Liani Jansen van Rensburg, SARIE.com-inhoudsbestuurder:

Ek maak in die begin van elke week genoeg gestoomde hoender vir ’n klomp geregte en vries dit in porsies. Ek gebruik dit dan deur die week vir ’n hele paar verskillende maaltye.

genoeg vir 4

  • 500 ml hoenderaftreksel
  • 4 hoenderborsies
  • 45 ml olyfolie
  • 30 ml fyn koljander
  • 45 ml harissa-pasta (kyk by pesto-rak)
  • 7 (300 g) preie, gesny
  • 400 ml klappermelk
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • hand vol vars koljander, fyngekap

Bring hoenderaftreksel tot kookpunt en plaas hoenderborsies in aftreksel. Posjeer 15-20 minute of tot hoender gaar is. Skep hoenderborsies uit aftreksel en vlok fyn met twee vurke. Hou aftreksel waarin hoender gaargemaak is eenkant warm. Verhit olie in skoon pot tot warm en voeg koljander en harissa-pasta by. Roerbraai 1 minuut. Voeg preie by en roerbraai 2-3 minute. Voeg gevlokte hoender by en roerbraai nog 2 minute. Gooi warm hoenderaftreksel en klappermelk by en verlaag hitte. Laat prut 8-10 minute of tot romerige sop vorm. Verwyder van hitte en geur goed met sout en peper. Roer koljander by en sit warm voor met brood.

Wenk: Stoom of posjeer ’n heel hoender tot gaar, vlok fyn en vries in porsies vir gebruik in verskeie geregte.

KYK OOK: Geroosterde groentesop

Koeskoes-slaai

Groenboontjie-en-kekerertjiebredie