Dié 28-jarige Johannesburger het haar virtuele gradeplegtigheid gedurende die grendeltydperk in April met vonkelwyn in Johannesburg saam met haar ouers en die res van haar gesin gevier. In haar derde jaar as dramastudent aan die Universiteit van die Witwatersrand het sy besef hansworskuns bied haar ’n sekere vryheid, veral as vrou, om sosiale kommentaar te lewer.

“Daar is nog baie min in die geskiedenis aangeteken dat vroue narre was,” vertel sy. Vergeet die stereotipe van die hanswors met die rooi neus, groot, slap skoene en wit gesig. Moderne hansworse sluit mense in soos Rowan Atkinson (Mr. Bean), ons eie Suzelle (Julia Anastasopoulos) en Pretina, die karakter wat Klara vir haarself geskep het. Laasgenoemde is veral lief om uit die vuis uit te praat.

Dít was een van die waardevolle tegnieke wat sy in 2014 in Parys, Frankryk, by die narmeester Philippe Gaulier geleer het in ’n maand lange kursus.

Sy hou van narre se interaksie met die gehoor. Deur die nar se eskapades gee die gehoor hulself toestemming om vir hulself én die nar te lag.

“Die nar hou immers ’n spieël na ons op en ons kan so baie by hom leer – om fyn waar te neem en slim probleemoplossings te kry,” meen sy. Klara se ma, Karin, het na honderde gediggies van haar op kunswedstryde geluister, vertel sy. “My loopbaankeuse is dalk vreemd, maar my ma het my aangemoedig om my hart te volg en geglo elke mens het sy eie pad.”

Klara ontwerp tans ’n aanlyn kursus in die kuns van nar-wees en versamel materiaal vir ’n eenvroustuk – met ’n paar Covid-19-temas – wat sy later (dalk ook aanlyn) sal opvoer.

Haar eenvroustuk, You Suck! (and other inescapable truths), waarmee Pretina haar buiging gemaak het, is in 2018 vir ’n Fleur du Capteatertoekenning benoem. As verantwoordelike “grapmaker” dis sy persoonlike “worstelinge” toeganklik op en doen baie navorsing sodat Pretina die wáre “lag met ’n traan”- hanswors vergestalt.

Klara glo lag is helend. Ook nou, in coronatye. Een van haar gunstelingaanhalings behoort aan die Deense komediant Victor Borge: “Lag is die kortste afstand tussen twee mense.”