HASIE LEWE LANGER!

Mense wat altyd teen ’n vinnige pas loop, se kans is 20% minder om vroeg dood te gaan (onder meer aan hul hart) as die skilpaaie onder ons, volgens navorsing. Die navorsers sê die spoed waarteen jy loop, het ’n effek op jou lewensduur. Dis onafhanklik van hoeveel oefening jy kry, of wat jou liggaamsmassaindeks (LMI) is. “Vinnig loop” word deur hulle gedefinieer as 100 treë per minuut.

AHA!

Oorlede Steve Jobs, Apple se stigter, was bekend vir sy dinkskrumvergaderings – te voet! Nou wys navorsing as jy loop, is jou kreatiewe lewering tot 60% meer as jou sittende maters s’n. Die navorsers se gevolgtrekking: Loop ontsluit ’n vryvloei van idees, veral as dit buite is. Aktiwiteite wat jou gedagtes toelaat om te dwaal, moedig jou kop aan om met vernuwende idees en aha!-oomblikke vorendag te kom.

STAP OF DRAF, ALBEI WEN

As jy teen ’n matige pas stap, teenoor vinnig draf, is die gesondheidsvoordele vergelykbaar – mits jy dieselfde hoeveelheid energie verbruik, het ’n studie oor ses jaar bevind. Daar is ’n vergelykbare afname in jou risiko vir hoë bloeddruk, hoë cholesterolvlakke, diabetes en moontlik hartvatsiektes. Hoe verder, hoe beter natuurlik.

NATUURLIKE ANTIDEPRESSANT

Selfs net 12 minute se stap . . . en jy is jovialer, lewendiger, oplettender en het meer selfvertroue as die sittende jy. Indien jy boonop in die natuur loop, mymer jy minder oor negatiewe ervarings, wat aktiwiteit in die brein geassosieer met negatiewe emosies vermeerder. En daarmee saam jou risiko vir depressie.

TROEFVETSUG-GENE

Navorsers aan die Harvard-Universiteit het na 32 gene by 12 000 mense gekyk wat ’n rol by vetsug speel. Onder deelnemers aan die studie wat sowat ’n uur per dag flink stap, was die gene se uitwerking die helfte minder.