Party van ons is tans in ’n fase waar al wat ’n vriendin, familielid, kollega en kennis afhaak. Ons naweke bestaan uit ingewikkelde reis- en verblyfreëlings, duur trougeskenke, metgeselle soek, om nie eens te praat van wat jy gaan aantrek nie!

Vir die gewone trougas kan dié storie nogal uitputtend raak, en teen hierdie tyd is almal al kenners van wat werk en nie werk nie. SARIE.com deel ’n paar van hul wenke wat bruidspare ter harte kan neem.

FOTO Frank and the Misses Photography

1. Jy is nie verplig om by al die tradisies te hou nie

Van die kousband gooi, koek sny tot ewige heildronke. Jy is nie verplig om elke tradisie getrou na te volg nie. Kies dié wat vir jou belangrik is en vergeet van die res!

2. Maak seker jou gaste bly besig tydens die fotosessie

Die fotosessie ná die seremonie kan baie lank aanhou. Gaste kan maklik verveeld of geïrriteerd raak as hulle moet rondstaan en wag dat die onthaal begin. Maak seker daar is genoeg versnaperinge, drankies en selfs musiek om die gaste besig te hou.

3. Moenie peperduur geskenke verwag nie

Troues is nie goedkoop nie – ook nie vir jou gaste nie. Sommige reis van ver en dan moet verblyf ook nog gereël word. Dít nadat hulle reeds ruim bygedra het tot jou kombuistee en/of henneparty. Moet dus nie peperduur geskenke verwag nie, net die feit dat hulle daar is, het reeds iets gekos. Wees dankbaar vir hul teenwoordigheid!

4. Nie almal hoef ’n metgesel te bring nie

Jou gaste weet hoe duur troues is en dat julle ’n beperkte begroting het. Moenie verplig voel om die enkellopendes saam met ’n metgesel te nooi nie.

5. Maak seker daar is musiek vir los én vas dans

Los en vas dansstyle is ewe gewild. ’n Kombinasie van die twee sorg vir ’n wonderlike atmosfeer en sowel paartjies as enkellopendes sal gelukkig wees.

6. Kies die regte seremoniemeester

Die seremoniemeester moet ’n goeie sin vir humor hê en onvanpaste grappe kan vermy. Hy moet die aand se verrigtinge kan lei sodat die gaste weet wat om te verwag en die feesvieringe nie in die wiele gery word nie.

7. Geniet die aand!

Maak seker jy neem die aand ten volle in. Vermy om te lank met mense aan die gesels te raak en eet lekker van die hoofgereg, dans en vier saam fees. Moet jou nie te veel oor jou gaste bekommer nie.

FOTO Unsplash