#7 Onvergeetlike geure

Ikoniese parfuums is tydloos en bekend vir die indruk wat hulle laat – hulle ontlok bewondering en onthul altyd iets nuuts. Hierdie topgeure het in SARIE se leeftyd die wêreld stormenderhand verower:

1947

MISS DIOR DEUR DIOR

Vir sy heel eerste parfuum het Dior parfumeurs opdrag gegee om iets te skep wat ruik soos die liefde. Dié suiwer parfuum is oor die jare aangepas om dit modern te maak en spog vandag met note van sitrus, blomme en aardse patsjoelie.

FOTO Getty Images / Gallo Images. Een van Dior Miss Dior se advertensies.

1953

YOUTH DEW DEUR ESTÉE LAUDER

Dit was die eerste bekostigbare geur en kon as ’n badolie of parfuum gebruik word. Dit is spesiaal deur Estée Lauder ontwikkel om vroue aan te moedig om hul eie parfuum te koop (en nie te wag tot ’n man hulle daarmee bederf nie).

FOTO Instagram / World Wide Aura

1977

OPIUM DEUR YVES SAINT LAURENT

Voor die koms van Opium het blomgeure die parfuumwêreld oorheers. Die unieke geure van wierook en mirre het dié parfuum ’n donker ondertoon gegee wat toe nog onbekend was in die parfuumbedryf.

FOTO Instagram / Filled With Poizn

1992

ANGEL DEUR THIERRY MUGLER

As die eerste sogenaamde gourmand-geur met verslawende soet kosnote van rooi vrugte, sjokolade en karamel het hierdie geur deur die Franse ontwerper Thierry Mugler inderdaad grense verskuif.

2001

LIGHT BLUE DEUR DOLCE & GABBANA

Volgens verkoopsyfers van die aanlyn winkel FragranceNet.com, wat meer as 17 000 verskillende parfuums aanhou, is dié 18 jaar oue geur die gewildste vroueparfuum in die VSA. Die sprankelende, vrugtige blomgeur is deur die Siciliaanse kus geïnspireer.

FOTO Instagram / Parfum Dresscode

2013

SÌ DEUR GIORGIO ARMANI

Hoewel dié parfuum met note van freesia, roos en vanielje maar net ses jaar oud is, is dit reeds een van die gewildstes ter wêreld, ook in Suid-Afrika.

2018

FEVER DEUR JIMMY CHOO

So onvergeetlik soos ’n paar goue Jimmy Choos. Hy is een van die wêreld se ikoniese skoenontwerpers en prinses Diana was vir lank sy muse. Die hipnotiese geur is gourmand-blomagtig met note van swartpruim-nektar en geroosterde amandel.

Probeer dié produkte:

1. Jimmy Choo Fever (R1 595 vir 100 ml EDP) is ’n ryk, verleidelike geur geskep deur twee New Yorkse vroueparfumeurs, spesiaal vir vandag se moderne, avontuurlustige vrou.

2. Die gewilde Yves Saint Laurent Black Opium is in 2014 bekend gestel as ’n moderne, waaghalsige interpretasie van die klassieke Opium-geur. Die kenmerkende koffie- en vanieljenote is nou versterk met ’n swaarder jasmynnoot in YSL Black Opium Intense (R1 670 vir 50 ml EDP).

3. Ná 27 jaar is dié verslawende geur met sy mooi blou bottel in die vorm van ’n ster steeds ’n topverkoper – Mugler Angel (R1 500 vir 50 ml EDP).

4. Probeer die splinternuwe soeter Giorgio Armani Sì Fiori (R1 590 vir 50 ml EDP) met lemoenblomolie, swartbessie en vanielje.

SARIE Voorbladgesig word trots aangebied in samewerking met Jimmy Choo ParfumsINOAR, die Isa Carstens Akademie en Kalahari Lifestyle