met spesiale behoeftes.

Hul eerste oproep was juis oor Night to Shine, ’n jaarlikse dans in Februarie wat Tim se liefdadigheidstigting reg oor die wêreld hou vir mense van 14 jaar en ouer met spesiale behoeftes. Demi-Leigh se halfsuster, Franje, is met subtotale serebellêre ontwikkelingstuiting gebore, ’n seldsame afwyking waar die kleinharsings ontbreek. Franje is in Mei 2019 op 13 oorlede, maar Tim kon haar gelukkig ontmoet toe hy die vorige jaar saam met Demi en haar familie op Potchefstroom Kersfees gevier het.

Demi en haar vyf strooimeisies in hul ivoorkleurige rokke van David’s Bridal. Van links is Anja Lamprecht, ’n jare lange vriendin, Christy Allen (Tim se suster), Demi, Stephanie Weil (uitvoerende hoof van die Mej. SA-organisasie), Katie Tebow (Tim se suster) en Casey Tebow (Tim se skoonsuster). Die sesde plek het leeg gebly, vir haar oorlede sussie Franje, “wat steeds die hoofstrooimeisie was, al was sy nie in die vlees daar nie” FOTO Hanri Human

Demi het ook al ’n Thanksgiving en Tebow-familie-Kersdag (almal in rooi pajamas) op die familieplaas in Jacksonville, Florida, agter die blad.

Timmie, soos sy gesin hom noem, is die “baba” van vyf, en “oom” van agt kinders. Haar eerste familiekuier was nogal oorweldigend, vertel sy. “Agtien mense gelyktydig in een huis! Ek moes eers gewoond raak daaraan, dis baie. Dit was altyd net ek, my sussie en my twee stelle ouers. [Demi se ouers is geskei toe sy 18 maande oud was.]

Maar sy familie het my dadelik ingetrek. Hulle is soos ’n wolf pack wat mekaar ondersteun. Uitgesproke en baie mededingend, maar ek is ook mededingend en nie op my mond geval nie. Ek was op Hoërskool Outeniqua in George in die koshuis – jy leer om jou man te staan en jou plek in te neem! Ek het gou ingepas.”

Die twee is vir hul wittebrood na die Maledive. Op pad huis toe het hulle in Europa en Amerika van die Night to Shine-gesellighede bygewoon.

Huis is nou Jacksonville, waar Tim vir hulle ’n ruim, moderne oopplanwoning met hoë plafonne gekoop het. Hy het sy ou huis verkoop. Dis ’n nuwe begin, ’n plek om nuwe herinneringe te skep. En met Tim wat so baie reis, voel sy veilig op die gholflandgoed.

1 Korintiërs 13:4-8 hou vir hulle spesiale betekenis in. Die Roger Vivier-skoene het sy al in November 2018 op ’n uitverkoping gekoop – dit het na die perfekte trouskoene vir eendag gelyk!FOTO Hanri Human

“Jacksonville is pragtig, dis groot, maar voel amper plattelands. Ons het al ’n klomp vriende daar. Ek het hulle selfs geleer om te braai. En die Suid-Afrikaners het my reeds gewys waar al die beste biltongdeli’s is.”

Tydens die bofbalseisoen is Tim meer as ses maande van die jaar uitstedig, met net drie dae per maand af, en hy doen die sportkommentaar vir ESPN Sport en ander kanale in die kollege-voetbalseisoen, maar hulle is voorbereid daarop, sê  Demi. “Ons kommunikeer goed, ons basis is reg. Tim is reeds 32, ons weet dis nie langtermyn nie, dis nie ’n tienjaarplan nie.”

Sy sal gereeld by hom kan gaan kuier waar hy ook al speel, en waarskynlik weekliks na New York pendel, waar alles in die modebedryf gebeur. Verlede jaar was sy onder meer die gesig van die Amerikaanse winkelgroep David’s Bridal se herfs/winter-veldtog, en by die New Yorkse Modeweek was sy die amptelike gesig van die grimeerhuis Maybelline.

Demi en Tim tussen haar “twee stelle ouers”. Links is Johan Steenkamp en haar ma, Anne-Mari, en regs haar pa, Bennie Peters, en sy vrou, Elzabé. FOTO Hanri Human

Al geniet sy modelwerk, het Demi die afgelope jaar agtergekom dat sy meer van ’n entrepreneur is as wat sy besef het – “ek kan nie wag vir dinge om na my te kom nie”. Sy werk saam met ’n paar maatskappye aan ’n klompie nuwe projekte en produkte. Toneelspeel is beslis ook op die horison, en sy was reeds vir ’n oudisie, maar sy mag nie uitwei nie ...

