Die mikrogolfoond het ons lewe kom verander, insluitend myne. Van konfyt kook tot poeding bak, dit gaan alles oor hóé jy dit gebruik.

Maar jy hoef nie net jou mikrogolf te gebruik vir opwarm, kook of gaarmaak nie. Daar's 5 ánder gebruike wat jou lewe makliker sal maak.

1. Meer sap uit jou suurlemoen

Voor jy die sap uit die suurlemoen druk, plaas dit in ’n mikrogolf vir twee tot drie draaie. Die hitte wat die vrug binnedring, breek die selle met al die sap in oop. Jy kry dus meer sap uit die vrug.

WENK Die olie in die skil loop ook uit van die hitte, rasper eers die skil voor jy die sap uitdruk vir ’n geurige kombinasie!

2. Uie sonder trane

Ai, hoe haat ons dit om uie te sny of te skil, want die trane begin altyd loop. Maar volgende keer as jy weer ’n ui moet sny, plaas dit eers vir ’n minuut in die mikrogolf en laat dit afkoel. Ek het geen idee wat die rede is nie, maar glo my: dit werk. Ek het die wenk jare gelede by ’n huiswerker gekry en tot vandag toe werk dit keer op keer! Al trane wat jy gaan stort, is trane van blydskap.

3. Harde suiker word sag

Daar's altyd ’n resep of twee wat vra vir die sagte bruinsuiker wat jy nie so gereeld gebruik nie. Wanneer jy dan weer op ’n dag die houer oopmaak, sien jy dat die suiker een harde klont geraak het. Maar dis geen rede om dit weg te gooi nie. Plaas dit eenvoudig met houer al - dis te sê as die houer mikrogolfbestand is - in jou mikrogolf vir paar sekondes op hoë hitte. Die suiker sal weer sag en loperig raak. Hoekom? Daar is baie melasse in sagte suiker wat ná ’n tydjie kristalliseer. Die hitte laat die melasse weer ’n soort vloeistof word.

4. Goue heuning

Terwyl ons so van soetgoed praat: Almal van ons het al die pot heuning uit die kas gehaal en gesien dit het gekristalliseer. Geen rede vir paniek nie: Plaas eenvoudig die heuning in die mikrogolf (in ’n mikrogolfbestande houer) vir ’n paar sekondes en jy is weer reg vir ’n soet bederf. Heuning is een van die min kosse wat nie kan bederf nie, daar is selfs al heuning in grafte van Egiptenare uit die antieke tye gekry.

5. Skil knoffel sonder moeite

Ek is mal oor die geur van knoffel, maar om die knoffel te skil is ’n ander storie. Danksy die mikrogolf is die taak skielik baie makliker. Plaas die knoffelhuisies wat losgebreek is van die knol in die mikrogolf vir 15 sekondes. Die vog in die knoffel stoom en druk in die proses die skil los. Al wat jy hoef te doen is om die skil af te trek.

WENK Skil ’n klomp knoffelhuisies en hou dit in olyfolie. Dit gee die olie geur en jy kan die knoffel langer vars hou.

Lees nou

#9tot5: 2 susters leer ons hoe!

RESEP: Bruinrys-slaai