Hierdie resep kom uit my ma, Susan, se notas. Dit is ’n baie klam koek, en smaak op sy beste as jy hom yskoud uit die yskas eet.

genoeg vir een 20 x 10 cm-koek

KOEK

* 185 ml melk

* 45 ml botter

* gerasperde skil van 3 lemoene

* 210 g (250 ml) strooisuiker

* 2 eiers, geskei

* 2 eiers, heel

* 160 g (375 ml) koekmeel

* 7,5 ml bakpoeier

* ’n knippie sout

* 125 ml papawersaad

* neute en roomkaas vir voorsit

STROOP

* 100 g (125 ml) suiker

* 150 ml water

* 45 ml botter

* 150 ml suiwer lemoensap

Verhit oond tot 180 °C. Voer broodpan van 20 x 10 cm met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Bring melk, botter en lemoenskil tot kookpunt. Verwyder van hitte en laat afkoel tot kamertemperatuur. Plaas strooisuiker, 2 eierwitte en 2 eiers in elektriese menger se bak. Klits by hoë spoed tot lig en romerige skuimmengsel vorm, sowat 5-8 minute. Voeg res van bestanddele vir koek en afgekoelde melk by. Vou versigtig deur met ’n groot metaallepel tot gemeng. Gooi beslag in voorbereide pan en bak vir 20-25 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Terwyl koek bak, bring oor hoë hitte alles vir die stroop tot kookpunt. Verwyder gaar koek uit oond en gooi warm stroop oor. Laat afkoel in pan en keer uit op dienbord. Sit voor met neute en roomkaas