Die aktrise Simoné Nortmann se Bosveld-troue pronk in SARIE se April-uitgawe (nóú te koop!). Die kleure, klanke en geure van die Bosveld en Lunikhy-wildplaas buite Bela-Bela is deur Shanay Greene, die talentvolle fotograaf van Pretoria, vasgevang. 

FOTO Shanay Greene


Wie is Shanay?

FOTO Instagram / Shanay Greene

Haar liefde om foto’s te neem het als met 'n Fuji-kamera begin, wat haar ma vir haar gekoop het.  Daarna het haar pa in 'n ordentlike Canon belê, waarmee Shanay die wêreld van fotografie betree het. Eers was dit Valentynsballe, matriekafskeide en sommer net klomp hoërskoolmeisies. Nadat sy vir professionele fotograwe op troues gehelp het, het Shanay geweet dís wat sy wil doen.

"Dis my passie, ek is nie verskriklik geïnteresseerd om detail af te neem nie, maar eerder mense en mense se emosies. Daai real moments." 

Shanay neem hoofsaaklik troues en paartjies af. En wat is haar gunsteling? "Om die bruid en die bruidegom af te neem. Ek voel dit is wanneer ek regtig die magic uit mense kan kry." Sy beskou haar fotografie as dokumentêr.

Haar benadering tot paartjies afneem? "Ek sê vir my kliënte dat hul nie die foto’s te ernstig moet opneem nie ... ek moet. Hulle moet eerder pret hê en spontaan wees. Ek verstaan ook dat dit baie vra om voor ’n kamera te wees. Ek bring musiek saam op my shoots, musiek ontlok emosie. Ek praat die heeltyd met my paartjies, totdat dit bietjie meer intiem raak en dan staan ek terug om dít vas te vang."

Shanay se 7 wenke vir bruide:

1. Vind uit waarvan jy hou

"Bruide moet regtig ondersoek instel van wat hulle hou, op die ou einde van die dag betaal jy vir daai fotograaf se styl en brand. Maak seker jy hou van jou fotograaf en dat jul persoonlikhede oor die wegkom." 

2. Goeie fotograaf kos geld

Bruidspare moet besef dat ’n fotograaf baie onkostes het. "Dis internet, data-gebruik vir e-posse stuur en foto's oplaai. Die verpakking van foto’s en die druk van albums kos ook geld. Boonop moet ’n fotograaf ook die tweede fotograaf betaal en die reis onkostes dek. Die sagteware wat ons gebruik vir ons foto’s kos duisende rande. Hoe meer ervare jou fotograaf, hoe meer gaan jou fotograaf vra. Daai 9 ure op jou spesiale dag is maar ’n klein refleksie van hoe hard die fotograaf werk. Dis eers ná die troue wat die fotograaf se werk regtig begin."

FOTO Shanay Greene

3. Bespreek spoedig die fotograaf

Maak 'n fotograaf vas sodra jy jou venue en datum vasgestel het. "Dit het al gebeur dat bruide hul troudatum skuif om my te kan akkommodeer."

4. Lig is baie belangrik

"Laat weet die fotograaf vooraf, as enige ruimte moontlik te donker gaan wees. Dit sal verseker dat die fotograaf die regte toerusting saambring. In die onthaal gedeelte van die troue maak liggies die grootste verskil. Fairy lights, sparklers en kerse gee die mooiste effek vir foto’s, dit gee diepte en warmte."

FOTO Shanay Greene

5. Gun julself alleentyd

Skeduleer 5 of 10 minute na jul fotosessie vir tyd om alleen te wees. "Net om die oomblik in te neem, julle twee stil kan raak en besef dat julle getroud is. Daar kom dikwels magic uit daai oomblik, wat ek van ’n afstand af neem."

6. Ontmoet die fotograaf vooraf

Doen ’n verlowingsfotosessie met jou fotograaf. "Julle word baie meer gemakliker met mekaar. Dis ’n oefenlopie vir jou eintlike troue. Doen sommer ook ’n oefenlopie vir jou troudag se hare en grimering op die dag van jul verlowingfoto’s,  want dan kan jy sien hoe dit gaan uitkom op die foto’s."

7. Stel ’n lys op vir gesinsfoto’s

Dit kan baie tyd neem ...  om kosbare tyd te bespaar kan die bruidspaar vooraf ’n lys met almal se name opstel. Die seremoniemeester kan dan die name uitroep sodra hulle vir die foto moet aantree.

FOTO Shanay Greene