Annemie Lombard, SARIE.com-redakteur:

Vir iemand wat alleen woon, is koeskoes die goue staatmaker. Jy hoef nie eens ’n stoof te hê nie! As jy water kan kook, kan jy koeskoes maak.

genoeg vir 4

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, gesny
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 x 2 cm-stuk vars gemmer, fyngerasper
  • 6 varkrepe, in blokkies gesny
  • 45 ml soet sojasous
  • hand vol koljanderblare
  • 250 ml kookwater
  • 250 ml koeskoes
  • 1 x 80 g-sak slaaiblare van jou keuse
  • 250 ml jogurt
  • 30 ml mosterdpoeier
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit olyfolie tot warm in groot braaipan. Voeg ui, knoffel, gemmer en vark by. Roerbraai ’n minuut of twee of tot vark begin verbruin. Voeg sojasous by en laat kook ’n paar minute tot vark taai en klewerig is. Terwyl vark kook, gooi kookwater oor koeskoes en laat staan eenkant tot al die vloeistof geabsorbeer is. Voeg vark en slaaiblare by koeskoes. Meng jogurt en mosterd en voeg dit ook by koeskoes-mengsel. Geur met sout en peper. Meng alles goed. Skep slaai in patroonpan (Bundt) wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Druk effens vas met agterkant van eetlepel. Keer pan om op bord en lig af. Jou slaai gaan nog mooier as op die foto lyk! Sit voor.

KYK OOK: Bobotie-frikkadelle met roomsous