Jy het al op 15 by Kovsies se kampusradio uitgesaai. ’n Jaar later val jy toe in by OFM, die jongste aanbieder nog by ’n plaaslike kommersiële stasie. Is jy glad met die mond? 

In my laaste twee skooljare aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein het ek ’n vroegaandprogram by OFM aangebied. Ná veertien onbeskryflike jare by die radiostasie, waar ek alles – aktualiteit, sport, musiek – uitgesaai het, was ek ses jaar by Smile 90.4FM in die Moederstad. Ek’s skaam en versigtig en hou graag vergadering in my kop. Maar glo in die krag van die gesproke en geskrewe woord en dat radio mense se gedagtes positief kan beïnvloed. Ek glo ook ek het iets om te sê.

Tans is jy by die Wes-Kaapse landboudepartement as die stem van RSG Landbou. Moet jy soms hard krap vir goeie nuus, jou fokus?

Van die mees innoverende mense woon op plase. Van die mees begaafde wetenskaplikes kom met landbouoplossings vorendag wat die wêreld laat regop sit. Ek sien my programme as mini- dokumentêre produksies. Dit gaan oor veel meer as landbou en omgewingsake. Ek huil en lag tydens die saamstel daarvan en wil dit met mense deel. 

As mede-aanbieder van Ons Boere, Ons inspirasie is jy nou vóór die kameras. Is daar gewoontes wat jy moes afleer?

Landbou is sexy – mense gaan dit opnuut besef. Die mense wat ons kosmandjie volhou, is interessant en merkwaardig, met ’n groter begrip van genade as die meeste van ons. Ek is totaal en al verlief op die nag en het nogal min slaap nodig om die dag te oorleef. Ek vermoed ek sal met groter vasberadenheid moet mik om vroeër in te kruip. TV verg lang ure voor die kamera.

Besoek jy die gebaande toeristeweë as jy reis, of doen jy jou eie ding?

Ek’s lief vir snelweë én voetslaanpaadjies. En het al alleen gereis op plekke waar padborde lankal opgedroog het – sonder sein, kaart of gids. Dan het ek ook saam met massas mense gewag om tot bo-op die Empire State-gebou te rits. Die wonder van pad vat lê in die insig wat ek bykry oor my eie wêreld, ongeag die bestemming. Bestel die gereg met die mees onuitspreeklike naam, drink die plaaslike wyn, klim die hoogste stel trappe wat jy kan vind, vryf ’n vreemde hond se kop. Leer om dankie in soveel moontlik tale te sê.

Wat is jou filosofie oor oefening? Glo jy ’n mens kan daaraan verslaaf raak?

Hoe ouer ek raak, hoe verder draf ek. Ek’t ook al met die Kaapstad-fietstoer oor die Suikerbossie-heuwel gesweet. En is mal oor verhitte joga, veral bikram. Maar bowenal is oefening ’n pastorale hawe – van kop skoonmaak, vergadering hou en mediteer. Dalk is dít juis waaraan mense verslaaf raak in die lewe wat oorbelig is met ’n digitale geruis.

Ons almal beleef teleurstellings. Wat laat jou telkens opstaan, weer probeer?

Landbou het my geleer mense wat waarlik suksesvol is, moes in ’n stadium ’n bestaanskrisis trotseer – op ’n manier dit laat gaan wat hulle goed ken en oor begin. Donker wolke lig, krisisse gaan verby. Neem die moedige roete en stap die pad saam met jou pyn. Praat met iemand en moenie skuiling soek nie. Onderwerp jouself aan mentorskap en wees dankbaar vir die skatte waarop die louteringsproses jou voorberei. Teleurstellings en pyn verskerp empatie, vir ander en jouself. Ons almal is deel van iets veel groters as onsself. Jy kan altyd meer van jouself gee.

Jy kan saam met enigeen (lewend of dood) oor ’n glas wyn gesels. Wie sal dit wees?

Ek’t onlangs weer Michelangelo se skatte in Italië gaan besoek en Irving Stone se The Agony and the Ecstacy herontdek. Michelangelo was ’n wilde en eensame meester. Ek sou hom wou uitvra oor sy gewoontes, sy Godsbegrip, en sy onkonvensionele bestaan. Dinge gaan maar rof in ons land.

Hoe bly jy positief?

Ek glo vas jy kan steeds ’n wonderlike lewe en toekoms in Suid-Afrika bou. Moenie dat jou wêreldbeskouing van net een mediakanaal afhang nie. Lees, luister en kyk wyd. Omring jouself met ingeligte, oopkop mense en spits jou ore wanneer bekwame mense praat oor beleidsekerheid en verantwoordbaarheid.

Enige verband tussen jou naam en die liedjie “Eloise”?

My ma het gehou van die Barry Ryan-weergawe, veral die deel waar dinge lekker rof raak. Musiek is ’n belangrike deel van my lewe – rock ’n roll het tot in my DNS gesypel. Ook sport en diere is van kleintyd af omgee-dinge.

Eloise se gunstelinge

DRANKIE: Plaaslike boetiekwyne

FLIEK: Mulholland Drive

LIEDJIES: “Even Better Than The Real Thing” – U2

SPORTMAN/ -VROU: Springbokke/Steffi Graf

VAKANSIEBESTEMMING: New York/Die Italiaanse Amalfikus