Sy gaan ook in Suid-Afrika praatjies hou. Demi glo die geleentheid om Mej. SA en Mej. Heelal te kon wees, is nie veel werd as jy nie dit wat jy geleer het, met ander deel nie. “Jy besef nie altyd watter impak jy op mense het vanweë die platform wat jy gekry het nie. Ek vind baie betekenis daarin om motiveringspraatjies te hou.”

Sy was oorstelp van vreugde toe Zozibini Tunzi as Mej. Heelal aangewys is, en toe kry sy boonop sélf die mooiste boodskappe waarin mense háár bedank omdat sy die deur vir ander Suid-Afrikaners oopgemaak het, dat sy hulle laat glo het in hul drome en dat sy daardie deur vir hulle oopgehou het. “Dit was werklik spesiaal.”

In Amerika is Tim ook bekend vir sy inspirerende toesprake, veral praatjies met ’n geestelike tema. Hy was verlede jaar vervaardiger van die geestelike rolprent Run the Race, en in 2018 was sy boek, This is the Day, ’n New York Times-topverkoper. Hy is in die Filippyne gebore waar sy pa ’n sendeling was. Sy stigting het onder meer ’n kinderhospitaal daar en ondersteun kinderhuise in verskillende lande.

Omring deur geliefdes. Heel links is Tim se pa, Bob, en sy ma, Pam. FOTO Hanri Human

Tim het vroeër vanjaar by die Passion City Conference in Atlanta 65 000 mense toegespreek, vertel Demi. “Ek is dalk bevooroordeeld, maar hy is ’n baie goeie spreker. Hy het so ’n natuurlike gawe en deel graag die lesse wat hy leer.”

Sy het self in haar jaar as Mej. Heelal by die Algemene Vergadering van die VN voor wêreldleiers van meer as 50 lande ’n toespraak gehou, hoewel sy volhou sy kom nie naby Tim nie. Haar benadering: “You can outprepare anything.” Natuurlik was sy “bewerig”, maar dit het sy nie gewys nie. “Dis waar die toneelspel inkom!”

By Tim leer sy baie oor die bedryf, en op emosionele vlak. Hy is baie gesteld daarop om dinge op die regte manier te doen. Sy sou dalk nog soms vinnig ’n besluit neem, terwyl hy eers verskeie mentors raadpleeg en soveel moontlik inligting inwin, verduidelik sy. “Net soos ek, het hy ’n reputasie, en jy kan dit so maklik vernietig as jy die verkeerde besluit neem.”

Het sy hóm iets geleer? Sy dink ’n oomblik na ... “Ja, ek dink so! Hy hanteer situasies regtig uit liefde en omgee, maar dalk het ek hom geleer om dit met ’n bietjie meer geduld te doen, om dit meer vanuit ’n vroulike perspektief te sien? En hy’s danksy my mal oor ’n lamstjoppie en beesstert!”

Tim en Demi saam met die Tebow-familie. Van links is Casey Tebow (skoonsuster), Peter Tebow (broer), Claire Allen (sy suster Christy se dogter), Joe Allen (swaer), Christy Allen (suster), Tim se pa, Bob, sy ma, Pam, Tim en Demi, Robby Tebow (broer), Katie Tebow (suster), Abby en Riley Shepherd (Katie se dogters). Voor staan Liam Tebow (Robby se seun), Joey Allen (Christy se seun) en Brynn Shepherd (Katie se dogter). FOTO Hanri Human

Ná twee jaar in die Groot Appel is sy al goed aangepas by die Amerikaanse manier van doen, al pootjie die Amerikaanse Engels haar nog soms. “Dis ’n trunk en nie ’n boot nie, en’n windshield en nie ’n windscreen nie!” Sy begin nou eers werklik die Amerikaanse humor onder die knie kry. Dit kan jy nét doen as jy die voetbal- en ander sportspanne ken. En jy moenie net weet wat in die politiek aangaan nie, maar dit ook verstaan, benadruk sy. “Ek kan al selfs ’n skerp grappie of twee vertel!”

Maar sy mis die Suid-Afrikaanse humor, soos die kykNET-reeks Hotel wat haar so lekker laat lag. “En ek mis my land, al my vriende. Ek bly ’n Suid-Afrikaner. Wanneer Tim eendag klaar is met bofbal, sal ons heel moontlik meer tyd op ’n slag hier deurbring.”

Sy was aanvanklik onkant betrap toe sy besef hoe bekend hy in die VSA is. “Ek dink nie daar is ’n plek in Amerika waar mense hom nie herken nie. [Tim was ook ’n professionele voetbalspeler voordat hy na bofbal oorgeskakel het.] Dit was vir my ’n aanpassing. Hier in Suid-Afrika is mense meer respekvol as hulle jou herken. In Amerika ... wel, kom ons stel dit so: Amerikaners het baie meer selfvertroue! En soms kry jy iemand wat regtig geen respek het vir jou privaatheid nie, maar Tim hanteer dit so nederig en mooi, en dit maak dit alles soveel makliker.

