Hierdie koek roep uit feestyd. Ek het hom by die île de païn-bakkery op Knysna leer maak. Die basisresep sonder die bessies staan ook as ’n Gugelhupf, gewild in lande soos Duitsland en Oostenryk, bekend.

genoeg vir een 25 cm-koek

* 200 g (290 ml) sagte botter

* 250 g (300 ml) strooisuiker

* 3 eiers

* 300 g (535 ml) koekmeel

* 15 ml bakpoeier

* 200 ml karringmelk

* 60 g (100 ml) fyn amandels

* 400 g vars frambose

* 50 ml versiersuiker

* 50 ml korrelwitsuiker

* roomkaas vir voorsit

Verhit oond tot 180 °C. Spuit ’n 25 cm-ringpan goed met kleefwerende kossproei. Plaas botter en suiker in bak van elektriese menger. Gebruik die mengspaan (K-beater) en klits mengsel by hoë spoed tot lig en romerig, sowat 5-8 minute. Voeg eiers een vir een by terwyl menger loop. Sif meel en bakpoeier saam en voeg by bottermengsel. Voeg karringmelk en amandels by en vou saam tot gladde mengsel. Vou twee derdes van frambose by beslag in en gooi in voorbereide pan. Bak vir 30-35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat afkoel in pan en keer uit op dienbord. Meng res van frambose, versiersuiker en korrelsuiker saam. Skep bo-op koek en sit voor met roomkaas.