As sy terugkyk op haar lewe, sê aktrise en skrywer Natasha Sutherland, verwonder sy haar soms aan die mens se vermoë om oor te gee aan verandering, aan te pas, en weer te floreer. “Dis nie maklik nie. Terwyl jy daar is en dinge is vreemd, moeilik en anders, is jy emosioneel – bang, hartseer, bekommerd. Maar keer op keer, wanneer jy terugkyk, sien jy dit het jou goed gedoen. Verandering help jou groei – mits jy dit toelaat.”Maar eers moet jy deur die vuur loop, sê sy. Natasha glo nie aan“blinde positiwiteit” nie, eerder aan dankbaarheid en egtheid. “Om aan te beweeg moet jy eers voel wat jy voel, deur die moeilike tyd gaan, en dan kies om daaruit te leer en aan te gaan; om weer die sonlig saam met die donkerte te sien.”

Toe sy in 2008 geskei is, het die skryf van haar boek Bittersoet (2009) haar gehelp om die pyn te verwerk.“My lewe, my toekoms, en dié van my twee seuns, was op sy kop gedraai. Ek moes rou oor wat ek verloor het. Ek het dit een dag op ’n slag gedoen, want jy kan nie die toekoms sien of beheer terwyl dinge aan die verander is nie; dis oorweldigend.

Die skryfproses het my terselfdertyd sterker en meer weerloos laat voel. En ek dink nie ons kan dapper wees tot ons eers onsself toelaat om te erken ‘ek is bang’, ‘ek is magteloos’ of‘ ek is seer’ nie. Uiteindelik maak daardie proses die deur oop na mooier dinge. Tien jaar ná my egskeiding het ’n vrou my kom vra of ek regtig nou gelukkiger is. Sy was duidelik besig om met haar eie verandering te sukkel. Ek wou haar net ’n drukkie gee en sê ná die pyn is daar wonderlike moontlikhede, mits jy besluit om dit te verwelkom.”

Die sukses van haar boek het gelei tot motiveringspraatjies en nog boeke, en sy glo die proses van selfontdekking het van haar ’n beter aktrise gemaak. “Maar dit verg ook werk. Soms was dit ’n uitdaging om nie net te gaan lê en toe te laat dat my selfbeeld verder verswak nie – veral toe die nuus nog op lamppale was; my vernedering vir almal om te sien. Maar ek het, soms met baie moeite, dit omgedraai en as aansporing gebruik om harder te werk.”

Verandering, soos egskeiding, kan verlammend wees. Maar dis belangrik om weer op te staan. “In my praatjie ‘Courage Under Fire’ vertel ek saam met my eie storie ook ander vroue se verhale van verandering, uitdagings, oorwinning. Al gaan jy nie deur dieselfde ding nie, kan jy altyd iets uit iemand anders se verhaal leer. En dan gee dit daardie persoon se storie dikwels meer betekenis omdat hulle deur die vertel daarvan iemand kan help. So help ons almal mekaar as ons oopmaak.”

Sedertdien was daar natuurlik nog baie veranderings in haar lewe en sy weet daar kom nog. “Ek is soms verbaas oor hoe die verloop van tyd my vang; dat ek ouer word en my wêreld verander en niks gaan dit keer nie. Ek is nou 49 en my oudste studeer al; volgende gaan hy die nes verlaat. Ek hou aan werk daaraan om my angstigheid oor verandering te bestuur. My ma het altyd gesê die lewe is vol klein sterftes, wat nuwe beginne tot gevolg het. Daar is seisoene vir alles, en selfs al is die einde van een ding soms vreeslik hartseer, maak dit ook die deur oop vir nuwe dinge.”

Toe die grendeltyd in Maart aangekondig is, was Natasha juis aan die repeteer vir die eenvroustuk Shirley Valentine, wat in die Pieter Toerien- teater in Johannesburg opgevoer sou word (met druktyd was die nuwe datums nog nie bevestig nie). “Shirley is in haar middeljare en is in ’n groef – in haar huwelik, haar vriendskappe. Sy gaan dan op ’n lewensveranderende reis om haarself weer te vind.

“Gee jouself oor aan verandering, soos Shirley. As jy dit nié doen nie, is daar die gevaar dat jy vasgevang word in nostalgie, vashou aan die verlede. Laat die lewe jou verander, al is dit moeilik – wie weet watter wonders dalk vir jou voorlê.”