“Dit was hartverskeurend toe die Olimpiese Spele uitgestel is. Ek het so hard vir hierdie jaar en dié uitsonderlike sportgeleentheid gewerk. Alles in my lewe is aangepas om rondom die Spele as middelpunt te sentreer.”

2020 was ’n onvoorspelbare jaar van uitstel en terugslae vir Caitlin, die eerste vrouegimnas in 15 jaar wat gekwalifiseer het om Suid-Afrika by dié vierjaarlikse skouspel te verteenwoordig.

“Dit was aanvanklik ’n groot teleurstelling, maar ek is ’n optimistiese mens en hou daarvan om die positiewe in alles raak te sien. Ek beskou die uitstel van die Spele en die inperking nou as ’n geleentheid om ’n ekstra voorbereidingsjaar te wen. Dit gee my ’n hele jaar om nóg beter te word as wat ek vanjaar sou wees en daarvoor is ek baie dankbaar.”

Met die podium in Tokio in sig terwyl die volkslied weerklink, is hierdie boorling van Johannesburg gereed om haar plek op dié gesogte wêreldverhoog in te neem.

In samewerking met Sanlam het sy haar Spele-roetine regstreeks aanlyn op dieselfde datum en tyd as wat dit in Tokio sou plaasvind, tuis uitgevoer.