Met ’n ma in die kollig is dit nou maar een van daai dinge. Olivia Rose Abrahams se eerste voorblad was op ’n brose drie maande. Knieserig gewees en Ma het getroos: “Toemaar, ek het nét so gevoel met my eerste een.”

Diaan en Olivia se eerste voorblad. FOTO Leana CR

Op twee, weer sulke tyd, het haar swart haartjies plek gemaak vir ’n koperblonde krullebol. Ag, die derde keer, op sewe, was sy al grootnooi – mal oor die aandag, klere, grimering, al die girly-goed wat daarmee saamgaan.

Ma en dogter se tweede SARIE-voorblad. FOTO Leana CR

Olivia was nogal in die gesig gevat toe SARIE die daaropvolgende jaar besluit dis haar kleinboet, Thomas (nou 7), se beurt om saam met Ma te poseer. “Wat? Wil Fanie [SARIE-stylredakteur] my nie hê nie? Is hy nie meer liéf vir my nie? Is my wérk nie goed genoeg nie?” Met ’n armpie wat teatraal deur die lug trek, wys Diaan Lawrenson, haar bekende ma.

Met haar ouers albei in die akteursbedryf, weet Olivia hoe belangrik dit is dat jou “werk” op peil is. “Ja, asseblief, kan ons dit doen?” was haar reaksie vanjaar oor die moontlikheid van ’n vierde voorblad vir SARIE, ’n dekade ná die eerste. “Sy’s ’n petite dingetjie, met ’n sterk mening, ’n spicy meisiekind. Soms ernstig, met oë wat regdeur jou kyk. Onafhanklik, sy gaan my nog al my hel gee. Maar dis oukei,” voorspel Diaan.

Diaan en Olivia het al vier keer saam op die voorblad vir SARIE verskyn. FOTO Leana CR

Outgoing, flambojant, hou Olivia nietemin nie daarvan dat mense Diaan en pa Jody in die openbaar stop nie. “Sy verstaan dis deel van ons werk, maar ek dink dit irriteer haar dat mense ons eien as die karakters wat ons speel.” Hulle is akteurs wat ’n rol vertolk, mintag. Nou is dit Lionel dit en Lionel dat, Jody se karakter in die kykNET & kie telenovelle Arendsvlei. Diaan is steeds Paula van 7de Laan, die rol wat sy in 2016 gegroet het.

Vir Diaan self was dit ’n emosionele ding om ná dertien jaar van Paula afskeid te neem. Intussen het die gesin van Johannesburg na Kaapstad verhuis. En mensig, het sy sedertdien gevlieg!

As aktrise is sy gedurig in aanvraag. Sy skryf ook TV-tekste en vervaardig TV-produksies vir haar en Jody se maatskappy, Jester-produksies. Só was hulle vervaardigers van Op en Af, Netwerk24 se aanlyn blitskomedie oor die klein (en groter) jakkalsies in die huwelik. Diaan speel ook daarin.

Daarby is sy sedert April verlede jaar dekaan van die rolprent-en-TV-skool AFDA se Kaapse kampus, waar sy die vorige drie jaar klas gegee het. ’n Pos wat vereis dat sy haar bestuursvermoë slyp. Sy lyk in haar element in haar kantoor by AFDA, informeel in swart jeans en ’n wit T-hemp met die kollege se logo op en ’n kief, ronde brilletjie. Buite raas en ja, dans, die studente, ’n herinnering dat dit ’n kunstekampus is. Tussen die skedules en roosters teen die muur is ’n prentjie met rooi hartjies: Love you mom. Op ’n skryfbord ’n groot hart met “you can do it!” in ’n kinder-gogga-skrif. Ja, die kinders kom baie daar. Koel en kalm, ’n staatmaker, mos.

FOTO Leana CR

Maar Diaan moes briek aandraai toe sy begin verlede jaar voel of sy nie meer een enkele tree vorentoe kan gee nie. Kapoet, te lank die kers aan albei kante gebrand. Dit het haar tot stilstand gebring, tot diep introspeksie genoop.

