genoeg vir 4

KOFTAS

  • 8 goeie gehalte-lamsworsies
  • 8 sosatiestokkies
  • 15 ml olyfolie

TAMATIESOUS

  • 40 ml olyfolie
  • 30 ml gerookte paprika
  • 1 rooi-ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap
  • 250 g kersietamaties, gehalveer
  • 1 x 400 g-blik gekapte tamaties
  • 5 ml sagte bruinsuiker
  • sout en varsgemaalde swartpeper

KOESKOES

  • 250 g koeskoes
  • 1 rooi-ui, fyngekap
  • 250 ml hoenderaftreksel
  • sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • hand vol koljanderblare, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 15 ml olyfolie
  • 100 g gevlokte amandels

KOFTAS: Verhit oond tot 180 °C. Druk vleis uit worsies. Gebruik jou hande en vorm worsies om skerp punt van sosatiestokkies. Verhit ’n braaipan tot baie warm. Smeer vleis met olie en braai bros en goudbruin aan weerskante. Plaas oop in warm oond vir 15 minute.

TAMATIESOUS: Verhit olie en paprika in ’n diep pan en braai ui, knoffel en rissie tot deurskynend. Voeg tamaties by. Geur met suiker, sout en peper. Laat prut 15 – 20 minute.

KOESKOES: Plaas koeskoes, ui en aftreksel in ’n mengbak en bedek met kleefplastiek. Laat staan 5 minute. Voeg suurlemoensap, -skil en koljander by en meng met vurk. Geur met sout en peper. Verhit olie in pan en braai amandels goudbruin. Dreineer op kombuispapier en sprinkel oor koeskoes. Skep sous op opdienbord en plaas koftas bo-op. Sit voor met koeskoes.