Sy’t “net ’n gevoel gehad”, vertel aktrise Jo da Silva oor die dag in 2016 wat sy besluit het om haar stabiele werk by 7de Laan te los en sak en pak van Johannesburg Kaapstad toe te trek – waar sy voorheen net ’n paar keer vir werk was. “Ek glo vas jy moet jou instink volg en my hart het vir my gesê dis tyd vir ’n verandering. My dogter, Caitlin, het mariene biologie aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer en dit was vir my die perfekte geleentheid vir ’n verandering. Sy is ’n enigste kind, ek ’n enkelma, en ons is vreeslik na aan mekaar. Dit was vir my ’n kans om uit my gemaksone te kom, my lewe ’n bietjie wakker te skud ...”

Dit was wel baie moeiliker as wat sy verwag het, erken sy nou. “Ek was nooit spyt nie, maar dit was meer uitdagend as wat ek ooit gedink het dit sou wees. Hier was ek skielik in ’n stad wat ek nie ken nie, sonder vriende of ’n ondersteuningsnetwerk, my lewensbalans skoon omgekrap.”

Tog het sy nie ervaar dinge is buite beheer soos dit dikwels vir haar in Johannesburg gevoel het nie. “Vir die eerste keer in ’n lang tyd was ek eintlik in beheer van my lewe. Die vorige jaar was ek vier keer in die hospitaal, die eerste keer weens ’n seldsame longontsteking en toe omdat my derms gedraai het – met twee operasies om dit reg te stel. Ek dink my gestel was heeltemal af omdat ek alles oordoen het. Ek is ’n A-tipe-persoonlikheid, ’n perfeksionis. Maar dit was ook ’n groot les: Ek het besef ek moet beter na myself begin omsien, en die wêreld gaan nie verkrummel sonder my nie.”

Sy is deesdae ’n ander mens, sê Jo. 

“Ek is baie rustiger. Dit was ’n moeilike proses, want ’n groot deel van my identiteit was gebou rondom ander mense se verwagtinge van my. Ek moes terugstaan, die lewe en myself bekyk, en dinge oorbou. Ek wou my siening van myself en my definisie van sukses verander.”

En sy hét. Jo is deesdae voltyds geldinsamelingsbestuurder by die Salesian Institute Youth Projects, wat jongmense tussen die ouderdom van14 en 35 bemagtig. Voor dit het sy klasgegee by die AFDA-filmskool. “Dit was vir my nodig om iets betekenisvols te doen. As akteur is die fokus net op jouself. Dis nie selfsugtig nie, maar dis selfgesentreerd. Ek was ongemaklik daarmee, en met die kollig op my.”

As opgeleide onderwyseres was AFDA ’n logiese eerste stap – en sy was mal daaroor om met jongmense te werk. “Ek het daar bewus geword van die enorme kwessies wat ons jeug in die gesig staar. Die lewe is vandag so gekompliseerd, hulle het tien keer die geestes- en sosiale uitdagings wat mense van my generasie gehad het. Wat nog van jongmense in kwesbare omstandighede? Ek wou help.”

Boonop het sy ’n grimeerkursus voltooi. “Ek is iemand wat kreatief moet wees, dis goed vir my siel en ’n belangrike uitlaatklep. In dié stadium is dit nie ’n bron van inkomste nie, dis net vir die pret. Ek en ’n groep fotograwe, modelle en ander kunstenaars kom byvoorbeeld bymekaar en sal dan vir ’n dag net skep, net omdat ons dit geniet.”

En die nuwe Jo word nie meer deur net een ding gedefinieer nie. “Ek is steeds ’n aktrise en sal graag nog ’n paar projekte op vryskutbasis wil doen. Ek sal ook weer as konsultant by opleiding betrokke wil wees. Ek is ’n ma. Ek kan grimering doen. Ek is in ’n wonderlike verhouding – met myself. Ek plaas myself nie meer net in een boksie nie. Verandering is moeilik, maar dis ook goed – uiteindelik. Jy kan nie groei sonder uitdagings nie. Ek dink dis nou belangriker as ooit tevore. Omhels die onsekerheid waarin die wêreld tans is, want dis die begin van nuwe dinge – hoe opwindend!”