“My lyf, kop, siel ... ek was doodmoeg, my vermoë om probleme op te los nul. Dit was aaklig, ’n donker plek met weird angs- en paniekaanvalle. Dis van jare se dink jy kan alles doen. My dokter sê al lank ek moet rus, dit stadiger vat. Maar ek het nie geluister nie en alles het skielik ineen getuimel. My gesin is prioriteit, ja, maar jy moet steeds al die ander dinge gedoen kry. Jy woon daardie sportbyeenkoms by, maar werk dan vannag tot tweeuur. Ek het besef ek kan nie meer nie, ekskuus, ek raak skoon tranerig as ek daaraan dink. Ek het ’n maand afgevat en vir my kinders gesê ek cope nie, ek het hulp in die huis nodig, julle moet my ondersteun. Waar ek gewoonlik vieruur soggens opstaan, oefeninge doen, die kinders se skoolkos pak, het ek net gesê ek kan dit nie nou doen nie. Jody was wonderlik, Livy en Tom was wonderlik. Livy het vir my ontbyt gemaak, koffie ... Baie mense sal dalk nie daarmee saamstem nie. Maar ek dink dit het baie angs in ons huis weggevat toe ek sê: ‘Ek kan nie meer nie.’ Dit nie probeer wegsteek het terwyl almal kan sien iets skort nie.”

Self-love, sê sy. Wat is dit nou eintlik? Nie ’n maandelikse pedikuur of ’n lekker bad nie. Dis om liefde vir jouself te gee, hoe jy dit daagliks toepas sodat dit ’n gewoonte word. Dis selfondersoek, hoekom voel ek ek moet alles doen, en alles die beste doen? Waar kom dit vandaan? “Dis moeilike vrae. Ek kan nie sê ek het al die antwoorde gekry nie, want ek het nie. Maar die druk om alles nou, perfek te doen, is minder. Ek het besluit ek gaan nie meer so baie aanpak nie en het reeds vir wonderlike projekte nee gesê. Op en Af was my en Jody se enigste projek verlede jaar terwyl ons vantevore minstens drie ’n jaar sou doen. Ek is op ’n goeie plek. Maar dis ’n voortdurende proses: Elke aand, hoekom voel ek so, hoekom voel ek angstig? Ek probeer in kontak met my emosies bly.”

Diaan is ernstig van geaardheid en kan met mening haar tande in ’n rol slaan wat emosies en verhoudinge ondersoek. Soos die rolprent Raaiselkind, oor ’n outistiese kind. Maar dis ook moeiliker om van so ’n rol af weg te stap, die residu bly langer kleef.

Haar happy place, sê sy, is om goed bymekaar te sit wat mense laat lag.

“Op skool en later as student by AFDA het ek altyd in dramas gespeel. In my derde jaar was ek toevallig in ’n komedie en verras dat ek dit soveel geniet. My droom is om ’n suksesvolle sitkom te vervaardig. Dis lekker om ander mense te laat lag en ek gee nie om as ek in die proses myself stupid moet laat lyk nie. Daar is geen herstelproses ná komedie nie. Dis net lekker. Almal high five ná ’n lang dag, gaan huis toe en voel wonderlik oor ons simpelgeit. Ons almal love wonderlike, sterk rolle, maar jy sien nie die lig sonder donker nie, dis alles mos maar ’n balans. As jy praat van veerkragtigheid, terugbons in die lewe, speel humor ’n groot rol. My oorlede oupa het altyd gesê: ‘Wel, minstens het ons nog ons sin vir humor.’ Dis die waarheid. Solank jy dit het, kan jy deur enigiets kom. Jody is baie snaaks en ons kinders ook. Tom en Olivia het albei ’n lekker sin vir humor. Hulle geniet dit om ons te laat lag. Ek sê gereeld vir hulle, jy is só snaaks, dis só funny, dis ’n goeie joke. My kinders ken my in ’n ernstige rol, as ma. Ek kyk na hulle, is verantwoordelik vir hulle. Jody kan die joker wees, grappies maak. In driehonderd aksente met hulle praat. Maar ek moet sorg dat almal die reëls volg, vir die weeklikse beplanner op die yskas. Hulle begin egter nou ook my ligter kant ken. Ons is almal mos opgemaak uit verskillende goeters. Nie net een ding nie.”

FOTO Leana CR

Op en Af is snaaks, maar bevat ook baie waarhede oor die huwelik. Dit was aanvanklik ’n toneelstuk, Klein jakkalsies, wat Leon Kruger vir haar en Jody geskryf het uit sy en sy vriende se ondervinding van die huwelik. Hulle het anderhalf jaar daarmee getoer en mense het ná vertonings kom gesels: “Jis, ons kon met dié of dáái toneel identifiseer.”