FOTO Hanri Human

“Hy het so ’n goeie hart en doen soveel moeite. Toe hy verlede jaar ’n bofbalbesering gehad het, het hy twee dae lank saam met my en ons wonderlike troubeplanner Zavion [Kotze-Brereton] sit en sketsies maak vir die onthaal. Ja, ek weet Tim klink al of hy te goed is om waar te wees, maar hy is regtig so!”

Jy kan net enige van Tim se Instagram-plasings oor Demi (oftewel “Sweets”) gaan lees om te weet dat die gevoel wederkerig is.

“Jy inspireer my elke dag met jou goedhartigheid, dierbaarheid en moed. Ek dink nie dis moontlik om jou nog liewer te hê nie, maar ek weet ek sal, môre en elke dag daarna.”

Die ringe. Demi se ring is ’n vleklose solitaire-diamant van 7,25 karaat uit die Cullinan-versameling in Suid-Afrika, geset in platinum. Siebke Hoyt Jewellers het haar ring asook Tim se ring met swart diamante ontwerp FOTO Hanri Human
Die macarons is spesiaal uit Parys gebring deur fotograaf Hanri Human FOTO Hanri Human
Tim se pak is ontwerp deur Gert-Johan Coetzee. Die lapelspeld met die Tebow-familiewapen het Demi spesiaal vir Tim laat maak FOTO Hanri Human
Die Soweto Gospel Choir het Johnny Clegg se liedjie “Osiyeza” gesing ter herinnering aan haar sussie Franje, wat in 2019 oorlede is. FOTO Hanri Human
aangedui. FOTO Hanri Human
Tim en Demi-Leigh het gou geweet hulle is vir mekaar beskore. FOTO Hanri Human
Die twee het die dansvloer geopen op die liedjie “Pennsylvania”, wat Matthew Mole spesiaal vir hulle geskryf het. FOTO Hanri Human
Witgestyfde linnetafeldoeke en goue staanders met blomrangskikkings wat sowat 200 kg elk geweeg het. FOTO Hanri Human
Die troukoek het 10 lae gehad en die inspirasie was ’n engel wat vlieg. Alles op die koek was handgemaak en geverf met eetbare goue verf gemeng met egte goud. Tim volg die keto-dieet en hulle het spesiaal vir hom sy eie kaaskoek gemaak. Die spyskaart was ’n kombinasie van Amerikaanse en SA geregte, en die troupaar se gunstelingslaai wat hulle self geskep het: ’n kombinasie van babaspinasie, bessies, spek, ’n tipe Italiaanse worsie en olyfolie. FOTO Hanri Human
FOTO Hanri Human
Die SA musikant Matthew Mole is een van Demi-Leigh se gunsteling-sangers. FOTO Hanri Human
tilis en voorkomskonsultant Werner Wessels en Daniella Shevel van New York. FOTO Hanri Human

FOTO Hanri Human
Demi-Leigh saam met die fotograaf Hanri Human. FOTO Hanri Human
Troubeplanner Zavion Kotze- Brereton sonder wie sy dit nie kon doen nie, die bruidspaar en John Michael Kotze-Brereton. FOTO Hanri Human
Tim, ontwerper Gert-Johan Coetzee en glanspersoonlikheid Bonang Matheba. FOTO Hanri Human
Troubeplanner Zavion Kotze- Brereton sonder wie sy dit nie kon doen nie, die bruidspaar en John Michael Kotze-Brereton. FOTO Hanri Human

Bedankings

Troubeplanner en blomontwerp Zavion Kotze: @zavionk, @zavionkotzeeventscompany

Fotografie Hanri Human Photography: @hanrihumanweddings

Video Hauke Wedding Films: @haukeweddingfilms

Glasstruktuur Downings Marquee Rentals: @downings_marquee

Papierontwerpe Chrystalace Wedding Stationery: @chrystalace

Onthaalplek La Paris-landgoed: @laparisestate

Trourok en strooimeisierokke David’s Bridal: @davidsbridal

Bruidegom se pak Gert-Johan Coetzee: @gertjohancoetzee

Meubels Reserved Exclusive Furniture: @reservedexclusive

Butlers SA Butler Academy: @saba_butler_academy

Klank en beligting @kilowattavsa

Kroeg @shakeandservesa

Orgideë @marvellousorchid

Wyn en MCC @deetlefswineestate

Grimering @reneedewitmakeupartist

Hare @irina_grant_makeupartist

Blompotte @allthingsweddingsa

Blomverskaffer AMP Flowers en @ilubasouthafrica

Koek @kellyjaynecakes

Verrassingsanger @matthewjmole

Bome, vloer, liggies, kandelare, seremoniestrukture @inandoutevents

Geskenkies @1701brand

Dansvloer-viniel Wolfcor

Neon-bord DBD Signs