Dié TV- en radio-aanbieder laat nie op haar wag nie. Sy is ’n momtrepeneur (soos sy na haarself verwys), eienaar van Baby Brunch en mede-eienaar van Piekniek & Musiek wat sy saam met haar man behartig.

Instagram/@elanaafrika

Ongeag haar bedrywige leefstyl, kan jy dié donkerkop altyd deur ’n ring trek. Haar treffende kort pixie-haarstyl en vlekkelose glansende vel vang omtrent die oog.

Die SARIE-skoonheidspan wou meer van haar skoonheidswenke- en geheime hoor.

Instagram/@elanaafrika

Die beste skoonheidsraad wat jy al ontvang het?

“My ma het altyd vir my gesê ek moet my grimering af was voordat ek gaan slaap,” sê Elana.

Watter skoonheidsraad gee jy aan vriendinne?

“As jy nie grimeer-verwyderaar het nie, gebruik amandelolie.”

Hoe versorg jy jou hare?

Elana sê dat sy daagliks haar hare was. “Ek was elke oggend my hare en gebruik oorgenoeg opknapper. Ek sit ook dan serum aan en dra ’n hoed as ek in die son is, my hare raak beslis ligter in die son.”

Wat is jou grootste haar-uitdaging?

“Ek gebruik chemikalieë in my hare. As jy dit eers een keer gedoen het, moet jy dit daagliks doen. Andersins moet ek al my hare afsny en van vooraf begin. Ek is nog nie reg nie.”

Jou beste haarwenk?

“Los so klein bietjie opknapper in jou hare voordat jy dit droogblaas. Só staan die ligte opstaan-haartjies nie in die lig op nie.”

Hoe voel jy oor korter haarsnitte?

Elana sê dat sy mal oor haar kort hare is. “Ek sny my hare elke sewe weke.”