“Alle paartjies het dingetjies wat die ander irriteer. Ek drink ’n koppie tee half, dan is ek klaar. Dit maak Jody wild. ‘Oral in die huis staan halwe koppies tee rond.’ Sê hý. Dis nie waar nie, nie oral nie. Jy kan ’n drama van Op en Af maak, so relevant is dit. Ons het besluit op ’n humoristiese aanslag. Want ons is meer oop vir wat ander mense sê wanneer ons lag.”

Kyk nou maar, haar Jody is baie rustig, sy ’n “beheervraat”. As hý die dag begin stres, raak sy bekommerd. Want ’n probleem kan mos altyd opgelos word, daar is altyd ’n manier uit. Glo hý. Kyk maar hoe loop hulle: Sy vinnig vooruit, hy drentel agterna. Voorheen sou hy sê: “Loop stadiger.” En sy: “Nee, jy vinniger.” Nie meer nie. As hulle in die natuur gaan stap, loop sy en Olivia vinnig vooruit, vir oefening. Hy en Thomas wandel stadig agterna terwyl hy vertel van die blomme, bye, bome, berge ... “Tom love dit. Ek hou ook daarvan om na ’n blom te kyk, ja. Maar nie twintig minute lank nie.”

Frustrasie, sê sy, ontwikkel wanneer julle mekaar probeer verander.

“As jy stadig wil stap, respekteer ek dit. Maar respekteer dat ek van vinnig loop hou. En ons sal mekaar iewers in die middel ontmoet.”

Só het hulle ook mettertyd hul ritme, natuurlike plekke gevind as hulle saamwerk. Jare gelede al hul rolle uitsorteer, dit wat elkeen geniet.

“Jody is baie kreatief. En jis, as jy iemand soek om ’n probleem vinnig op te los, is hy jou man. Solank iemand anders die e-posse stuur, skedules en begrotings uitwerk, sal hy die res doen.” Dis weer háár forté, die nitty-gritty, praktiese detail.

FOTO Leana CR

Nou het hulle twee honde, die boerboele Maximus en Nusca. Groot honde. Max is Jody s’n en tog so jaloers. Diaan durf nie aan Jody vat as hy by is nie. Hy druk eenvoudig tussen hulle in. Daar is ’n reël: Die honde kan oral kom, behalwe die slaapkamers. En Max wil so graag. Hy gaan lê voor daai oop slaapkamerdeur en stadig ... stadig stoot hy homself oor die drumpel. Eers sy boude, dan die res van sy groot lyf, suutjies, stadig.

“Dan sê ek vir hom, ‘Max, uit!’ O, dit maak my mal. En Jody: ‘Ag, los hom.’ Nee!” Dierbare Max weet maar te goed by wie hy ’n kans kan vat.

Covid-19 en saamwees: Hoe gaan dit? vra SARIE

Diaan laat hoor sy en die kinders hou huispartytjie. Hulle het video’s afgelaai waar jy die dansbewegings moet volg.

Dis dag 13 van die Covid-19-inperking. Vir haar en Thomas is dit egter dag 25.

Diaan in haar eie woorde:

Albei was al siek toe die ganse volk huis toe gestuur is. Ons moes kreatiewe maniere vind om saam te wees, nie gefrustreerd en kwaad te word nie. Ons doen nogal goed, dink ek.

Ek het gedurende die inperking verjaar, op 6 April, ’n vreemde ervaring.

Ons gebruik enigiets wat op die internet beskikbaar is. Google gratis aktiwiteite, Zumba-klasse, joga ... Die kinders kyk na Jamie Oliver en is elke dag verantwoordelik vir ’n maaltyd.

Dis ’n spesiale tyd waar ons saam sit en praat en kosmaak en lag.

Daar’s druk, ek werk van die huis af en hulle doen skoolwerk. Maar ons probeer dit met speeltyd balanseer.

Thomas en Olivia moet elk ’n Covid-19-joernaal hou – wat hulle doen, dink, voel ... Nou die dag skryf Olivia in hare en alles is so positief.

“Voel jy nie gefrustreerd of kwaad nie, pla iets jou nie?” vra ek. Nee, niks, dis ’n baie gelukkige tyd vir haar. Hulle verstaan die virus, is nie angstig daaroor nie, ons het alles mooi verduidelik.

Dis lekker om te hoor my kinders geniet ons gesin se samesyn.