Augustus se koue wind waai. Dit is ’n wind wat huil soos ’n mens. Dit skree met ’n aaklige stem om die hoeke van my huis en gil in die gorrelpyp van die skoorsteen af. As ek aan spoke geglo het, en ja, ek glo wél aan spoke, dan sou ek gedink het hierdie skreewind is ’n gees wat my persoonlik kom teister.

Ek is nie ’n koulike mens nie. Maar wragtie, hier met die stuiptrekkings van winter kry ek koud. En dis veral in dié tye dat ek dink aan my oupa se mooi, eenvoudige gebede wat my groot gebid en rigting gegee het. Die grootste gedeelte van my oupa se gebede was gewy aan dankie sê. Dankie, Hemelse Vader, vir kos en klere, ’n warm huis, die ontelbare voorregte wat ons so mildelik uit U hand ontvang.

My oupa en ouma het eintlik maar op die broodlyn geleef, daar was géén luukses nie, maar die dankbaarheid was altyd groot. Die res van my oupa se gebed is gewy aan deemoedige ondersteuning vir die mense wat nié so bevoorreg is soos ons nie. Oupa het gebid vir kerk en staat en die wese en die weduwees. Vir hulle wat siek en blind en kreupel is. Hy het gebid vir Christene wat onderdruk word en die verlorenes in verre en vreemde lande wat die Vader nie ken nie. En dan het hy altyd, altyd afgesluit met: “Mag U in U groot genade ook dink aan die haweloses op straat.”

Die mense op straat. Sou my oupa ooit besef het hoe groot en kompleks dié probleem is, en hoeveel groter dit nog sou word? In ons klein dorp was daar net één hawelose man. Met sy lang baard en flenterklere was hy vir al die kinders ’n skrikwekkende figuur, want dit is hy´, Kehla, wat stout kinders vang en in sy sak gooi.

Vandag weet ek dat Kehla ’n skadelose mens was. Ek weet ook dat hy op straat wóú wees, want geen poging van die welsynsorganisasies om vir hom ’n tuiste te gee het geslaag nie. Hy wóú buite wees. Dit is iets wat vir my té kompleks is om te verstaan, die behoefte van sommige mense wat op straat wil wees. Buite. Onafhanklik. Vry. Ten spyte van die ontbering.

Jare gelede was ek as skrywer betrokke by ’n humanitêre ondersteuningsgroep uit België wat die hawelose mense van Kaapstad finansieel bygestaan het. In dié proses het ek met tientalle haweloses, die bekende “bergies”, van Kaapstad gesels. Lankal al woon hulle nie meer in “die berg” nie, soos wat hulle dekades gelede gedoen het nie, hulle het stedelinge geword wat skuiling soek in die windstil stegies en stoepe van die stad.

Elkeen se lewensverhaal was uniek. Elkeen se rede waarom hy of sy op straat woon, was anders. Maar wat vir my ’n openbaring was, was dat bitter min van hulle ’n geborgde, veilige lewe in ’n huis wou hê. Watter sigeuner-geen het hulle gehad dat hulle immer maar ’n oop ruimte om hulle wou hê? Sonder kos en skuiling, maar vry.

Een oggend, tydens ’n gesprek met die groepie haweloses, was daar groot konsternasie. Hulle was almal kwaad en ontstig. Want Rebekka was weg. Rebekka, die oudste bergie

onder die groep. Rebekka met die skeurende hoes. Wat het gebeur? Olga het my vertel. Iemand, ’n man in ’n deftige kar, het Rebekka op straat sien lê. Hy het haar opgetel en hospitaal toe gevat.

Maar hoekom is julle kwaad? Die man het sy plig gedoen! Nee, het Olga gesê, Rebekka wou nie hospitaal toe gaan nie. Sy sal doodgaan daar! Die hospitaal is vol kieme van siek mense, sy wil skoon lug om haar hê. “Hoekom kan julle ons nie net uitlos nie!” het sy bitter na my gekap.

Rebekka was die volgende oggend terug op straat. Sy het haarself ontslaan. En daardie nag is sy dood. Vredig en rustig, met Tafelberg se vars bergwind wat haar saggies wieg.